Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
TB Joshua is ’n bosluis wat teer op sterwendes
Dit het hom lank gevat om te verstaan waarom Afrikaanse Calviniste TB Joshua se boodskap van bevryding aanhang, skryf Jacques Pauw.
Die “profeet” TB Joshua aan die preek in die vroeë 2000’s. Sy aanhangers glo hy kan selfs vigs genees.| Foto: Malcolm Linton

’n Bonkige Springbok-flank het 14 jaar gelede na Lagos in Nigerië vertrek met die hoop dat ’n geloofsgeneser, ’n sogenaamde “messias” uit die hart van Afrika, hom van breinkanker kan genees.

Ruben Kruger (toe 30 jaar oud), wat in 36 toetse in die Groen-en-Goud uitgedraf het, het ’n week later triomfantelik uit ­Nigerië teruggekeer en verklaar dat Temitope Balogun “TB” ­Joshua, beter bekend as “Die Profeet”, hom genees het.

Kruger het Joshua se ongelooflike storie vertel: Hoe hy tussen duisende singende, huilende en biddende kerkgangers in die ­Synagogue Church of All Nations vir hom gebid het.

Hy kon voel hoe die kankeragtige breingewas uit sy liggaam “vlug” toe Joshua dié “demoon” gebied om spore te maak. Die profeet het vir hom olie gegee om aan sy kop te vryf en het verklaar: “Jy is genees.”

“Ek drink nie meer my chemoterapie-pille nie. Ek kan nie dié gevoel aan enigeen beskryf wat dit nog nie self ervaar het nie. Dit was ’n byna ongelooflike, of sal ek eerder sê, geloofwaardige, ervaring,” het Kruger gesê.

En toe was die poorte na ­Lagos – en na Joshua – oop.

Die geloofsgeneser se jongste bekeerdes was wit en meestal Afrikaans. Hulle het die NG en Hervormde Kerk verruil vir ’n ­Nigeriese “draai-of-braai”-verlossingsboodskap.

Dit het my lank gevat om te verstaan waarom Joshua so onweerstaanbaar was vir hierdie Afrikaners. Waarom was hulle bereid om bevryding te gaan soek in ’n land wat volgens hulle besig was om in ’n poel van gierigheid, politieke verrotting en ekonomiese aftakeling te verdrink?

Nigeriese Christenskap was ligjare verwyder van die kettings en boeie van Calvinisme wat ’n gevoel van lyding, berou en vrees by hulle wakker gemaak het.

Joshua het hulle bevry, die boeie oopgesluit, die kettings losgemaak. Hy het hulle toegelaat om te aanbid met ’n vurige, uitbundige geesdrif wat voorheen as onbetaamlik beskou is.

Die nuwe “messias” was boonop swart en sy kerk was in Afrika se grootste, gekste metropool. Dit was bekoorlik en aanloklik.

Daar is derduisende soortgelyke Pinksterkerke in Lagos, en dié stad ontplof Sondae in ’n kleurvolle pandemonium wanneer die inwoners hulle in manjifieke kledingstukke tooi en na plekke van aanbidding stroom.

Joshua is onlangs deur die tydskrif Africa Report as een van die 50 invloedrykste mense in Afrika aangewys. Hy het dié kerk in die laat 1980’s met slegs agt lede gestig en sedertdien het dit verstommend gegroei, met takke wêreldwyd (daar is een in Suid-Afrika). Tienduisende stroom na eredienste. Die God-bedryf het die 52-jarige Joshua ryklik beloon en Forbes-tydskrif reken hy is sowat R170 miljoen werd.

Daar is egter min oor hom bekend, maar die kerk se webwerf beweer hy het 15 maande in sy moeder se baarmoeder gebly voordat hy in groot armoede in ’n landelike deel van Nigerië gebore is.

Die kerk het vier kampongs, en die nuutste een is naby Lagos se internasionale lughawe geleë – waar die gastehuis verlede week ineengestort het. ’n Woordvoerder van die kerk het gesê die dak van die eerste kerk is deur ’n storm afgeruk terwyl die tweede kerk deur ’n vloed weggespoel is en die derde ook vanweë ongure weer ineengestort het.

