Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stellenbosch-bylmoorde: Seun gaan by familie tuis
Die polisie het die huis afgesper waar die moorde plaasgevind het. Foto: Malani Venter

Die 20-jarige seun wat die grusame bylaanval op sy gesin op die luukse De Zalze-gholflandgoed in Stellenbosch diéweek oorleef het, gaan by familie tuis.

Don Bosman, van die prokureursfirma Klagsbrun Edelstein Bosman De Vries in Pretoria, wat as die familie se mediawoordvoerder aangewys is, het bevestig dat Henri van Breda in hierdie stadium by sy oom in Stellenbosch woon.

Hy het ligte beserings in die aanval opgedoen en volgens ’n goeie familievriend in Stellenbosch, Alex Boshoff (19), is hy Dinsdag reeds deur die polisie ondervra.

Die familie verkies dat die media nie met hom in aanraking kom nie, het Bosman gesê.

Van Breda se jonger suster, Marli (16), veg tans om haar lewe in die Vergelegen Mediclinic. Sy het ’n bylhou teen die kop gekry en haar nekslagaar was afgesny. Sy is onder 24 uur-bewaking in die hospitaal en word deur haar oom, André du Toit, ondersteun.

Marli en Henri se ouers, Martin (55) en Teresa (54), en hul ouer broer, Rudi (22), is in die aanval vermoor.

Dit is steeds nie bevestig of die gesin Maandagnag of vroeg Dinsdagoggend in hul huis vermoor is nie.

Die Van Breda’s se bure het vroeër die week aan Netwerk24 gesê hulle het geen geluide gedurende die nag gehoor nie.

Volgens die polisie is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Die ondersoekspan werk sedert Dinsdagoggend onverpoos om die moordhuis in Goskestraat vir leidrade te fynkam.

Dít is steeds onbevestig:

 waar in die huis die onderskeie lede van die gesin was toe hulle aangeval is;

 hoe laat die moorde plaasgevind het;

 wie die polisie en ambulansdienste Dinsdagoggend na die huis ontbied het; en

 of die moordwapen al gekry is.

Volgens Bosman sal die familie Donderdag om 15:00 bymekaarkom om die begrafnisreëlings te bespreek.

“Die familie is oral versprei en ons verkies om nie die plek van vergadering met die media te bespreek nie, aangesien die aangeleentheid baie sensitief is.”

■ Bosman het gesê alle nodige professionele hulp sal aan Henri verleen word ná die aanval, ​berig News24.

Hy het aan ​News24 gesê Henri se oom is “vasbeslote” om “enige professionele persone” te betrek wat deur Henri benodig word. Bosman kon nie sê of Henri al gepraat het oor die aanvalle nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.