Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Springbokke haal rekordpryse
Koperspringbokke op die 3G-wildveiling. Foto’s: EMILE HENDRICKS
Die bruinrugblesbokram is gister op die 3G-wildveiling aangebied.
Unieke wit volstruise by die 3G-veiling. Foto: emile hendricks
Ribbokke loer deur ’n gat van die vraghouer waarin hulle by die 3G-wildveiling aangehou is. Foto: emile hendricks

JAN KEMPDORP. – Wildboere, afslaers en omstanders se oë het wyd gerek toe rekordpryse vir veral springbokke gister hier op die 3G-wildveiling behaal is.

Bekende wildboere het ook hul hande diep in die sakke vir skaars witsaalrugblesbokke gesteek. Rye en rye wit bakkies met nommerplate van al nege provinsies en selfs Namibië was gister by die veilingskaal in Hartsvallei geparkeer.

Die braaivleisrook het hoog gestaan en biltong is saam met koue bier by tafels vol wildgeesdriftiges uitgedeel.

Basjan, ’n drie jaar oue Kalahari-springbokram met besondere lang horings (net oor die 18 duim) en ’n besondere liggaamsbou, het R1,2 miljoen gehaal. Die verkoper is Johan Viljoen en die koper Ruan Faber.

Koffiespringbokramme van John en Mark Lake van Patterson in die Oos-Kaap is teen ongelooflike bedrae van R4 miljoen en R3,8 miljoen stuk verkoop. Die ooie is teen R340 000 stuk verkoop. Koperspringbokke het ook reserwepryse oortref.

’n Witsaalrugblesbokram is vir R5,5 miljoen en ’n ooi vir R2,6 miljoen verkoop. ’n Njalabul is ook teen ’n rekordbedrag van R1,8 miljoen van die hand gesit.

Aitjie van Wyk, logistieke bestuurder van 3G (Giant Genetic Group) en eienaar van Matopi Wild, wat die veiling aangebied het, sê hulle is baie tevrede.

“Dit het ons verwagtinge oortref. Dit was veral die springbokke wat nuwe rekordpryse behaal het. Ons rekords van verlede jaar is by verre oortref.

“Kopers weet ons diere is vooraf gekeur om sover moontlik die beste genetika vir horinglengte en -vorm, liggaamsbou en ouderdom te verkry.”

Johan Lambrechts van Postmasburg het reeds 38 jaar gelede sy eerste witsaalrugblesbok geteel.

“Ek het vier jaar gelede foto’s van my bokke in ’n landboutydskrif geplaas. Ek wou nuwe bloed in my kudde bring. Dr. Donnie van Zyl en Petrie Snyman het my gekontak en ons het diere uitgeruil.

“Ek het my eerste bok verlede jaar op ’n veiling aangebied en R850 000 gekry. In Mei vanjaar is ’n ander bok vir R4,2 miljoen verkoop. Philip Mostert en Freddie Oosterhuis van Gamevest by Thabazimbi het ’n ram op die Kirkwood-wildveiling vir R7,8 miljoen gekoop. (Dié ram is twee jaar gelede vir slegs R230 000 deur die vorige eienaar gekoop).”

Gister het hulle twee ooie, wat deur ’n witsaalrugblesbokram gedek is, asook geelblesbokooie, teen ’n gemiddelde bedrag van R500 000, gekoop.

Peter Bellingan van Tamboti Floodlands naby Mookgophong (Naboomspruit) het ’n witsaalrugblesbokram en ’n ooi van Lambrechts gekoop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.