Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Trotse Kovsies vier merkwaardige driekuns in sport
Kovsies se trots. Van links is die Kovsie-netbalkaptein, Karla Mostert, die Shimla-rugbykaptein, AJ Coertzen, en die Kovsie-tennisspan se kapteins, Duke Munro en Christi Potgieter, met die trofee en bekers wat hul onderskeie sportspanne die laaste pa

Wanneer ’n mens na die Universiteit van die Vrystaat (UV) se merkwaardige driekuns kyk, doen Kovsiesport beslis iets reg.

Só het Duke Munro, die Kovsie-tenniskaptein, Vrydag oor die UV se nasionale titels in tennis, netbal én rugby gesê.

En hy meen binnekort kan selfs met ’n vierde kampioenspan gespog word.

Munro is een van drie wenkapteins wat saam met hul sportspanne op ’n spesiale geleentheid op die Rooiplein op die Kovsie-kampus vereer is. Die ander kapteins is die Shimla-rugbykaptein, AJ Coertzen, en die Kovsie-netbalkaptein, Karla Mostert.

Nadat die Shimlas Maandag ’n eerste keer die Varsitybeker-reeks gewen het, kan die UV met ’n reuse-sportprestasie spog. Hy is ook die afgelope twee jaar die Varsity-netbalkampioen en sy tennisspan is reeds die afgelope agt jaar as USSA-wenner gekroon.

“Dit is goed om te sien dat die ander sportsoorte ook so goed presteer,” het Coertzen gesê.

“Dit sal lekker wees om nóg ’n sportsoort hierby te voeg.”

Die Kovsies se vroue-hokkiespan neem van 1 Mei af aan die Varsity-reeks deel en word as een van die gunstelinge beskou.

“Dit sal ’n ongelooflik goeie prestasie wees as ál vier sportsoorte gelyk die Suid-Afrikaanse trofeë kan hou,” het Munro gesê.

“Niemand kon dit nog sê nie.”

Mostert meen die ondersteuning en afrigting wat sportmanne en -vroue van die UV kry, maak sulke prestasies makliker.

Sy en haar span was bankvas agter die Shimlas en is baie trots op hulle.

Mostert het gesê om die eindstryd op Shimlapark te kon bywoon toe die tuisspan die Pukke met 63-33 verslaan het, was iets besonders.

En dit was beslis die volste wat sy Shimlapark nog in die ses jaar as ’n Kovsiestudent gesien het.

“Ons het sommer van die oefening af soontoe gestap. Net om almal op kampus Shimlapark toe te sien oortrek, was iets spesiaals,” het sy gesê.

Munro, wat bourekeningkunde aan die UV gestudeer het en nou in Johannesburg werk, moes ongelukkig op televisie na die wedstryd in sy woonstel in die Goudstad kyk.

“Dit was baie lekker. Die biltong en alles was reg. Ek het werklik van trots gebars.”

Om dié driekuns te behaal meen Munro is ’n groot prestasie.

“Dit dra baie waarde en ons moet dankbaar wees vir die afrigters, spanbestuurders en die strukture wat hier is. Die tyd wat afgestaan en die opofferings wat gedoen is, dra by tot die sukses van die spanne.

“Ek is werklik ’n baie trotse Kovsie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.