Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
ANC gaan pak kry oor bande met tradisionele leiers

Pres. Cyril Ramaphosa se gedienstigheid verlede Vrydag teenoor koning Goodwill Zwelithini spruit uit die ysere houvas van tradisionele leiers op die ANC-elite, sê van die land se voorste kenners van tradisionele regte.

Pres. Cyril Ramaphosa en koning Salman bin Abdulaziz al Saud van Saoedi-Arabië die afgelope week in Jeddah.Foto: Getty images

Die ANC onderskat egter hoe kwaad gewone mense weens uitbuiting en korrupsie deur tradisionele leiers is.

Tradisionele leiers is veral sterk in KwaZulu-Natal (KZN), Noordwes en Limpopo. Dit hou ten nouste verband met mynregte wat die afgelope 15 jaar aan uitverkorenes in die ANC toegestaan is in Noordwes en Limpopo. In KZN het tradisionele leiers trustgrond vir kommersiële gebruike aan elitegroepe toegeken, sê dr. Aninka Claassens, navorser in openbare reg aan die Universiteit van Kaapstad.

Sy was ook die skrywer van die hoofstuk oor grond in die verslag deur hoëvlak-kenners wat in November aanbeveel het dat Zwelithini se Ingonyama-trust ontbind word. Die trust hef huurgeld by derduisende mense wat trustgrond bewoon en bewerk.

In die verslag is selfs voorbeelde van mense wie se klein sakeondernemings gesluit is weens agterstallige “huur”.

Dis wette wat mense se basiese burgerskapregte ondermyn. Ek glo nie hulle besef hoe erg die weerstand is nie.

Die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondsake het die trustees ontbied om te verduidelik waarom verblyfreg in huurkontrakte omgeskakel word.

Regter Sipho Ngwenya, voorsitter van die trust, het onderneem om die huurkontrakte te staak, maar die trust gaan onverpoosd voort om inwoners se gebruiksregte vir hul grond in huurkontrakte om te skakel. Op die trust se webblad word openlik verklaar dat hy die grond onder sy beheer verhuur en selfs verkoop.

Zwelithini is die enigste begunstigde van die trust.

Claassens vrees die openbare verhore oor grondhervorming, wat nou na KZN skuif en van Woensdag tot Saterdag in Vryheid, Jozini, Pietermaritzburg en Kokstad gehou word, kan op geweld uitloop. “Mense sal hul lewe in gevaar stel as hulle nou, ná die uitsprake van die koning en pres. Ramaphosa, voor die portefeuljekomitee herhaal wat hulle aan die hoëvlak-paneel gesê het,” sê sy.

Meer as 10 000 mense het in 2016 en 2017 landwyd getuig voor die paneel onder voorsitterskap van oudpres. Kgalema Motlanthe.

Die Ramaphosa-bewind gaan volgens alle aanduidings ook binnekort wetgewing deur die parlement voer wat tradisionele leiers onbeperkte mag gee oor die grond waarop meer as 17 miljoen mense in die voormalige tuislande woon.

Die wetgewing boer reeds etlike jare lank in die parlement, onder meer weens vrae oor die grondwetlikheid daarvan.

“Die ergste is dié wette hervestig die magstruktuur en geografie van die ou tuislandstelsel van die apartheidsjare. Tradisionele leiers wat met die apartheidsregering saamgewerk het, kry nou weer dieselfde magte. Ander tradisionele leiers wat hulle destyds teen apartheid verset het, is deur die destydse regering ontsetel en is vandag nog verarm,” sê Claassens.

“Ek sukkel om te verstaan wat die ANC nou daarmee wil bereik, veral so kort voor ’n verkiesing. Dit is wette wat mense se basiese burgerskapregte ondermyn. Ek glo nie hulle besef hoe erg die weerstand is nie,” sê sy.

Die belangrikste is die wetsontwerp op tradisionele en Khoi-Sanleierskap wat in November deur die nasionale vergadering aanvaar en daarna na die provinsies verwys is vir konsultasie. Die wet gee tradisionele leiers volmag om grond wat hulle in trust hou, te verkoop of te vervreem sonder dat hulle die mense hoef te raadpleeg wat daarop woon.

Volgens Claassens het die proses in die provinsies tot stilstand gekom ná die hoëprofielverslag in Februarie wat die parlement gewaarsku het teen die vergrype van tradisionele leiers. “Maar die afgelope weke is dit hervat en is nou bykans voltooi. Dit moet nog net deur die nasionale raad van provinsies aanvaar word. Daarna kan die president dit onderteken.

“Die wet is duidelik in stryd met die Grondwet, maar dit gaan jare duur om dit deur die konstitusionele hof te laat skrap,” sê sy.

Tot dusver kon net die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming sulke ooreenkomste sluit, maar Gugile Nkwinti, die vorige minister, het die magte na tradisionele leiers gedelegeer, al was daar twyfel oor die regsgeldigheid daarvan.

Verskeie myne op die oostelike platinumgordel in Limpopo en Mpumalanga het só tot stand gekom ondanks bittere teenkanting van plaaslike gemeenskappe. Dis vandag brandpunte vir openbare onrus daar.

Die politieke ontleder Steven Friedman, wat ’n studie gemaak het van wetgewing oor tradisionele leiers, sê die ANC se steun in Noordwes en in die landelike KZN stort ineen. “Die ANC is bekommerd dat hy in 2019 beheer kan verloor in Noordwes en KZN. Met elke munisipale tussenverkiesing is daar swaaie weg van die ANC.

“As jy plaaslike ANC-leiers vra waarom dit gebeur, sê hulle dit is omdat mense kwaad is omdat oudpres. Jacob Zuma afgesit is, maar kyk jy na die verkiesingsuitslae, is dit duidelik die neiging het begin lank voordat Zuma uit die presidensie weg is,” sê Friedman.

“In KZN is die probleem tot die platteland beperk, waar die IVP steun bykry, maar in Noordwes is dit selfs in Rustenburg. In dié provinsie is dit omdat mense glo die tradisionele leiers werk saam met die mynbedryf,” sê Friedman.

In Noordwes het die Baloi-kommissie van ondersoek na korrupsie in die Bakgatla ba Kgafela-gemeenskap die afgelope maande  getuienis aangehoor oor miljarde rande wat die stam verloor het weens geheime kontrakte wat die stamhoof, Kgosi Nyalala Pilane, met mynmaatskappye gesluit het.

Die kommissie se verslag word binnekort verwag. Die premierskantoor word regstreeks in die ondersoek betrek.

“Die ANC het baie groot probleme in verskeie provinsies, maar dis dubbel so erg in Noordwes en KZN,” sê Friedman.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.