Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Valke-hoof wil glo ander aanklaer reël
Genl.maj. Benny Ntlemeza. Foto: Felix Dlangamandla

Genl.maj. Benny Ntlemeza, waarnemende Valke-hoof, meng glo in met die beplande vervolging van ’n flambojante KwaZulu-Natalse sakeman wat bande met die Zuma-familie het.

Thoshan Panday, ’n sakevennoot van pres. Jacob Zuma se seun Edward, gaan glo vervolg word weens sy beweerde pogings om genl.maj. Johan Booysen, die provinsiale Valke-hoof, om te koop.

Drie onafhanklike bronne met kennis van die ondersoek het aan Beeld bevestig Ntlemeza het glo twee weke gelede na Durban gereis om die saak met adv. Moi­pone Noko, provinsiale direkteur van vervolging, te bespreek.

Sowel Ntlemeza as Noko ontken dat só ’n vergadering plaasgevind het.

Panday is volgens Beeld se bronne op die punt om saam met senior polisielede deur die bekende adv. Gerrie Nel vervolg te word.

“Hy is met die hand uitgesoek juis omdat hy nie buig onder druk nie. Gerrie het nie verniet die ‘bulldog’-bynaam gekry nie,” het ’n bron gesê.

Ntlemeza het Noko blykbaar in Durban gaan sien met ’n versoek dat ’n “gekose aanklaer” die saak oorneem, het Beeld se bronne gesê.

Noko het die klagte teen Panday vroeër op omstrede wyse teruggetrek, maar die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die saak ná twee onafhanklike versoeke van die Valke (toe nog onder leiding van lt.genl. Anwa Dramat) en die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat heroorweeg.

Die NVG se besluit om te vervolg is nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar Beeld se bronne het bevestig daar is reeds met Nel gekonsulteer.

“Daar was glad nie so ’n ontmoeting tussen Ntlemeza en adv. Noko op enige plek op enige tyd nie,” het Ntlemeza se woordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, gesê.

Volgens die NVG ontken Noko ook dat sy met Ntlemeza vergader het.

Panday en kol. Navin Madhoe van die polisie in Durban word ondersoek weens beweerde korrupsie, rampokkery en bedrog van sowat R60 miljoen.

Die saak sal blykbaar lei na ander hooggeplaaste polisiebevelvoerders wat ’n “korrupte verhouding” met Panday het en hom glo beskerm.

Die omkoop-saak wat die huidige twispunt is, spruit uit Booysen se ondersoek na Panday se beweerde korrupte bedrywighede.

Booysen beweer Madhoe is in 2011 deur Panday gestuur om sy stilswye te koop.

Booysen het met die NVG saamgewerk en ’n lokval vir Madhoe gestel.

Madhoe is in September 2011 gearresteer oomblikke nadat hy sowat R1,3 miljoen in Booysen se motor gesit het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.