Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Doeltreffende verkiesings hang van óns af

Alle stemgeregtigdes moet help seker maak dat die integriteit van ons verkiesings behoue bly, skryf Ina Gouws.

’n Verhouding impliseer nie goeie samewerking en vriendskap nie. Dit is bloot ’n verbinding van die een of ander aard.

Die doeltreffendheid van ’n verhouding hang af van die aan- of afwesigheid van vertroue. Daarsonder sal konflik handuit ruk en samewerking onmoontlik wees.

As ’n nasie staan ons in verhoudings teenoor ons regering, ons politieke leiers, verskeie instansies en mekaar. Ons vertroue in mekaar word daagliks getoets, maar veral tydens verkiesings. Verkiesings verdeel ’n nasie outomaties of lê bestaande verdelings bloot.

Enige gesprekke oor “eenheid” laat ’n mens in hierdie tyd koud. Praat van samewerking en jy het my aandag; meer spesifiek, samewerking om vertroue in die kiesproses te bou en te beskerm.

Daar is baie wat ons verdeel en bekommer. Vertroue in die regering, politieke leiers en staatsinstansies is laag, en verhoudinge het ernstige skade opgedoen.

Verkiesings verdeel ’n nasie outomaties.

Tog is ons Suid-Afrikaners steeds geneig om na ’n “lig aan die einde van die tonnel” te soek.

Die kiesproses het wat my betref nog altyd as so ’n “lig” gekwalifiseer. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie blyk inderdaad steeds onafhanklik te wees. Probleme word redelik vinnig en daadwerklik gepak en politieke leiers maak werk daarvan om die reëls en wetgewing na te kom.

Elke stem word getel. Die uitsonderings word uitgevang en uitgewys. Ons media word nog nie verbied om te rapporteer wat hulle hoor en sien nie. Die internet en selfoondienste was nog nooit tydens verkiesings afgeskakel nie. Die proses is dus vry en regverdig.

Daar is diegene wat glo dat ons in ’n grondwetlike demokrasie ’n vrye en regverdige verkiesing as vanselfsprekend kan aanvaar. Geen Suid-Afrikaner mag egter dié fout maak nie. Ons weet almal hoe vinnig ’n proses, ’n instansie of ’n persoon verdag kan word.

Die vraag is dan: Wat sal gebeur as ons vertroue in die kiesproses verloor? Verder, wat doen ons as ons verhouding met ons verkiesings skipbreuk ly?

Die Demokratiese Republiek van die Kongo en Bangladesj was onlangs in die nuus in die aanloop tot dié lande se verkiesings. Verslae van intimidasie, geweld, stemme wat nie getel word nie en kiesamptenare wat nie vertrou kan word nie, het die nuus oorheers. In die DRK is internettoegang die dag ná die verkiesing afgeskakel en in Bangladesj is internetspoed voor die verkiesing verminder. Só is propaganda en “chaos” glo voorkom.

Gevolglik is die geloofwaardigheid van die kiesproses en die uitslae in albei lande in twyfel getrek.

Amerika worstel steeds met die gevolge van Russiese inmenging in húl verkiesing. Die konsep van fopnuus het ook kop uitgesteek. Daar is baie lande met diktatoriale regerings waar verkiesings ’n kosmetiese oefening is.

Baie faktore bepaal vertroue in ’n kiesproses, waaronder steun vir die demokrasie, verteenwoordiging, persepsies oor korrupsie, politieke ingeligtheid, mediavryheid en die geskiedenis van die instansie in beheer van die verkiesing. Teen die agtergrond wat vir die DRK, Bangladesj en Amerika geskep is, is dit duidelik dat ál hierdie vereistes (en daar is meer) vir ’n vrye en regverdige verkiesing op die een of ander wyse in gedrang gekom het.

In Suid-Afrika moet ons waaksaam wees. Ons moet daarop aandring dat alle aspekte van die OVK bo verdenking bly. Ons moet sorg dat die leiers en partye wat ons ondersteun nie kieswette oortree nie.

Ons moet sorg dat almal wat mag en wil stem by ’n stembus uitkom. Ons moet sorg dat die media vry en veilig is en dat hulle regverdig rapporteer. Ons moenie ’n vrye en regverdige verkiesingsproses as vanselfsprekend aanvaar nie.

Ons verhouding met ons regering en verskeie ander instansies is basies vernietig omdat vertroue gebreek is. Onthou daardie gevoel. Om só te voel ’n dag ná ’n onregverdige verkiesing moet ondraaglik wees.

Vergeet “eenheid” en kies samewerking. Beskerm die vertroue wat ons in die kiesproses het.

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.