Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verkeersbeampte toe gejaag ná tref en trap
Al was dit net ’n stukkende syspieëltjie en 'n paar skrape aan sy motor, het Thinus van Rooyen van Despatch besluit om die verkeerspatrolliemotor  agterna te sit omdat die bestuurder nie ná die ongeluk stilgehou het nie. Foto

PORT ELIZABETH. –  Dié keer was dit ’n agterstevoor storie – ’n motoris wat ’n verkéérsbeampte teen 215 km/h op die snelweg agternasit.

Die “oortreding?” Die verkeersbeampte het na bewering met sy ampsmotor die lid van die publiek se motor gestamp en toe probeer wegkom...

Thinus van Rooyen, inwoner van Despatch, se stem het Maandag nog van ergenis gebewe toe hy van die voorval vertel.

Hy en ander motoriste het op Werkersdag by die Dulux-kruising op die Uitenhagepad gestaan en wag dat ’n blouligbrigade verbykom toe dié betrokke verkeerspatrolliemotor, met flitsende blou ligte  maar geen sirene nie, verbysnel.

“Maar toe ry die bestuurder ’n mangat raak en met die swaai stamp hy my motor... en hy hou aan ry.”

Van Rooyen het besluit om dié motor agterna te sit om die vlootnommer te kry sodat die beampte uitgeken kan word.

“Goed, net die syspieëltjie van my motor is gebreek en daar is ’n paar skraapmerke  op die bakwerk, maar wat reg is, is reg. Dit gaan oor die beginsel van die saak. ’n Verkeersbeampte kan nie ’n tref en trapper wees nie. Niemand is bo die wet verhewe nie," het Van Rooyen verduidelik.

Op die N2 nader aan Port Elizabeth, het van Rooyen se GPS al gewys hy ry teen 215 km/h, maar hy het bly lepel trap tot hy naby genoeg was om die verkeersmotor se vlootnommer te kry.

Daarna het sy agtervolging gestaak en 'n klagte die Algoapark-polisie aanhangig gemaak.

Die polisie het uitgevind wie in die bestuurder van die betrokke ampsmotor is en die beampte na die kantoor ontbied.

“Toe hy daar aankom, vra hy my of ek die bestuurder van die silwer motor is. Ek sê toe ja, waarop hy omgedraai en iets vir die polisieman gesê het. Hy wou nie sy naam of woonadres verskaf nie.”

Aan Van Rooyen het hy glo gesê: “Ek het beter dinge om te doen as om my oor te bekommer.”

Dié opmerking was die laaste strooi vir Van Rooyen. “Ek wou die antwoorde fisiek uit hom kry, maar toe keer die polisiebeampte my en daar ry die man,” het 'n duidelik ontstoke Van Rooyen an Die Burger vertel.

Koos Visagie, assistent-direkteur: wetstoepassing van die verkeersdepartement, het bevestig die voorval is onder sy departement se aandag gebring is. Die naam van die betrokke verkeersbeampte is nie bekendgemaak nie.

“Ons is besig met die ondersoek en indien die bevinding is dat enige ongerymdheid plaasgevind het, sal daar opgetree word.”


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.