Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
DA ‘verloor baie steun’

Landwye kiesersteun vir die DA is aan die afneem terwyl die ANC se steun hardnekkig vasklou aan die 60%-merk, is in die jongste peiling van die marknavorser Ipsos bevind.

2016: ’n Inwoner van Alexandra daag op by die stembus. Foto: CORNEL VAN HEERDEN

Net 14% van die respondente in die steekproef van die Ipsos-peiling het te kenne gegee hulle sal in vanjaar se verkiesing vir die DA stem.

Nie net die DA nie, maar ook ander navorsers het dié resultaat gister bevraagteken.

Die DA het in die vorige algemene verkiesing, in 2014, 22,23% van die stemme op hom verenig. In 2016 se munisipale verkiesing het die DA 26,9% van die stemme landwyd gekry.

22,23% DA-stemme in 2014

Ipsos se peiling, wat in die naweek uitgereik is, toon dat 61% van die kiesers in sy steekproef vir die regerende ANC wil stem – taamlik naby die ANC se 2014-persentasie van 62,15. Die EFF se steun in die steekproef staan op 9%, terwyl die IVP 2% van die stemme kry. Die EFF het in die 2014-verkiesing 6,35% van die stemme gekry en die IVP 2,4%.

Die jongste peiling is van 23 Oktober tot 4 Desember 2018 gedoen onder 2 744 respondente wat as kiesers geregistreer is.

Ipsos se vorige peiling in Mei verlede jaar het ook ’n groot verlies aan steun vir die DA gewys. Dié peiling het die ANC op 60%, die DA op 13% en die EFF op 7% geraam.

26,9% DA-stemme in 2016

Ipsos is destyds skerp gekritiseer oor sy metodiek, onder meer omdat dit onduidelik was of al die deelnemers in sy steekproef geregistreerde kiesers was wat beslis sou gaan stem.

Die verkiesingsontleder Dawie Scholtz het destyds gesê weens dié gebreke word die DA se werklike steun te laag geraam en die ANC en die EFF s’n te hoog.

Scholtz was nie Saterdag beskikbaar vir reaksie op die jongste peiling nie.

In die vorige Ipsos-peiling is enige deelnemer se respons gevra ongeag of die respondent ’n geregistreerde kieser was. In die jongste peiling is net mense wat geregistreer is om te stem gepeil.

In die jongste peiling is daar egter steeds 8% van die respondente wie se stemme nie aan ’n party toegewys is nie. Dit is deelnemers wat nie wou sê vir wie hulle gaan stem nie, of wat nog nie geweet het vir wie hulle gaan stem nie. Altesame 3% van die mense in die peiling het te kenne gegee hulle gaan nie stem nie.

‘Kiesers is onseker oor die DA.’

In sy laaste peiling voor die 2014-verkiesing het Ipsos die ANC op 53%, die DA op 18% en die EFF op 4% geraam. Op stemdag het die ANC 62%, die DA 22% en die EFF 6% van die stemme gekry.

Gareth van Onselen, hoof van politiek en regering by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), het gister by navraag aan Rapport gesê Ipsos het histories ’n probleem met hoe hy die DA peil. “Dis moeilik om Ipsos se metodiek te verstaan omdat hulle konstant die DA onderskat,” sê hy. Hy is ook verantwoordelik vir die IRV se navorsing oor kiesersteun vir die partye.

Volgens die IRV se jongste peiling in Desember het die ANC se steun sedert sy September-peiling met vier persentasiepunte tot 56% gestyg. Die DA se steun het met vyf persentasiepunte tot 18% gedaal, terwyl die EFF se steun met twee persentasiepunte tot 11% gedaal het.

Die IRV se blitspeiling onder 1 017 geregistreerde kiesers is tussen 26 November en 4 Desember gedoen.

Van Onselen meen die lang tydperk waaroor Ipsos se peiling gestrek het, asook die tydsberekening daarvan, kan moontlik redes wees vir die daling in steun vir die DA.

“Dit wil lyk of die Patricia de Lille- en die VBS-kwessie die redes is waarom die DA en die EFF soveel swakker vaar in Ipsos sowel as die IRV se peilings,” sê Van Onselen.

Hy meen Ipsos se peiling van die ANC se steun is dalk effe hoog, maar “tog akkuraat”, en dat die “algemene parameters” rondom die EFF se steun wel sin maak.

“Ipsos kort ook ’n manier om die geraamde opkoms van kiesers by die stembusse te peil omdat dit ’n groot verskil maak tussen die resultate van ’n peiling en die uitslae op stemdag.”

Jonathan Moakes, bestuurder van die DA se nasionale kiesveldtog, sê Ipsos se peilings is altyd “fundamenteel foutief”.

“Hulle kan op geen manier as ’n akkurate voorspelling van verkiesingsuitslae gesien word nie.

“Dit is altyd onduidelik watter metodiek Ipsos gebruik, maar die uiteindelike uitslae het in die verlede gewys dit is gebrekkig,” sê Moakes.

“Dit wil voorkom of geregistreerde én ongeregistreerde kiesers aan (vorige) peilings deelgeneem het, terwyl besluitlose kiesers nie volgens ’n geldige model toegewys is nie.”

Moakes wou nie die resultate van die DA se interne peilings bekend maak nie, maar het gesê die resultate verskil baie van Ipsos s’n. Dit raam die DA se steun hoër en die ANC s’n laer.

Mari Harris, ’n direkteur van Ipsos, sê die lae steun vir die DA in die jongste peiling kan toegeskryf word aan onsekerheid by kiesers.

Daar was in die tydperk van die peiling groot onsekerheid onder die respondente oor die DA en die kwessie van Patricia de Lille se bedanking as burgemeester in Kaapstad.

Sy gee toe dié kiesers wat as onseker gepeil is, kan wel op stemdag vir die DA stem.

Moakes sê die DA is vol vertroue dat hy op die regte pad is om sy deel van die nasionale stem in vanjaar se algemene verkiesing te laat groei, die Wes-Kaap te behou en die grootste party in Gauteng te word.

Van Onselen sê egter die DA moet “diep bekommerd” wees, want daar is geen bewyse dat dié party se kiesersteun groei nie.

“Dit is die groot toets van dié verkiesing vir die DA. As die party ná twee termyne van Jacob Zuma nie aansienlike steun bykry nie, is daar ’n probleem.”

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Meningspeiling  |  Ipsos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.