Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Trop beeste verniel setperke van Wesselsbron se gholfbaan
Ek beplan om ’n siviele eis in te dien. Ek het sowat R10 000 se skade hierdeur gely.

WESSELSBRON. – ’n Trop beeste het die naweek groot konsternasie  op   die  President-gholfklub se  baan in die dorp veroorsaak toe die vee die setperke verniel het.

Gelukkig het dit die dag gereën en ’n potjie gholf was vir lede van die klub buite die kwessie – anders sou die baan stampvol spelers gewees het.

Marthiens Stander, baanopsigter, sê sowat 50 beeste van die omgewing het hulle Saterdagmiddag op die setperke tuisgemaak.

Hy sê hy het die polisiekantoor omstreeks 15:30 gebel met die versoek dat die beeste verwyder moet word.

Nadat Stander geen terugvoer van die polisie gekry het nie, het hy die veediefstal-eenheid van die Odendaalsrus-polisiekantoor om hulp genader.

Tot sy frustrasie was die beeste Sondagmiddag steeds op die setperke.

“Ek het Sondag omstreeks 12:00 van die kerk af gekom en gesien die beeste is steeds daar.

“Ek het toe weer die veediefstal-eenheid gebel waarna ’n polisievrou aan my belowe het om self die beeste te kom verwyder,” sê Stander.

Hy sê verder die polisievrou het Sondagmiddag laat met twee klein meisietjies by die gholfklub opgedaag.

“Sy (die polisievrou) het ’n dubbelkajuitbakkie bestuur en ek het vir haar gevra hoe sy van plan is om die beeste te verwyder.”

Ek het insp. Christo van der Berg van die Wesselsbron-polisiekantoor later die dag daarvan ingelig, waarna hy saam met veediefstal-eenheid die beeste van die setperke verwyder het.

’n Ontevrede Stander sê hy is glad nie beïndruk met hoe die polisie die voorval gehanteer het nie.

“Ek beplan om ’n siviele eis in te dien. Ek het sowat R10 000 se skade hierdeur gely.”

Johan Engelbrecht, stasiebevelvoerder van die Wesselsbron-polisiekantoor, sê die polisie het sy bes gedoen om Stander by te staan.

“Ons het meer gedoen as wat van ons verwag kan word.”

Engelbrecht sê dit is nie die polisie se taak om die beeste te verwyder nie.

Volgens Engelbrecht moes hy eerder die voorval by die verkeersafdeling aangemeld het.

Hy sê die veediefstal-eenheid hanteer sake waarin vee gesteel is.

“Ek is eintlik verbaas dat iemand van die eenheid enigsins probeer het om Stander te help,” sê Engelbrecht.

Die saak is volgens die Wesselsbron-polisiekantoor afgehandel en ’n dagvaarding om in die hof te verskyn en ’n skulderkenningsboete is aan die eienaars van die beeste uitgereik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.