Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Politieke parade: Húlle vra jou stem
Patricia de Lill, DA-leier in die Wes-Kaap. Foto: Conrad Bornman

Patricia de Lille, DA-burgemeester van Kaapstad, skryf: “Gee ons die geleentheid om die gemors op te ruim.”

Aan Suid-Afrikaners wat nog nie in een van die 26 munisipaliteite onder DA-bewind woon nie: Stem vir ons en ons waarborg vooruitgang in jul munisipaliteite binne die volgende vyf jaar.

Sedert ons aan die bewind gekom het in Kaapstad, Midvaal in Gauteng en Baviaans in die Oos-Kaap het ons bewys die DA is verbind tot ’n regverdige regering wat aan almal gehaltediens lewer.

Ons maak vooruitgang deur dienslewering, skoon regering en werkskepping, en selfs die nasionale tesourie sê die Stad Kaapstad is vrygewig met sy dienste aan die armes. Inwoners van die DA-regeerde Midvaal het ook die beste toegang tot water, elektrisiteit en sanitasie in Gauteng.

Vroeër vanjaar het die regering se prestasie-indeks gewys 12 uit die 20 bes bestuurde munisipaliteite in die land word deur die DA regeer. Nege van dié was in die tien beste munisipaliteite.

Die 20 vrotste munisipaliteite word deur die ANC regeer.

Die ouditeur-generaal (OG) se mees onlangse verslag wys ook dat 73% van Wes-Kaapse munisipaliteite skoon oudits gekry het, terwyl slegs 33% van die ANC-regeerde munisipaliteite in Gauteng voldoen aan die vereistes vir goeie finansiële bestuur. In KwaZulu-Natal bereik net 30% van munisipaliteite skoon oudits.

Meer mense het ook toegang tot werk in DA-regeerde munisipaliteite as waar die ANC regeer.

In Midvaal is die werkloosheidskoers die helfte van dié in Gauteng.

Die DA-regering in Kaapstad is deursigtig en dié wat hulself skuldig maak aan korrupsie, word die deur gewys. Die DA kan dié eerlike regeringswyse ook na die res van die land uitbrei.

Ons vra dat Suid-Afrikaners ons hul stemme leen vir vyf jaar, sodat ons verandering kan bring aan stede en dorpe waar ons nie tans regeer nie.

Die DA-manifes is gegrond op die daarstel van ’n veilige, omgee-, inklusiewe en goed bestuurde stad. Ons het ’n stelsel ontwikkel waarvolgens DA-regerings vooruitgang kan maak. Ons aanbod aan kiesers is duidelik. Die DA se plan is realisties, haalbaar en toekomsgerig.

Gee ons die geleentheid om die ANC se gemors in onder andere Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai op te ruim.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+

Dr. Pieter Mulder, nasionale leier van die VF Plus, skryf: “Dit is tyd om aan te beweeg van regstellende aksie.”

Die VF Plus is die enigste party wat teen regstellende aksie opstaan en só dienslewering sal verbeter. Die VF Plus bied ook sterk teenstand en is nie skaam om jou regte in ? koalisieregering met ander partye te bevorder en beskerm nie. Dienslewering is so swak omdat mense op grond van alles behalwe meriete aangestel word.

Die VF Plus glo dit is ná 22 jaar tyd om te begin wegbeweeg van regstellende aksie  en kwotas.

Die ouditeur-generaal (OG) bevind in sy mees onlangse verslag dat 42% van munisipale amptenare in finansiële posisies nie die vaardighede het vir hul poste nie. Dit verklaar waarom 92% van alle munisipaliteite volgens hom tegnies bankrot is.

In waterbestuur is 43 000 poste vakant. Hoekom? Omdat die nodige regstellende-aksiekandidate met ingenieurs- en ander grade nie gevind kan word nie.

Die VF Plus stel voor as so ? pos nie ná 90 dae gevul is nie, regstellende aksie opgeskort word en die beste persoon vir die werk, ongeag kleur, aangestel word.

Die meeste inwoners, swart, wit en bruin, verkies dat hul water, riool en krag werk, eerder as dat die rassekwotas in die stadsraad reg is. ? Indiër-dame skryf aan my dat sy die beste aansoeker vir ? finansiële pos by ? metroraad was, maar nie die pos gekry het nie. Hoekom nie?

Omdat daar net tien poste op dié vlak is. Indiërs is 2% van die bevolking. Daarom maak rassekwotas voorsiening vir net een vyfde Indiër op daardie vlak. Sy is ? volle Indiër en kry daarom nie die pos nie. Hoe gek.

As jy glo dit is tyd om regstellende aksie en kwotas af te skaf, dan stem jy vir die VF Plus.

As jy glo daar moet steeds daarmee voortgegaan word, dan stem jy vir die ANC, DA of EFF wat dit steeds onderskryf.

Jy sal ook nie jou stem vermors as jy vir die VF Plus stem nie.

Artikel 157(3) van die Grondwet skryf voor dat jou stem nie vermors kan word nie. Daarom gaan jy in hierdie verkiesing meer as een stembrief kry.

