Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Steun dit of nie, DA se reklame werk – kenners

Of jy nou die DA se jongste reklamebord in Johannesburg as onsensitief of briljant beskou, oor een ding is ontleders seker: dit het gewerk.

Die DA-reklamebord nadat dit onder vandale deurgeloop het. Foto: Felix Dlangamandla

“Dis baie doeltreffend en ’n dapper boodskap wat die debat in ’n nuwe rigting stuur,” sê Gareth van Onselen, hoof van politiek en regering by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Volgens hom dwing die reklamebord jou om ’n kant te kies.

Die reklamebord is Woensdag in die Johannesburgse middestad onthul met die boodskap: “Die ANC maak ons dood”. Name van Life Esidimeni-, Marikana- en puttoilet-slagoffers staan onder dié boodskap.

Die reklamebord is sedert sy onthulling gekritiseer, onder meer deur van die slagoffers se familielede. Die dag nadat dit onthul is, het twee mans die bord stukkend geskeur. Familielede het volgens Netwerk24 verantwoordelikheid vir die vandalisme aanvaar.

Die boodskap is verdelend, sê Van Onselen, maar nie op ’n negatiewe manier nie.

“Dit verdeel die kiesersmark: óf jy glo die ANC maak mense dood óf jy glo dit nie. Dit is baie emosionele kwessies. Geen ander party het hierdie kwessies al só direk aangepak nie,” sê Van Onselen.

“As ’n mens teen 100 km per uur verby die bord ry, kan jy nie eens regtig sien wat die DA se boodskap is nie, maar nou is die bord die hele land vol.”

Ryan Coetzee, ’n voormalige DA-strateeg, het die afgelope week getwiet: “Het jy agtergekom niemand praat meer oor die ANC se manifes sedert die DA se reklamebord verskyn het nie?”

Chris Moerdyk, ’n onafhanklike markontleder en bemarkingskenner, sê die vandalisme het vir die reklamebord veel meer lugtyd besorg as wat dit andersins sou gekry het. “As ’n mens teen 100 km per uur verby die bord ry, kan jy nie eens regtig sien wat die DA se boodskap is nie, maar nou is die bord die hele land vol,” sê Moerdyk. “Die DA kon maar net droom om hierdie tipe publisiteit te kry.”

Christine Nxumalo, ’n woordvoerder van die komitee wat Life Esidimeni-families verteenwoordig, sê die DA het nooit toestemming gevra om die bord op te rig nie.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het die DA van “giftige politiek” beskuldig en sê hulle “versprei leuens” om kiesers bang te maak.

Die ANC het ook ’n klagte by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingedien.

Amcu, ’n mynwerkersvakbond, sê die party gebruik ’n “sensitiewe saak” om politieke punte in ’n verkiesingsjaar te probeer kry.

Die DA staan egter by sy reklamebord.

Meer oor:  Life Esidimeni  |  Da  |  Reklamebord  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.