Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Onmin in VF Plus oor lyste vir rade
VF Plus

Daar is moeilikheid in die VF Plus in die Eden-gebied oor die afhandeling van die party se proporsionele kandidaatlyste ná die munisipale verkiesing.

Een van die kandidate, Arthur van Vuuren, eis dat ’n ondersoek gedoen word en voer aan dit kan teen die Kieswet wees.

Erika Botha-Rossouw, die VF Plus se Wes-Kaapse provinsiale sekretaris, het onlangs ’n e-pos aan sekere lede gestuur.

In die e-pos, waarvan ’n afskrif in Netwerk24 se besit is, skryf sy onder meer dat die betrokkenes sal onthou dat dr. Corné Mulder (Wes-Kaapse leier) op die kandidatevergadering en by elke geleentheid dit duidelik gemaak het dat die VF Plus in elke provinsie ’n keuse het. “Daardie keuse was om of vóór of eers ná die munisipale verkiesing ’n proporsionele lys op te stel vir elke munisipaliteit.

“Die partyraad van die VF Plus in die Wes-Kaap het van die begin af besluit om ons lyste ná die verkiesing op te stel.

“Om egter te kwalifiseer vir proporsionele stemme tydens die verkiesing, moes ons wel ’n tydelike lys met slegs een naam ingee.”

Die lede se name is “voorlopig” vir daardie doel op ’n voorlopige lys by die betrokkene se stadsraad geplaas.

Indien die kieskollege die persoon aanwys wat op die voorlopige lys is, is die saak afgehandel. Dit is nie noodwendig so dat dit die geval gaan wees nie.

“Indien iemand anders aangewys word, benodig ek ’n brief van die voorlopige plasing wat bevestig dat hy of sy nie die plasing opneem nie.”

Indien ’n persoon weier om die proses te respekteer, kan hy sy lidmaatskap van die party dadelik verloor.

Voorts lui die e-pos dat indien ’n persoon weier om die proses te respekteer, kan hy sy lidmaatskap van die party dadelik verloor, wat veroorsaak dat hy nie in ag geneem kan word vir die setel nie.

Van Vuuren, wat die tweede plek op die VF Plus se lys op Mosselbaai beklee het, het benadruk dit gaan nie oor ’n amp nie. Hy glo die party behoort aan die kiesers.

Hy wil hê die party se belange moet vooropgestel word en die party moet vernuwe. Hy het reeds beswaar gemaak oor die aangeleentheid in ’n e-pos aan Mulder.

Hy wil onder meer weet waarom die e-pos eers ná die verkiesing gestuur is en ook etlike dae nadat die uitslag van die verkiesing bekend gemaak is.

Hy vra ook dat die geldigheid van die opdrag ingevolge die Kieswet ondersoek word.

Dr. Corné Mulder. Die foto is vroeër geneem.

Mulder het by navraag gesê dit is nie ’n oortreding van die Kieswet nie. Kandidate is reeds voor die verkiesing daaroor ingelig.

Die kandidate wat op die proporsionele lys geplaas is, is nie in ’n formele proses aangewys soos in ooreenstemming met die party se prosedures.

Die voorlopige lys is “om tegniese redes” saamgestel. Om aan die verkiesing te kon deelneem, moes ’n kandidaat se naam genoem word. Hy sê ’n setel behoort aan die party en nie aan ’n kandidaat nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.