Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Tant Grietjie Adams was ons almal se ouma’
Tant Grietjie in 2003 oppad (met koffer) na die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.
Tant Grietjie en (wyle) Zirk Bergh van Vredendal in 2003 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn. Foto: SHARIEF JAFFER
“My lewe is te veel om met die tong te bely of met die pen te skrywe,” sê Tant Grietjie. Foto: gsimphiwe nkwali

KAAPSTAD. – Haar lewe is te veel om met die tong te bely of met die pen te skrywe, het die legendariese Tant Grietjie, wat Dinsdag in die Harmonie-tehuis in Springbok oorlede is, op ’n dag gesê.

Dié beminde uitvoerproduk van Garies was wyd bekend vir haar riel-liedjie “Lekker ou Jan”. Die 87-jarige Magrieta Adams (haar doopnaam) het in 2011 weens swak gesondheid na Springbok verhuis.

Volgens H.T. Lottering, ondervoorsitter van Harmonie se huisbestuur, het Tant Grietjie enkele ure voor haar afsterwe nog besoekers uit Johannesburg gehad “en hulle op haar kenmerkende joviale manier ontvang”. Die ikoon se huisdrumpel in Daisystraat 59 in Mooiuitsig, Garies, word sedert Dinsdag deur dosyne simpatiseerders deurgetrap en op die sosiale media word haar heengaan betreur.

’n Susterskind en oudburgemeester van die Kamiesberg-munisipaliteit, Martin Klaase, het gesê Tant Grietjie het met bloeddrukprobleme gesukkel.

“Sy het maar van haar hart gekla, maar ek dink dit was maar die ouderdom ook.”

Hy het Dinsdagaand ’n “bakkie en ’n motor nadergeskraap om die kinders en agterkleinkinders Springbok toe te vat – om hulle se ma vir oulaas te gaan sien”. Ses van haar 13 kinders leef nog en woon in Garies.

“Die oudste seun, Hannes . . . hy is so 48, was gebroke, want hy het sy ma baie lanklaas gesien en vervoer is nie altyd daar nie. Ai, dit was maar ’n baie hartseer prentjie toe die kinders by hul ma se liggaam by Van Zyl (begrafnisondernemer in Springbok) staan.”

Tant Grietjie het verskeie toekennings in haar kleurryke lewe ontvang. Sy is onder meer in 2004 deur Dipuo Peters, destydse premier van die Noord-Kaap, as ’n ikoon vereer. Die ATKV het twee wisseltrofees vir die rieldans na haar genoem.

Die digter en ATKV-lid Elias P. Nel het gesê Tant Grietjie “sal terdeë gemis, maar ook vir altyd onthou word vir ’n gewaardeerde bydrae tot ’n soms miskende kultuur”.

Adams het destyds oor haar vertrek na Harmonie teenoor ’n joernalis opgemerk: “Onthou net, as jy my nie by die ouetehuis of die hospitaal kry nie, sal Hy my kom haal het – die Klonkie wat in die krip gelê het, wat in die stal geslaap het. Sy naam is Jesus en ek is sy worteltjie.”

  •  Die familie hou vanaand ’n vergadering om begrafnisreëlings te tref.

​Twiets:
  •  Andries Vermeulen: “Ons dierbare Tannie Grietjie van Garies ‘Lekker Ou Jan’ is pas oorlede, rus sag my antie, jy sal altyd deel wees van ons Namakwaland-stof.”
  • Steve Hofmeyr: “Tannie Grietjie van Garies sopas oorlede. Maar ou Jan sal vir ons lekker bly vir altyd. Goed rus kleine lady. Jy was ons almal se ouma.”
  • Wicus van der Merwe: “Hartseer nuus vanaand uit Namakwaland. Antie Grietjie ‘Dis ’n lekker Ou Jan’ van Garies is vanaand oorlede. Rus sag Antie...”

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.