Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
ANC wil party se ‘nierassige aard’ in kandidatelyste sien

Die ANC het verskeie provinsies teruggestuur om hul benoemingslyste vir die verkiesing meer nierassig te maak.

Bathabile Dlamini, minister van vrouesake, is onder die omstrede name wat op die voorlopige na­sionale kandidatelys verskyn het.

“Ons durf nie toegewings maak wat betref die nierassige aard van die ANC nie, want ons is die mees nierassige instelling in die land,” het Zizi Kodwa, waarnemende ANC-woordvoerder, die naweek by die party se lyskonferensie in Durban gesê.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het sy kommer uitgespreek dat in ’n provinsie soos die Wes-Kaap, die meerderheid kandidate vir die parle­ment swart is en dat dit bruin kiesers kan ontstig.

Volgens Kodwa is die party nie net besorg oor wat sy leiers tevrede sal stel nie, maar hy wil kandidate hê wat sal sorg dat kiesers hul kruisie op stemdag langs die ANC sal trek.

Die top-50 name op die ANC se nasionale kandidatelys sal nie verander word nie tensy die betrokke persone gediskwalifiseer word of onttrek.

Die ANC het op die oomblik 249 setels in die parlement.

‘Die ANC kan nie aanhou maak asof daar nie ’n probleem is nie.’

ANC-leiers wat voltydse posisies in die party beklee, onder wie die sekretaris-generaal, Ace Magashule, en sy adjunk, Jessie Duarte, se name sal verwyder word as hulle die lys haal.

Bathabile Dlamini, minister van vrouesake en leier van die ANC se vroueliga, is onder die omstrede name wat op die voorlopige kandidatelys verskyn het. Ook die name van Malusi Gigaba, wat as minister en LP bedank het nadat bevind is dat hy vir die hof gelieg het, en Mike Mabuyakhulu, wat tereg staan op klagte van korrupsie, verskyn op die voorlopige lys. Optimiste in die party meen dat omstrede kandidate deur die loop van die proses van die benoemingslys verwyder sal word.

“Die ANC het duidelike standpunte oor die integriteit en geloofwaardigheid van die lys. Kiesers moet vertrou dat die kandidate eerlike mense is,” sê Kodwa.

Hy sê die party sal alle kandidate se integriteit bekyk en diegene wat in ’n hof skuldig bevind is, sal glad nie die lys haal nie.

Volgens Kodwa is die doel van die lyskonferensie wat die naweek in Durban gehou word, bloot om die provinsies se lyste te ontvang en nie om mense van die lys te verwyder nie. Die verdere keuringsproses moet nou begin waar individuele kandidate opgeweeg sal word.

Intussen het Cosatu sy kommer uitgespreek oor die ANC se beeld.

“Die ANC kan nie aanhou maak asof daar nie ’n probleem is nie, veral met die lysproses wat aan die gang is te midde van die staatskapingsondersoek,” sê Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder. Volgens hom behoort die uitslag van die munisipale regeringsverkiesings in 2016 as waarskuwing te dien dat die ANC nie net op noue partybelange moet fokus nie.

“Die ANC se miljoen lede is nie genoeg om die party te laat wen nie,” sê hy. Die ANC moet sy beeld herstel deur onder meer van omstrede kandidate op sy lyste ontslae te raak.

Volgens Pamla moet die ANC ook die “anti-intellektuele houding” van die afgelope dekade omkeer. “Die ANC moet sy kaders aanmoedig om te studeer om hul kennis uit te brei.”

Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, sê die finale kandidatelys moet wys die ANC is ’n nierassige en nieseksistiese party.

Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Verkiesing2019  |  Rasseverhoudings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.