Joshua het hulle bevry, die boeie oopgesluit, die kettings losgemaak.
Die Springbok Jaco van der Westhuizen word in November 2000 in Lagos deur pastoor TB Joshua “behandel”.

Ek het ’n jaar of twee ná Kruger se terugkeer Lagos toe gevlieg om ’n dokumentêre televisieprogram te maak. Siekes, sterwendes en nuuskieriges was saam op die vlug.

Nóg ’n Springbok-rugbyspeler, Wium Basson (25), was ook saam. Hy was sterwend aan lewerkanker en sy ma, Cloeté Geldenhuys, het hom vergesel.

Ek het Joshua uitgedaag om Basson te genees terwyl ons dit verfilm. Die kerk het Basson se morfien en pynpille weggeneem. Die sterwende jong man het ondraaglike pyn verduur.

Joshua het gesê dit sal maklik wees om Basson te genees – hy het net ’n “seertjie” op sy lewer.

Tydens die diens het die siekes gesweet en hul knieë het geswig terwyl “die profeet” vir hulle gebid het. Hy het hulle beveel om hul medikasie te los en op God te vertrou.

Hy beweer hy het al honderde MIV/vigs-lyers genees – mense wat teruggekeer het na hul voorstede en dorpies en onbeskermde seks gehad het omdat hulle geglo het hulle is genees. Ek glo dis boos en krimineel en het sy bewerings op die proef gestel.

John Rindel, ’n sterwende Suid-Afrikaanse vigs-lyer, het ’n paar weke tevore by die kerk aangekom. Hy het geglo hy is genees en het sy medikasie gelos. Hy het sigbare verbetering getoon. Navorsers verwys daarna as ’n “skyngenesing”: die pasiënt ervaar tydelik verligting van pyn en ander simptome. Ná sy terugkeer in Suid-Afrika het Rindel twee onafhanklike MIV/vigs-toetse ondergaan en het positief getoets. Hy is ’n ruk later oorlede.

Ruben Kruger is in 2010 oorlede – twee maande voor sy 40ste verjaarsdag.

En Wium Basson? In die twee weke wat ons daar was, het ­Joshua vir honderde mense gebid. Sommige het aan ’n swak sekslus gely en ander wou ophou rook. Maar hy het nie vir Wium Basson, wat dit die nodigste gehad het, gebid nie. Sy verskoning was hy het nie ’n boodskap van God gekry om vir Wium te bid nie. Wium is gebroke daar weg en is ’n paar dae later oorlede.

Net voor ons terugkeer het ­Joshua vir my, die kameraman en die klankingenieur koeverte vol honderddollarnote in die hand gestop. Hy wou ons omkoop om ’n positiewe program oor hom te maak. Ons het die koeverte teruggegee.

Oproepe van kykers het ingestroom ná ons program uitgesaai is met meer bewyse van onvervulde, leë beloftes van genesing, bedrog en selfs bewerings van seksuele mishandeling.

Suid-Afrikaners en pelgrims van regoor die wêreld stroom steeds na die Church of All ­Nations. Onder hulle is die presidente van Ghana, Malawi en Zambië, die koninklike Zoeloe-familie, Winnie Madikizela-Mandela en Julius Malema.

Verlede week se ramp het pelgrims dalk tydelik ontmoedig, maar Joshua het reeds die skuld op ’n “vreemde vliegtuig” gepak. Besef mense nie die kerk is naby die lughawe en vliegtuie vlieg daagliks laag oor dié gebou nie?

Maar binnekort sal die een of ander storie oor ’n wonderwerk of wederopstanding die verbeelding van geloofsnaïewe Christene – wat wêreldwyd uitgehonger op wonderwerke wag – aangryp.

Ek verstaan die wanhoop van terminaal-siekes. My pa is aan longkanker dood en hy kon ook die reis Lagos toe aangedurf het. Ek is bly hy was nooit die slagoffer van so ’n bosluis nie, wat op die bloed van onkundiges, goedgelowiges en desperates teer. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.