Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
DA neem 2 wyke in NMB

Die DA in Nelson Mandelabaai het Woensdag koning gekraai in die tussenverkiesing wat in twee wyke in Port Elizabeth se noordelike voorstede gehou is.

Wyk 35 en 37 sal voortaan deur raadslede van die DA verteenwoordig word.

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die Oos-Kaap, het ná afloop van die verkiesingsuitslag gesê die DA is nou nog ’n tree nader daaraan om weer beheer oor die Nelson Mandelabaai-metro te kry.

Helga van Staaden Foto: Argief

Helga van Staaden is die nuwe wyksraadslid vir wyk 35 nadat sy daarin geslaag het om 83,3% van die stemme te wen.

Georgina Faldtman is die raadslid vir wyk 37. Sy het 55,4% van die stemme gekry.

“Onder die leiding van die ANC, die EFF en die UDM se koalisie van korrupsie het dienslewering, veral in die noordelike gebiede, tot ’n stilstand gekom.

“Die inwoners van die stad het lank genoeg gely onder die nuwe koalisie. Ons is seker dat die DA weer een van die dae aan die stuur van sake in Nelson Mandelabaai gaan wees,” sê Bhanga.

Faldtman het by navraag gesê sy het reeds begin werk maak van die versoeke van inwoners.

Georgina FaldtmanFoto: Argief

Hulle wil hê die buurte moet gereeld skoongemaak word, misdaad moet bekamp word en werkgeleenthede moet geskep word.

In Faldtman se wyk is daar meer as 24 onwettige stortingsterreine.

Sy sê sy het reeds vergaderings belê met die relevante rolspelers en die bal aan die rol gesit vir dinge om te begin gebeur.

“Vandag (Donderdag) word daar reeds in uitbreiding 31 en in Kleinskool skoongemaak.”

Faldtman gaan haar ook daarop toespits om ’n tydelike fasiliteit opgerig te kry waar mense gesondheidsdienste kan ontvang.

“Baie van die bejaarde en siek mense is nie in staat om van wyk 37 te stap na die Chatty-kliniek toe nie. Dit is onaanvaarbaar dat daar geen dienste nader aan die mense is nie.”

Nog ’n prioriteit is om speelparke vir kinders op te rig. Wyk 37 het net een speelpark naby die Strelitzia Primary School, en ook dié parkie is in ’n haglike toestand,” sê Faldtman.

Van Staaden het op ’n vorige geleentheid gesê dit gaan nie oor die individue nie, maar oor die DA se naam en die goeie dienslewering wat daarmee gepaardgaan.

Die tussenverkiesing is gehou nadat Trevor Louw en Neville Higgins in 2018 hul rug op die party gedraai het. Hul lidmaatskap van die DA is beëindig en hul setels is vakant verklaar nadat hulle begin het om teen die party in die raad te stem.

Hulle albei het die DA hof toe gesleep en aangevoer die party het nie die regte prosedure gevolg om hul lidmaatskap te beëindig nie.

Die hof het in Desember in die guns van die DA beslis.

Die hof het in Februarie ook Higgins en Louw se aansoek om appèl aan te teken, van die hand gewys.

Van Staaden en Faldtman se aanstelling as raadslede beteken dat die DA voortaan weer kan staatmaak op dié twee stemme indien daar besluite in die raad geneem moet word.

Die tussenverkiesing is deur die DA, ACDP, PA en SRWP betwis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.