Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Valke-hoof se ‘rassegrap’ ontstel
Genl.maj. Benny Ntlemeza, waarnemende Valke-baas. Foto: Lucky Nxumalo

Groot ontevredenheid heers onder die Valke se topbestuur oor ’n “rassistiese grappie” wat genl.maj. Benny Ntlemeza, waarnemende Valke-hoof, op ’n bestuursvergadering gemaak het.

“Wanneer ek klaar is met die Valke, sal ek die enigste wit gesig oor wees,” het Ntlemeza volgens twee onafhanklike bronne drie weke gelede op die Valke se hoofkantoor-bestuursvergadering gesê.

Dit was glo ’n “grappie”, maar dit is onduidelik presies wat hy daarmee bedoel het. Veral bruin Valke-hoës het blykbaar ernstig aanstoot geneem.

Dít volg op heersende spanning in die Valke se geledere wat volgens sewe bronne “onhoudbaar” word in die aanloop tot die aanstelling van ’n nuwe nasionale Valke-hoof.

‘Regstelbesluite dalk ’n probleem’

“As ’n behoorlike oudit na die Valke se struktuur wys daar is tekortkominge, behoort dit reggestel te word. Dat iemand in ’n waarnemende hoedanigheid sulke belangrike en finale besluite neem, kan problematies wees,” sê Lawson Naidoo van die polisiewaghond Casac.

In ’n arbeidshofuitspraak in Solidariteit se saak teen die departement van korrektiewe dienste het regter Hilary Rabkin-
Naicker bevind die provinsiale en nasionale demografie moet in ag geneem word wanneer aanstellings gedoen word. Dit blyk dus genl.maj. Benny Ntlemeza se siening oor rasseregstelling is strydig met ’n hofuitspraak, het Naidoo gesê.

Solidariteit verskyn in November voor die konstitusionele hof om nóg uitsluitsel oor dié kwessie te kry, het Johan Kruger, Solidariteit-woordvoerder, gesê.

Volgens Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie, doen gerugte die ronde dat Ntlemeza toenemend “versluierde dreigemente” teenoor nie-swart Valke-lede maak.

“Hy is die onbevoegste waarnemende Valke-hoof denkbaar. Elke besluit word geneem om pres. Jacob Zuma teen vervolging te beskerm.”

Pieter Groenewald, VF+-woordvoerder oor polisie, het gesê dit blyk Ntlemeza wil van die kundigheid in die Valke ontslae raak deur polisieveterane en dié wat in die Skerpioene was te teiken. “Is hy daar met ’n politieke doel of maak hy sulke uitsprake om sy eie onkunde en onbevoegdheid weg te steek?”

– Pauli van Wyk en Leanne George

“Die ouens moet dit maar vat van wie dit kom. Benny sal altyd omstrede twak op die ingewing van die oomblik kwytraak. Sy grappies is egter onsmaaklik,” het ’n senior Valke-lid gesê.

Ntlemeza het aansoek gedoen om die pos as nasionale Valkehoof, maar het glo nie die finale kortlys gehaal nie. Hy is berug om sy siening oor “rasseregstelling” en “gelykheid” in die Valke, sy haat vir die media en vrees dat die onbenulligste inligting uit sy vergaderings kan lek.

Ntlemeza het vroeër vanjaar verklaar daar is te veel Indiër-lede in die Valke in KwaZulu-Natal, te veel bruin lede in die Wes-Kaap en te min swart lede in Gauteng.

Hy het die aankoop van Beeld en Mail & Guardian by die hoof- en provinsiale kantore verbied, het ses onafhanklike bronne met range tussen dié van kaptein en generaal gesê.

Dít volg glo ná ’n reeks stories oor Ntlemeza se onbevoegdheid vir sy pos in die tyd toe ’n hofuitspraak bevind het hy is ’n “leuenaar met bymotiewe”.

Sedertdien word selfone uit elke vergadering verbied sodat Ntlemeza nie “opgeneem kan word nie en sodat inligting nie kan uitlek nie”, het vyf onafhanklike bronne gesê.

Verder maak Ntlemeza glo jag op fluitjieblasers deur wit en bruin Afrikaanssprekende Valke-lede te teiken kort nadat Beeld “ongewilde” stories gepubliseer het. Hy beywer hom ook glo om van oudlede van die Skerpioene, asook diegene wat gesien word as “ondersteuners” van sy voorganger, lt.genl. Anwa Dramat, ontslae te raak.

Ntlemeza is in Maart in ’n waarnemende hoedanigheid aangestel nadat Dramat op omstrede wyse geboelie is om ’n goue handdruk te aanvaar.

“Dié kantoor wil nie by enige negatiwiteit betrek word nie,” het brig. Hangwani Mulaudzi, Ntlemeza se woordvoerder, gesê.

Hy het gesê die Valke is “stabiel en die moreel is hoog”.

Beeld se bronne sê egter die moreel is beslis nie hoog nie.

Mulaudzi het gesê dit is ’n “jammerte dat ons ná 20 jaar se demokrasie lede het met sulke sterk en diskriminerende menings”.

“Ons spits ons toe op die toekoms en jul bronne is die teenstanders van ontwikkeling. Die Valke maak rasse skrede in die stryd teen ernstige misdade en ons verwerp jul navraag.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.