Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tragedie op paar se 1ste dag saam
Vrou val na haar dood op Northcliff-koppie
Reddingswerkers het Saterdagnag tot laat gewerk om die lyk van Cheynne Holloway te verwyder waar sy vroeër die aand van die Northcliff-koppie in Johannesburg geval het. Sy is op die toneel dood verklaar. Foto: soek-en-reddingspan van die Berg
Cheynne Holloway (21) het baskitaar gespeel vir die musiekgroep Burning Blue. Foto: Facebook
Holloway is op die toneel dood.­ Foto: Denzil Maregele

Die eerste ontmoeting van ’n man en vrou wat op die internet kennis gemaak het, het Saterdag tragies geëindig toe die jong vrou op die Northcliff-koppie na haar dood geval het.

Cheynne Holloway (21) is op die toneel dood verklaar nadat omstanders en paramedici meer as ’n uur lank noodhulp op haar toegepas het.

“Ons was so 17:45 daar om na die sonsondergang te kyk,” het Armand Goosen, ’n ooggetuie, gesê.

Hy en sy vriendin, Zanel Schwim, het op hul gunsteling-plek gesit en gesien hoe Holloway op ’n klip op die rand van die koppie poseer met Johannesburg op die agtergrond. Holloway se vriend van Engeland, James Oliver, het foto’s van haar geneem.

“Sy het letterlik op die punt (van die koppie) gestaan en hoë bewegings gemaak. Hulle het reg oorkant ons gestaan en die ou het later sy tripod op ’n ander plek gaan opstel.”

Goosen het gesê hulle het skielik Oliver hoor skreeu: “Where is she! Where is she!”

“Hy het vir ons gesê hy het afgekyk en toe hy weer opkyk, is sy net weg.

“Hy het besef sy moes geval het en het afgeklim en na haar gesoek.”

Volgens Goosen het hy en nóg ’n man wat op die koppie was, afgestap en help soek.

“Ons het gesukkel, want dit is ’n bietjie steil. Toe ons onder kom, het sy nog asemgehaal, maar jy kon hoor haar longe is vol bloed. Sy was bewusteloos, maar jy kon hoor sy probeer asemhaal.”

Oliver, wat glo Saterdagoggend van Engeland af gevlieg het om vir haar te kom kuier, het noodhulp op haar probeer toepas.

“Hy het 20 minute tot ’n halfuur probeer CPR doen. Daar het ongelooflik baie bloed uit haar longe gekom.

“Naderhand kon hy nie meer nie en ek het hom toe gehelp. Ek het op haar bors gedruk en hy het geblaas,” het Goosen gesê.

Volgens Goosen het Oliver hulle vertel dat hulle ’n “wonderlike” dag saam gehad het en beplan het om Kaapstad te besoek.

“Dit is blykbaar die eerste keer wat hulle fisiek ontmoet het. Hulle het net deur die internet en e-mail gepraat en het glo op ’n dating site ontmoet,” het Goosen gesê.

“Hulle was nog nuwe verliefdes,” het Schwim gesê.

Sy het gesê hulle het Holloway nooit hoor skreeu nie.

“Ek dink sy het haar balans verloor. Sy het in stilte geval.”

Volgens Chitra Bodassing, woordvoerder van ER24, het Holloway sowat 20 m ver geval en talle beserings opgedoen.

Die soek-en-reddingspan van die Bergklub van Suid-Afrika is ingeroep om te help om die lyk te verwyder.

“ ’n Draagbaar is gebruik om haar teen die krans uit te trek,” het Dean van der Merwe, ook ’n woordvoerder, gesê.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, wat ook met die reddingspoging gehelp het, het gesê paramedici en reddingswerkers het tot ná middernag gewerk.

Holloway se ma, Jenni, het Sondag gesê dit is vir haar te pynlik om oor haar dogter se dood te praat.

Cheynne was die baskitaarspeler van die musiekgroep Burning Blue.

Die lede van die groep het op hul Facebook-blad geskryf hulle is platgeslaan deur haar skielike dood.

“Die mooiste, blinkste siel het ons verlaat.”

Ao. Gordon Billings, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

“Geen misdaad word vermoed nie,” het hy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.