Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Le Pen se teenstanders verlig ná uitslag in Nederland
Geert Wilders, verregse leier van Nederland, neem ’n selfie saam met Frankryk se verregse leier, Marine Le Pen.Foto: Reuters

Teenstanders van Marine Le Pen is verlig nadat haar bondgenoot, Geert Wilders, minder setels as wat verwag is in die Nederlandse verkiesing gewen het. Ontleders waarsku egter dit is gevaarlik om te opgewonde oor die uitslae te raak in die aanloop tot Frankryk se presidensiële verkiesing.

Hulle meen die veldtog van die verregse leier Le Pen in Frankryk is beter beplan en meer gefokus as dié van Wilders.

Nederland se premier, Mark Rutte, se beslissende oorwinning oor Wilders, wat gesê hy sal Islam in Nederland uitroei, het ander leiers in die Europese Unie (EU), wat bekommerd is oor toenemende populisme ná verlede jaar se Brexit-stem, bemoedig.

Le Pen se mededingers in die wedloop vir die presidensie was vinnig om die Nederlandse uitslag te verwelkom.

“Die deurbraak wat vir verregse partye voorspel is, is duidelik nie ’n uitgemaakte saak nie en dit blyk of die progressiewe party momentum kry,” het Emmanuel Macron gesê.

Peilings wys dat Macron, ’n onafhanklike kandidaat in Frankryk, Le Pen se Nasionale Front-party maklik in die algemene verkiesing sal klop.

François Fillon, die konserwatiewe party se kandidaat en ’n oudpremier wat onder Le Pen en Macron in die peiling is, sê die Nederlandse uitslag bewys dat meningspeilings onakkuraat is.

“Ons is almal vertel dit gaan ’n triomf vir die verregses wees, en tog het die uitslag bewys dat dit die politieke middel en gematigde konserwatiewes is wat die beste skans teen populisme en ekstremisme is.”

Pres. François Hollande het gesê die Nederlandse uitslag is ’n “duidelike sege teen ekstremisme”.

Le Pen was opvallend stil, maar haar party se sekretaris-generaal, Nicolas Bay, het daarop gewys dat Wilders wel meer setels in Nederland gewen het.

Hy meen dit was ’n “gedeeltelike oorwinning selfs al is dit nie ’n finale oorwinning nie”.

Rutte se veldtog is ongetwyfeld laat in die verkiesing ’n hupstoot gegee deur sy konfrontasie met Turkye.

Mabel Berezin, professor in sosiologie aan die Cornell Universiteit, het gesê die Franse verkiesing is die belangrikste toets van anti-establishment-sentiment in Europa.

“Dit is waar populisme momentum het en waarop ons moet fokus,” het sy gesê.

Tog meen Anna Stupnytska van Fidelity International die manier waarop die Franse presidentsverkiesing gehou word, maak dit moeilik vir verregse partye.

“Die Nederlandse verkiesing kan dus die keerpunt in die gewildheid van populisme in 2017 wees.” – Reuters

Meer oor:  Frankryk  |  Nederland  |  Marine Le Pen  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.