Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
2 wyke in Nelson Mandelabaai hou tussenverkiesing

Sommige inwoners van Port Elizabeth het Woensdag weer hul kruisies op stembriewe getrek, dié keer in ’n tussenverkiesing.

Inwoners van wyk 35 en wyk 37 in Port Elizabeth se noordelike voorstede moes Woensdag besluit wie hul nuwe raadslede gaan wees.

Die tussenverkiesing kom nadat Trevor Louw (wyk 35) en Neville Higgins (wyk 37) verlede jaar hul rug op die DA gedraai het.

Johannes William Fourie (77) het in Chatty in wyk 35 gestem. Foto’s: Lynn Williams

Louw en Higgens se setels in die raad van Nelson Mandelabaai is Woensdag deur kandidate van die ANC,

die DA, die ACDP, die PA en die SRWP betwis.

Die tussenverkiesing, wat by agt stemlokale in die twee wyke plaasgevind het, het glad verloop.

Beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) wat toesig gehou het by die tussenverkiesings, het gesê geen insidente is aangemeld nie.

Die verkiesing het aanvanklik stadig begin omdat dit vir die meeste kiesers ’n gewone werkdag was.

OVK-beamptes het verwag dat kiesers ná werk sou instroom.

By die Chatty-gemeenskapsaal (wyk 35) het daar teen 12:00 slegs 169 van die 2 034 geregistreerde kiesers gestem.

Johannes William Fourie (77), wat sy kruisie by die gemeenskapsaal getrek het, het gesê hy gebruik sy reg om te kan stem, want hy is in die verlede van dié reg ontneem.

“Dit is my plig. Ek hoop dat die nuwe raadslid, wie ook al dit is, iets gaan doen aan misdaad in die gebied. Mense word dikwels beroof.

“Die gebied is verskriklik vuil. Dit sal skoongemaak moet word,” het Fourie gesê.

Die stemproses by die Strelitzia Primary School in Bloemendal, in wyk 37, het stadig verloop.

By die stemlokaal by die Strelitzia Primary School (wyk 37) het 380 kiesers teen 12:30 gestem.

Hier het beamptes van die OVK gereed gemaak om 1 500 kiesers te ontvang.

Sommige inwoners het gesê skote het vroegoggend naby die stemlokaal geklap, wat mense genoop het om weens veiligheidsredes weg te bly.

By die Tinkerbell-dagsorgsentrum (wyk 37) was inwoners dit eens dat die nuwe raadslid die onwettige storting van vullis, stukkende straatligte en misdaad moet vasvat.

Ernest Oliphant het gesê hy hoop die DA bly aan die stuur van dié wyk.

“Die enigste manier om goeie en doeltreffende dienslewering te kry, is wanneer die DA aan bewind is,” meen Oliphant.

Altesame 2 745 inwoners was by dié stemlokaal op die kieserslys. Kort voor 13:00 het 530 mense al gestem.

Die uitslae van die tussenverkiesing word na verwagting Donderdag deur die OVK bekend gemaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.