Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
ANC erken Wes-Kaapse kiesers het hom bloedneus geslaan
André Fourie, Vryheidsfront-Plus-raadslid, sê hy is bly die ANC het nie veel van ’n kans in die Kaapse stadsraad nie. Foto: Jason Felix
Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris, sê dit was vroeg duidelik die party is deur ’n groot nederlaag in die Wes-Kaap gekneus. Foto: Jason Felix

Minder as 12 uur nadat Wes-Kapenaars hul kruisies Woensdag in die felste munisipale verkiesing tot nog toe getrek het, het die ANC in die provinsie erken die verkiesingsnederlaag is weens die party se kwesbaarheid.

Donderdag teen 11:30 het die DA 220 setels en ses munisipale rade opgeraap. Die ANC het 92 setels gekry en een munisipale raad regstreeks gewen.

Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris, sê dit was vroegoggend reeds duidelik die party is deur ’n groot nederlaag gekneus.

“Ons wag nog vir die finale uitslag, maar ek kan reeds sien dat ons weer na ons strategie moet gaan kyk. Die verkiesing is sover ’n baie harde les vir die ANC, maar ons sal aangaan en hard vir die party werk,” sê hy.

Jacobs glo dat die ANC ondanks die DA se voorlopige wegholsege by die stembus steeds van sy tradisionele vestings gaan behou.

“Ons het in Hessequa baie goed gevaar en daardie munisipaliteit behou. Ek is egter teleurgesteld dat ons nie die Kaap Agulhas-munisipaliteit weer kon wen nie. Ons moet egter die nederlaag aanvaar en sal nou gaan werk om sukses in die toekoms te verseker,” sê hy.

Sover blyk dit dat die DA in die meeste munisipaliteite in die Wes-Kaap die septer gaan swaai.

Oor die ANC se uitdagings sê Jacobs: “Ek het nie verwag dat so baie mense gaan stem nie. Ons voorspelling was dat die gure weerstoestande mense sou afskrik om te gaan stem, maar dit het nie. In die munisipaliteite waar ons gewen het, het ons ook baie sterk mense gehad wat hulself doodgewerk het.”

André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid, sê hy is bly die ANC het nie veel van ’n kans in die Kaapse stadsraad nie.

“Ek is baie bly dat die ANC nie so bedrywig gaan wees nie. Ons hoop egter steeds om die DA se persentasie te sny. Ons kan nie ’n party met ’n groot meerderheid hê nie. Wat ons stemme betref, is ek vol vertroue dat ons meer stemme sal trek,” sê hy.

Roscoe Palm, EFF-kommunikasiehoof, sê die party is tevrede met die ondersteuning.

“Die ANC gaan pak kry in die verkiesing. Ek is egter bly ons geniet goeie ondersteuning, veral in die plattelandse gebiede.”

Anton Bredell, provinsiale DA-voorsitter, sê die party is verheug oor die uitslae.

“Dit wys ons party groei, ons weet daar is nog baie meer wat ons moet doen, maar ons vaar sover baie goed.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.