Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Steve Hofmeyr sê hy ontstel te min
Sy doel is verset teen regering
Steve Hofmeyr Vrydag op die Aardklop-kuierkonsert, kort nadat hy ’n keurspel van volksliedjies gesing het wat ’n deel van “Die Stem” ingesluit het. Foto: Deon Raath

Die Aardklop-bestuur is “verlig” dat net honderde en nie duisende mense nie met hul hand op die bors saam met Steve Hofmeyr “Die Stem” gesing het.

​Hofmeyr het “Die Stem” Vrydagaand as deel van ’n volksliedjiekeurspel op die Aardklop-kuierkonsert in Potchefstroom gesing.

Andries Frey, uitvoerende hoof van die kunstefees, sê Aardklop skryf nie aan kunstenaars voor wat hulle mag doen nie.

Volgens hom was daar geen “waarskuwingstekens” toe Hofmeyr se vertoning, Toeka 3, goedgekeur is nie.

“Ek dink nie mense maak ’n onnodige bohaai nie. Almal is geregtig om ’n mening uit te spreek oor alle produksies wat op die fees aangebied word.

“Daar moet onthou word dat Aardklop ’n kunstefees is en nie ’n politieke byeenkoms nie,” sê Frey.

“Ek was self by die vertoning en gelukkig was daar nie massas mense wat opgestaan het en saamgesing het nie. Vir my was dit maar iets wat gekom en gegaan het. Wat wel belangrik is, is dat so iets nie ons borge moet blootstel aan onnodige kritiek nie. Hulle lewer die grootste bydrae tot die bevordering van die kunste,” sê Frey.

Hofmeyr het by navraag gesê hy voel die kunste moenie vasval in “borgskap-fascisme” nie.

“Ek salueer Aardklop omdat hulle nie vir kunstenaars voorskryf wat hul seksuele, geloof- en ideologiese voorkeure moet wees nie. En ek voel dat die borge dit ook nie kan voorskryf nie,” sê Hofmeyr.

Daar moet onthou word dat Aardklop ’n kunstefees is en nie ’n politieke byeenkoms nie
Andries Frey, uitvoerende hoof van die kunstefees,

Hy het gister by voorbaat aan Frey ’n SMS gestuur om wal te gooi en te sê dis “in elk geval net ’n hol bohaai”.

Innibos het vroeër vanjaar ná ’n soortgelyke geval gesê Hofmeyr is nie meer by dié fees welkom nie. KKNK het daarna gesê hulle gaan hom ook nie nooi nie en die hoofborg van Afrikaans is Groot moes bontstaan ná ’n openbare herrie oor Hofmeyr se singery van “Die Stem”.

Pick n Pay is nou nie meer die borg van die konsert nie.

Hofmeyr sê dit is belangrik vir kunstenaars om maatskaplike kommentaar by feeste te lewer.

“Politiek is deel daarvan. Dit is die tema van soveel produksies. As ons nie daaroor kan praat nie, gaan ons niks oorhê om te sê nie.”

Die doel is nié om die huidige volkslied te vervang nie, sê hy.

“Ek het die konteks herskryf en sing ’n gedeelte van ‘Die Stem’ saam met ander FAK-volksliedjies soos ‘Sarie Marais’. Vir my was daar nog nooit ’n mooier liefdeslied vir ’n land as ‘Die Stem’ nie.

“Ek sing dit as ’n versetlied teen die verval van standaarde.”

Gevra oor mense wat wel om emosionele redes en die verbintenis van die lied met die vorige bedeling aanstoot neem oor “Die Stem”, sê hy daardie mense moet dan ook aanstoot neem oor ander simbole soos die Uniegebou.

Sy uiteindelike doel is om hom teen die regering te verset.

“Maar dit lyk nie asof ek genoeg aanstoot gee nie. En nee, ek verset my nie teen die regering omdat hulle swart is nie, maar omdat hulle nie die werk ordentlik doen nie. As idealis is ek grondeloos teleurgesteld omdat die verwagtinge wat ons ná 1994 gehad het, nie gerealiseer het nie en ek sal aanhou hoop dat dinge kan verander. Vir almal.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.