Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Verkiesing g’n vry en regverdig, meen onafhanklikes

Bloemfontein. – Altesaam 27 van die 33 onafhanklike kandidate in die munisipale verkiesing in die Mangaung-metro (Bloemfontein, Thaba Nchu en Botshabelo) het Donderdag uit ’n vergadering van die munisipaleparty-skakelkomitee (MPSK) in die oudito­rium van die Bram Ficher-gebou in Bloemfontein geloop waar die finale verkiesingsuitslae bekend gemaak is.

Die kandidate het ook ’n mosie van wantroue teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingestel, omdat hulle nie glo die munisipale verkiesing was vry en regverdig nie. Dit is omdat die OVK nog nie hul besware oor beweerde onreëlmatighede ten tyde van die verkiesing aangehoor het nie.

Sipho Gxilisha, onafhanklike kandidaat in wyk 32 in Botshabelo, en George Dangala, onafhanklike kandidaat vir wyk 8 in Bloemside 2, sê die vergadering is deur die OVK, die metro en die MPSK gehou.

“Ons het besware binne 48 uur ná die verkiesing aangeteken oor onreëlmatighede ten tyde van die verkiesing wat nog nie aangehoor is nie.

“Daar moet eers na ons besware geluister word voordat uitslae gegee word.”

Gxilisha en Dangala beweer hul groot beswaar is dat bokse met stembriewe in twee motors in Bloemfontein gevind is. Die registrasienommers was van Noordwes. In Botshabelo is volgens hulle ’n klomp bokse met stembriewe in L-seksie in die begraafplaas gevind.

Itumeleng McDonald Mosala, onafhanklike kandidaat vir wyk 39 in Thaba Nchu, beweer ’n klomp stembriewe het ook in Thaba Nchu weggeraak.

David Maduna, onafhanklike kandidaat vir wyk 17 in Bergman Square, Mandela View en Grasland 2, sê die OVK-kantoor se deure het ANC-plakkers op.

“Solank die OVK en die ANC saamwerk, kan die verkiesing nie vry en regverdig wees nie.”

  • Itumeleng Liba, bestuurder: verkiesingsake van die OVK in die Vrystaat, het gesê gister se vergadering is gehou om finale uitslae van die verkiesing weer te gee. “Politieke partye is tevrede met die uitslae. Almal kan nie wen nie. Daar moet verloorders ook wees. Dit is net die onafhanklike kandidate wat nou ontevrede is.”

Hy sê die OVK se kommissie het reeds Saterdag die verkiesing as vry en regverdig verklaar. Die OVK het nou aan elke munisipale bestuurder die lyste van stadsraadslede se name gestuur wat gewen het. Daardie is die verkose raadslede.

“Die onafhanklike kandidate kan soveel moeilikheid maak soos hulle wil, maar dit gaan nie die uitslae verander nie.”

Liba sê die OVK dra nie kennis van al die beweerde onreëlmatighede nie, maar die pad om te volg is om besware by die kommissie se hoofkantoor in Pretoria in te dien. “Al waarvoor onafhanklike en politieke kandidate gister moes teken, was dat hulle die finale uitslae van die verkiesing op skrif ontvang het,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.