Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
ANC sê amptenare moet sokkies optrek

Die ANC in Limpopo het munisipale amptenare gewaarsku om hul sokkies op te trek nadat die party se steun aansienlik gedaal het in verlede week se munisipale verkiesing.

Hoewel die ANC steeds koning kraai in die meeste van Limpopo se munisipaliteite, het die party se steun van 80,59% in 2011 tot 68,75% vanjaar afgeneem.

“Dit gaan nie sake soos gewoonlik wees nie. Ons gaan harder moet werk om mense se lewe te verbeter,” het Nocks Seabi, ANC-sekretaris-generaal in Limpopo, ná ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) gesê.

Daar is op die PUK-vergadering besluit om in ANC-beheerde munisipaliteite politieke bestuurspanne aan te stel wat toesig sal hou oor die werking van munisipaliteite.

Die EFF het in verlede week se verkiesing die tweede meeste stemme, 16,73%, gekry. Die EFF het nog nie bestaan in die munisipale verkiesing van 2011 nie.

Die DA het in die derde plek geëindig met 8,06% van die stemme. Dit is ’n verbetering van 2011 se 6,52% wat die party in Limpopo gekry het.

Intussen word steeds bespiegel oor watter party die septer sal swaai in die Modimolle- (Nylstroom) en die Mookgophong- (Naboomspruit)-munisipaliteit in die Waterberg-streek van Limpopo. Dié twee dorpe, wat sowat 30 km van mekaar is, se munisipaliteite het saamgesmelt volgens ’n besluit van die Munisipale Afbakeningsraad (MAR) verlede jaar.

Die ANC het 13 van die 28 setels gekry, terwyl die DA sewe setels en die EFF ses setels het.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, kan nog nie sê of daar moontlik ’n samewerking met die EFF sal wees nie. Jossey Buthane, die EFF se sekretaris-generaal in Limpopo, swyg ook oor wat die toekoms inhou.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die EFF kan ’n belangrike en selfs deurslaggewende rol in koalisiepolitiek in die munisipaliteite speel.

Modimolle en Mookgophong word al ’n geruime tyd gereeld deur watertekorte en kragonderbrekings lamgelê. Gewelddadige betogings het vroeër vanjaar in die dorpe daaroor uitgebreek.

Die Thabazimbi-munisipaliteit is onder administrasie geplaas nadat skuldeisers hom hof toe gevat het. Dienslewering in die dorp het erg skade gely.

Die ANC het steeds tien van die dorp se 23 setels gewen en die EFF en die DA het elk vyf setels gewen. Die Thabazimbi-inwonersvereniging het twee setels gekry.

In die Polokwane-munisipaliteit het die EFF (28,2%) die DA (10,9%) as amptelike opposisie onttroon. Die ANC het steeds die meerderheid (56,42%) stemme verwerf, hoewel die party se steun van 78,65% in die munisipale verkiesing in 2011 gedaal het.

Julius Malema, EFF-leier, ’n boorling van die stad, het sy stemwyk in Seshego voor die ANC weggeraap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.