Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Van Shell House tot Marikana: Vaarwel, Sapa, en dankie vir al die nuusdekking

Ná byna 77 jaar van deurlopende nuusdekking skakel Sapa die ligte af.

Die aankondiging laat in Februarie dat die land se enigste onafhanklike nuusdiens toemaak, het baie hartseer, skok en teleurstelling ontlok.

Werknemers het laat in Februarie in skok in die blou Sapa-raadsaal gestaan toe Mark van der Velden, redakteur, hulle vertel het van die direksie se besluit om alle werk te staak.

Sapa was allesbehalwe volmaak en baie het gekla oor die “grys kopie” wat hy soms geproduseer het, maar Sapa was betroubaar en geen ander instelling het ’n groot nasionale storie soos Sapa gedek nie.

Hannes de Wet, voormalige nuusredakteur en uitvoerende redakteur, onthou:

“Dit was 16 Augustus 2012 en platinummynwerkers by Lonmin in Marikana, Noordwes, het gestaak. Die storie het al dae lank voortgesleep.”

De Wet het in die uitvoerende redakteur se stoel gesit en ’n oog oor inkomende berigte gehou voordat hulle na die subredakteurs gestuur is toe iemand ’n telefoniese storie van Molaole Montsho (verslaggewer op die toneel) afgeneem het.

“By die eerste oogopslag het die storie nie baie interessant gelyk nie – ’n paar paragrawe om te sê die polisie en die mynwerkers skiet met skerp ammunisie op mekaar.”

De Wet het Montsho gebel.

“Montsho, is jy seker dis skerp ammunisie?”

Sy uitasem reaksie: “Ja, ek is seker. Ek tel 18 lyke.”

De Wet het die foon neergesit, by die berig gevoeg dat ’n Sapa-verslaggewer 18 lyke getel het en dit uitgestuur.

“Dié storie is deur feitlik elke groot internasionale hardenuus-organisasie gebruik omdat dit die eerste aanduiding van die dramatiese omvang van die Marikana-skietery gegee het,” het De Wet gesê.

Lees ook: ​​

​Die einde van ’n era: Nes die teleks raak Sapa ook nou stil

Dié storie is deur feitlik elke groot internasionale hardenuus-organisasie gebruik omdat dit die eerste aanduiding van die dramatiese omvang van die Marikana-skietery gegee het.

“Montsho het sy eerste berig duidelik gestuur die oomblik toe hy die skote gehoor het, selfs nog voordat die gevolge duidelik geword het. En hy het dié man geword – die BBC en ander radiostasies wêreldwyd het onderhoude met hom gevoer.”

Russell Norton, voormalige nuus- en adjunkredakteur, het op 28 Maart 1994, die dag van die skietery by Shell House (die ANC se destydse hoofkantoor) by die Sapa-kantoor in die Johannesburgse middestad aan­gekom.

Op warm somerdae is die deur oopgehou om ’n bries in te laat. “Die deur was oop en ’n hol, bulderende klank het tot in die vertrek gedring. Ons het opgekyk. ’n Tweede gebulder het regtig ons aandag getrek.

“ ‘Granate?’ het Micel Schnehage (’n verslaggewer) gevra.

“Terwyl sy ’n notaboek uit haar handsak pluk, het Schnehage gesê sy sal gou gaan kyk wat aangaan. ‘Sal nie lank wees nie. Ek weet ek doen dié week buiteland.’

“Ek het haar 15 uur later weer gesien,” het Norton gesê.

“Haar deftige kapsel was verpletter en het soos ’n hooimied gelyk. Die hoëhakskoene het dood aan hul bandjies om haar nek gehang.

“Op haar gesig ’n vervagende maniese grynslag terwyl die adrenalien afneem.”

(19 mense is weens dié skietery van ANC-veiligheidswagte op IVP-optoggangers dood.)

“Sy het haar in die oorlog gewerp en aanhoudend nuus­kopie verskaf om die drama op straat ure lank te dokumenteer.”

Dit was Sapa se aard.

Baie van die land se verslaggewers het hul loopbaan daar begin.

Sipke de Vries, voormalige nuusredakteur, was een van die karakters wat by Sapa se deure in en uit is.

Hy erken dat hy nie bekend was as ’n nuusredakteur “met groot takt of dat ek baie diplomaties was nie”.

Kort voor die 1994-verkiesing het hy ’n “onvoorspelbare” verslaggewer gestuur om oor ’n politikus se toespraak in Yeoville, Johannesburg, te berig.

Tog het geen kopie dié aand te voorskyn gekom nie.

“Die volgende oggend het ek ’n oproep van ’n vrou gekry wat gesê het sy bel namens dié verslaggewer.

“Sonder om te wag dat sy iets sê, het ek gesê: ‘Wat is die verskoning dié keer? Is hy dood of iets?’

“Die baie beheerste antwoord was: ‘Ja, om die waarheid te sê is hy gisteraand aan ’n hartaanval dood.’

“Dit het my regtig stomgeslaan en ek moes gou tot verhaal kom om ernstig om verskoning te vra. Ons het blomme na die begrafnis gestuur.”

Dinsdagaand het baie voormalige personeellede, kliënte en ander belangstellendes by Sapa se kantoor in Greenside, Johannesburg, byeengekom om Sapa te groet en te huldig.

Dit is die einde van ’n era.

Vaarwel, Sapa. Dankie vir die nuus. 

Sapa, in ’n laaste berig Dinsdag 24:00 (verkort)

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.