Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘DAARDIE HOND IS SOOS MY KIND’
Swaard hang oor Soetlief
‘Daardie hond is soos my kind’
Soetlief, Appie Viviers se geliefde Rhodesiese rifrughond, lê by haar werpsel. Maltakoors is by haar gediagnoseer en die veearts beveel aan dat sy en haar werpsel van kant gemaak word. Foto: Appie Viviers
Marietjie Viviers
Appie Viviers en sy geliefde hond, Soetlief.

KAAPSTAD. – Nie nét die boervrou op ’n plaas buite Beaufort-Wes het Maltakoors by bokke gekry nie.

Die koors is ook by ’n plaaswerker, Marius Pettinger, en die boer se Rhodesiese rifrughond, Soetlief, gediagnoseer.

Appie Viviers, boer van die plaas Boeteka, 25 km buite Beaufort-Wes, het gister gesê veeartse wil sy Rhodesiese rifrughond van kant maak.

“Daardie hond is soos my kind. Sy het twee weke gelede ’n werpsel van tien kleintjies gehad, en die veearts sê hulle moet ook van kant gemaak word. Ons sal daardie brug oorsteek as ons daar kom.”

Nadat Maltakoors verlede jaar by sy vrou, Marietjie, gediagnoseer is en sy in die hospitaal behandel is, het Viviers die simptome by Pettinger waargeneem.

Lees ook:

■ ​Bokke vir brusellose getoets

■ ​Wees gereed met kwale-gids

■ ​Senekal-veeboer verloor sy stryd teen Kongo-koors

“Ek het hom op 27 Februarie dokter toe geneem en daarna is hy gediagnoseer met Maltakoors. Ons het dit vroeg opgetel, so hy is nie gehospitaliseer nie. Ek het die dag daarna na die veearts gegaan, hom van die Maltakoors vertel en aan hom gesê: ‘Kom kyk wat op my plaas aangaan’.”

Viviers se plaas is sedertdien onder kwarantyn. Finale toetse word nou op die plaas gedoen om te bepaal watter soort brusellose die diere het. Altesaam 935 bokke is onder kwarantyn en 120 is reeds uitgeslag.

“My plaas staan heeltemal stil. Ek kan nie die bokke skuif en ek kan hulle nie verkoop nie. Ek is bekommerd oor my kontantvloei. Plaas jouself in my skoene,” het Viviers gesê.

“Hulle wil hê ek moet al die bokke uitslag en die vleis vir my vat. Wat moet ek met 100 bokke se vleis doen? Niemand sal dit by my koop as ’n mens Maltakoors in dieselfde sin gebruik nie. Ek weet nie eens of ’n mens die vleis sal kan eet nie.

“Ek sukkel reeds om van my beeskalwers te verkoop oor die stigma dat daar Maltakoors op my plaas is.”

Die vrees is egter dat die virus verder kan versprei terwyl daar op die veearts se toetse gewag word.

“Hulle is besig om 800 van die bokke en 400 van die beeste stuk-stuk te toets. Net ongeveer 100 van die bokke is al getoets. Die toetse word na Pretoria gestuur en dit neem baie lank,” het Déan Gous, bestuurder van die landboukantoor in Beaufort-Wes, gesê.

“Dragtige bokke aborteer as hulle Maltakoors opdoen. Jakkalse en kraaie vreet die kleintjies en sleep dit die hele veld vol. Dit kan maklik versprei.

“Marius is orraait. Hy werk al weer op die plaas.”

Volgens Viviers toon Soetlief en die werpsel ook geen simptome van Maltakoors nie.

“Soetlief het seker per ongeluk een van die bokke se nageboortes geëet.

 ’n Mens kan die Maltakoors opdoen as jy byvoorbeeld ongepasteuriseerde melk of melkprodukte drink of eet. ’n Mens kan nie ’n ander mens met die koors aansteek nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.