Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Op ’n mespunt

Spanning is by breekpunt oor vrese dat Woensdag se munisipale verkiesing, waarin die ANC gevaar loop om mag te verloor in drie sleutelmetrogebiede, op grootskaalse geweld kan uitloop.

Die gevaar van geweld is veral groot in KwaZulu-Natal waar minstens 14 mense, onder wie verskeie verkiesingskandidate, die laaste paar weke vermoor is.

Die weermag, wat gewoonlik in verkiesings op die agtergrond bly, is ook gereed gekry om in te gryp indien geweld losbars.

Sowat 100 000 polisielede sal by stembusse diens doen wanneer die uitslae van die verkiesing, wat volgens alle aanduidings van groot historiese belang gaan wees, bekend gemaak word.

Tot ’n week gelede het die leër minder soldate in gereedheid gebring as in enige vorige verkiesing, maar ’n generaal het vroeër die week gesê “die veiligheidsprentjie het nou verander”, berig Erika Gibson.

“Dit sou onverantwoordelik wees as ons nie voorbereid is op probleme nie. Ons is nou reg om in enige noodtoestand in te gryp sou dit ontstaan,” het hy gesê.

Verlede maand se geweld in Tshwane ná die aanwysing van Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat is ’n voorsmakie van wat kan gebeur.

’n Rekordgetal van 26,3 miljoen kiesers is geregistreer en gaan by 22 612 stembusse stem. Van hulle sal 740 000 kiesers vroeg in die week spesiale stemme kan uitbring. Die finale uitslae word teen die einde van die week of op die laatste Saterdag verwag.

In die drie groot metro’s – Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg – waar ANC gevaar loop om beheer te verloor oor begrotings ter waarde van sowat R96 miljard per jaar, is die gevaar net so groot dat geweld die verkiesing en die aankondiging van die uitslae kan ontwrig.

In KwaZulu-Natal dreig ’n volskaalse, openlike uitbarsting van geweld tussen ANC- en SAKP-lede omdat die SAKP in die ANC se interne kandidateproses uitgestoot is, luidens ’n intelligensieverslag wat die afgelope week aan Nathi Nhleko, minister van polisie, oorhandig is.

Die verslag sê dié provinsie is die land se grootste veiligheidsrisiko.

Sihle Zikalala, die premier, wat verlede jaar provinsiale voorsitter geword het ná ’n ewe spanningsvolle partykongres, is volgens ontleders heeltemal te jonk en onervare om die verskillende faksies onder beheer te hou.

Die intelligensieverslag sit uiteen hoe ANC- en SAKP-lede verlede maand op mekaar begin skiet het op Inchanga naby Pietermaritzburg. Die twee alliansievennootgroepe het voor die skietery afsonderlik vergader oor die kandidateproses, maar die ANC-groep het die SAKP later met vuurwapens aangeval. Twee mense is in die voorval dood, luidens die verslag waarvan Rapport se susterskoerant, City Press, ’n afskrif het.

Die jongste geweldslagoffer is Nceba Dywili, ’n raadslid in Nelson Mandelabaai, wat Dinsdagaand by die huis van ’n ANC-stemwerwer doodgeskiet is.

Peilings toon dat die ANC se dalende steun in stedelike gebiede ’n toenemende gevaar skep met duisende ANC-stadsraadslede wat hul salarisse en voorregte kwyt gaan wees ná die verkiesing.

Peilings toon dat die ANC in Tshwane net 50% en selfs so min as 24% van die stemme in die hoofstad kan kry.

In Nelson Mandelabaai voorspel peilings tussen 28% en 50% steun vir die regerende party en in Johannesburg tussen 31% en 50%.

Politieke ontleders is dit meestal eens dat die reuse-voorsprong wat die DA volgens baie peilings het, hopeloos oordrewe is. Die ANC-stemwerwingsmasjien is berug daarvoor dat hy eers op die laaste nippertjie vaart kry en daar is reeds aanduidings dat dit in hierdie verkiesing wéér so gaan wees.

’n Rapport-verkiesingspaneel voorspel dat, selfs al bly die ANC die grootste party in die drie betwiste metro’s, die kans steeds groot is dat hy minder as 50% van die steun sal kry.

Slegs een van ons vier paneellede voorspel dat die party in enige van dié metro’s meer as 50% sal haal – en dan ook slegs in Johannesburg. (Sien volledige berig op bl. 8).

As dié voorspellings reg is en die opposisiepartye kan saamwerk, kan dit dus beteken dat die ANC in ten minste Tshwane en Nelson Mandelabaai uitgestoot word. Verlede maand se geweld in Tshwane ná die aanwysing van Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat is ’n voorsmakie van wat dan kan gebeur.

ANC-raadslede wat mag, vet salarisse en beheer oor hul begrotings verloor, amptenare wat waarskynlik deur die nuwe stadsbestuurders afgedank gaan word en tenderpreneurs wat toegang tot munisipale koffers verloor, sal ’n uiters plofbare politieke situasie skep, meen Roland Henwood, ontleder en senior dosent in politieke studies aan die Universiteit van Pretoria.

Die ANC sal beheer verloor oor ’n begroting van R30 miljard per jaar in Tshwane, R10,9 miljard in Nelson Mandelabaai en R54,8 miljard in Johannesburg.

Parks Tau, die betreklik gewilde ANC-burgemeester van Johannesburg, het waarskynlik die beste kans om die metro vir die ANC te behou.

Daar word wyd gegis dat enige ANC-verliese in Gauteng aan pres. Jacob ­Zuma ’n verskoning sal bied om die ANC se Gautengse provinsiale komitee te ontbind.

Só kan hy van sy vernaamste teenstanders in die party ontslae raak.

“Dit is bitter ironies dat Gauteng die provinsie is waar die ANC die ergste kan seerkry, want dit is uit dié provinsie wat Zuma die ergste teenstand kan verwag op die ANC se 2017-kongres,” sê Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit.

Henwood waarsku ook dié verkiesing is die eerste waarin uitslae ernstig in twyfel getrek kan word.

“Daar was belangrike hofsake teen die Verkiesingskommissie wat die kommissie verloor het – nie net die ­sake oor die Tlokwe-tussenverkiesings nie, maar ook ander sake wat wys dat amptenare fundamentele verkiesingsbeginsels geïgnoreer het.

“Dit gee rede tot kommer, want as mense nie vertroue in die verkiesingsamptenare het nie, maak dit die deur oop vir geweld. In die Suid-Afrikaanse politieke omgewing word geweld maklik gebruik en goedgekeur – ons het geen anti-geweldskultuur nie.

“Dit is asof mense dit as normale politiek beskou,” sê Henwood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.