Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Rustenburg kry dalk EFF-burgemeester
Dr. Pieter Groenewald

Rustenburg gaan moontlik binnekort ’n EFF-burgemeester hê, maar baie water kan nog in die see loop vóór Vrydag se eerste raadsvergadering sedert die munisipale verkiesing.

Dis die enigste munisipaliteit in Noordwes waar die ANC nie ’n volstrekte meerderheid gekry het nie.

Die EFF, die DA, die Forum 4 Service Delivery (F4SD) en ander opposisiepartye in Rustenburg was teen Dinsdag nog druk aan die onderhandel oor moontlike koalisievorming om dié munisipaliteit te kan regeer, sê Herman Groenewald van die DA in Rustenburg.

“Ons onderhandel dat indien opposisiepartye met ’n koalisie kan regeer, die burgemeester uit die EFF sal kom, die hoofsweep uit die DA en die speaker uit die F4SD.”

Die ANC het 48,2% stemme in Rustenburg verower, die EFF 26,8%, die DA 15,9% en die F4SD 3,9%. Die African Independent Congress (AIC) het die grootste steun onder die kleiner partye gekry met 1,6% van die stemme, met die VF Plus kort op sy hakke met 1,2% steun.

Betty Diale, EFF-voorsitter in Noordwes, sê die EFF beplan nie om ’n koalisie met die ANC te vorm nie en het reeds met al die ander opposisiepartye oor koalisievorming in Rustenburg onderhandel. “Ons het al die partye nodig om te kan regeer.”

Opposisiepartye vergader Dinsdag laatmiddag om verder oor koalisievorming te onderhandel en besluite daaroor af te handel.

“Al die opposisiepartye behalwe die VF Plus het reeds aangedui hulle wil heel moontlik saam ’n koalisie teen die ANC vorm,” sê Groenewald.

Ons onderhandel dat indien opposisiepartye met ’n koalisie kan regeer, die burgemeester uit die EFF sal kom, die hoofsweep uit die DA en die speaker uit die F4SD

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes, het Dinsdag gesê dié party moet nog ’n finale besluit oor koalisievorming in Rustenburg neem.

Rocky Malebane-Metsing van die F4SD sê hulle is “in baie ernstige gesprekke oor koalisievorming met die DA en die EFF gewikkel”.

“Ons is hoopvol dat dit positiewe resultate sal lewer. Die ANC het ons ook genader en ons luister ook na hulle.”

Volgens Herman Groenewald het koalisie-vergaderings tot dusver baie gemoedelik verloop. “Die EFF hier is glad nie arrogant nie. Ons almal stem saam dat dienste nou tot voordeel van die gemeenskap gelewer moet word.”

Opposisiepartye sou Dinsdagmiddag ook kandidate met spesifieke vaardighede uit hul onderskeie partye voorstel om as voorsitters van portefeuljekomitees te dien.

Indien die opposisiepartye Rustenburg wel regeer, sal die EFF-burgemeester sy eie sewe personeellede kan kies, sê Herman Groenewald. “Die DA-hoofsweep sal sy drie personeellede self kan kies en die F4SD-speaker sal ook drie kan kies.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.