Jou eerste stem, vir die VF Plus-kandidaat in die wyk, word by jou tweede stem vir die VF Plus op die partylys getel, ongeag of jou kandidaat in die wyk gewen of verloor het.

Die twee stemme saam bepaal dan hoeveel raadslede die VF Plus kry. Jou stem in die wyk is dus nie vermors nie.

Om in ? metro of dorp te regeer, moet ? party 51% van die stemme kry. Volgens meningspeilings gaan in die meeste metro’s geen party 51% kry nie. Partye sal dan moet saamwerk om die ANC en EFF uit te hou.

Die VF Plus was al in sulke koalisies in Kaapstad, Richardsbaai en Potchefstroom, waar ons goed saam met die DA, IVP, ACDP en kleiner partye regeer het. Maar die VF Plus sal so ? samewerking slegs oorweeg as dit tot voordeel van ons ondersteuners is.

Die ANC skryf: Niks . . .

Die party het teen druktyd nog nie gereageer op Rapport se versoek om vir ons te skryf waarom mense vir hom moet stem nie.

Nazier Paulsen Foto: JACO MARAIS

Nazier Paulsen van die EFF skryf: “Ons sukses sal gemeet word aan die getal poste wat geskep word.”

Plaaslike regerings berus op die veronderstelling dat alle burgers oor werkgeleenthede beskik, ’n huis met basiese geriewe besit en dat hulle dus in staat sal wees om eiendomsbelasting en belasting te betaal om die munisipaliteit aan die gang te hou.

Die meerderheid van munisipaliteite in Suid-Afrika beskik egter nie oor die vermoë om hul eie inkomste te genereer nie weens armoede, die hoë vlakke van werkloosheid en die tekort aan ekonomiese geleenthede.

Dit is een van die kwessies wat herbedink moet word met die doel om ’n ontwikkelingsagenda en -program te dryf wat die gaping tussen landelike en stedelike munisipaliteite kan oorbrug.

Voorts is daar in baie politieke partye probleme en individuele raadslidprobleme wat gewone burgers raak.

Alle bestaande politieke partye wat munisipaliteite bestuur, gee weinig om vir die dag tot dag-uitdagings, en in die geval van die regerende party en die DA word munisipaliteite ontbind en onder administrasie geplaas as die krisis ’n onbestuurbare vlak bereik.

Dan is daar ook raadslede wat hul gemeenskappe afskeep sodra hulle verkies word. Politieke partye het nie meganismes om hul raadslede te monitor nie, wat nog te sê van munisipaliteite.

Die EFF se plan vir plaaslike bestuur is daarop gemik om dié gebrek reg te stel. EFF-beheerde munisipaliteite en raadslede is verplig om op ’n maandelikse basis te rapporteer oor hul planne en programme om werk en diens­te aan gemeenskappe te verskaf. Die EFF-raadslede moet ook minstens een keer per maand ’n gemeenskapsvergadering hou om terug te rapporteer en kwessies aan te hoor.

In 2015 is slegs 7% van die land se begroting aan plaaslike regering toegeken. Dit verteenwoordig 27% van die totale inkomste wat plaaslike regering vereis.

Dit is in hierdie konteks dat die EFF ’n praktiese en werkbare manifes voorstel waardeur die lewens van mense kan verander, infrastruktuur ontwikkel kan word, werk geskep word en munisipale vermoë gebou word om te help met ander basiese dienste wat nie deur die plaaslike regering gelewer word nie.

Ons manifes is ’n radikale afwyking van ander manifeste omdat ons die wydverspreide armoede in die meeste van ons gemeenskappe wil oplos.

Ons sukses sal gemeet word aan die getal poste wat geskep word en die verbeterde lewens.  

 Die belangrikste van alles, is dat ons die kultuur van kaderontplooiing sal uitwis en verseker dat alle werknemers in EFF-beheerde munisipaliteite oor die toepaslike vaardighede beskik.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope Foto: LULAMA ZENZILE

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope. skryf: “Niemand kan ons mensgesentreerde benadering klop nie.”

Cope is ’n sosiaaldemokratiese party. Ons bestaan grootliks uit lede wat in die ANC grootgeword het.

Dit was toe die ANC in 2008 die pad byster geraak het dat ons besluit het om weg te breek.

Geen ander party kan ons klop in ons mensgesentreerde benadering nie. Ons duld nie pligsversuim, onbevoegdheid, verpolitisering van amptenare, korrupsie, hebsug, persoonlike verryking en skending van die Grondwet nie.

Ons raadslede moet betroubaar, verantwoordbaar en korrupsievry wees.

Waar ons regeer, sal ons ’n prokureur aanstel as ’n dienskommissaris om die mense te verteenwoordig as dienslewering nie gebeur nie en hul raadslede hulle nie help nie.

Ons belowe ook om eerlike, gekwalifiseerde en ervare personeel aan te stel. Daar sal geen kaderontplooiing wees nie.

Die toewysing van tenders sal in die openbaar geskied. Cope sal ook toesien dat die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur reg toegepas word om vermorste uitgawes te verhoed en ’n 24-uur- munisipale oproepsentrum instel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.