Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Verkiesings dalk uitgestel

Die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) het aanbeveel dat die land se verkiesings gesinchroniseer word om stemmery vir alle regeringsvlakke op een dag moontlik te maak.

En die EFF stem hiermee saam.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, het Vrydag gesê die voorstel is vir verdere bespreking verwys na die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat einde vandeesmaand vergader. Dit is “om die fiskus geld te spaar, want tans hou ons elke 24 maande verkiesings,” sê hy.

City Press, Rapport se susterskoerant, berig die ANC en EFF het reeds ooreengekom om volgende jaar se munisipale verkiesing uit te stel. Die DA is daarteen gekant en stem ook nie saam dat die verkiesings gesinchroniseer word nie.

‘Grondwet moet verander word.’

Art. 159 van die Grondwet lui die termyn van ’n munisipale raad is hoogstens vyf jaar. Verkiesings moet binne 90 dae ná die verstryking van die termyn – dus op die laatste op 3 November 2021 – gehou word.

“Dit kan dus nie tot 2024 uitgestel word nie,” sê prof. Dirk Kotzé, professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. “Die Grondwet sal verander moet word.”

Maandag se besluit van die NWK is geneem enkele dae voordat die konstitusionele hof Donderdag bevind het die Kieswet is ongrondwetlik in sover as wat dit verklaar dat volwasse burgers slegs tot die provinsiale wetgewers en Nasionale Vergadering verkies kan word deur hul lidmaatskap van politieke partye.

Die hof het bevind die Kieswet is strydig met art. 18 van die Grondwet, wat lui “elkeen het die reg op vryheid van assosiasie”, en art. 19(3)(b), wat bepaal “elke volwasse burger het die reg om ’n kandidaat vir ’n openbare amp te wees en, indien verkies, die amp te beklee”.

Onafhanklikes moet dus teen 2024 toegelaat word om nie net op munisipale vlak nie, maar ook op provinsiale en nasionale vlak aan verkiesings deel te neem.

Die aansoek by die konstitusionele hof is ingedien deur onder meer die New Nation Movement (NNM) nadat die hooggeregshof in Kaapstad kort voor die 2019-verkiesing hul aansoek van die hand gewys het.

Die parlement het 24 maande gekry om die Kieswet reg te stel.

Legoete sê die ANC sal ook alle voorstelle oor die hervorming van die kiesstelsel bekyk, insluitende dié van ’n taakspan onder leiding van wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert.

Die taakspan is in 2002 gevra om navorsing te doen oor ’n nuwe kiesstelsel omdat die huidige suiwer proporsionele stelsel slegs vir die eerste twee demokratiese verkiesings sou geld.

Die taakspan het in Januarie 2003 ’n “gemengde kiesstelsel” aanbeveel waar 300 lede van veellid-kiesafdelings (69) gekies word en 100 lede van ’n geslote nasionale lys om steeds proporsionaliteit te verseker.

Dié verslag is nooit aanvaar nie.

Legoete sê die hofbeslissing het verreikende implikasies. “Ons sal die hele stelsel opnuut bekyk.”

Kotzé sê Van Zyl Slabbert se voorstelle is een van die opsies.

Die voorgestelde nuwe kiesstelsel met wyke “sal egter noodlottig wees vir die kleiner partytjies met een of twee verteenwoordigers in die parlement”.

Kotzé sê of die deelname van onafhanklikes gaan bydra tot groter deelname aan verkiesings, sal afhang van die publiek se gevoel of hulle ’n groter impak gaan hê.

Politieke partye gaan wel nog steeds groot steun in dié stelsel hê, sê Kotzé.

Masego Sheburi, adjunkhoof van die Verkiesingskommissie (OVK), sê dis nou die taak van die parlement om ’n nuwe kiesstelsel te bepaal. Die OVK is gereed met tegniese bystand indien dit nodig sou wees.”

’n Strategiese bron in die OVK het Vrydag gesê dit sal nie iets nuut wees nie omdat daar reeds voorsiening gemaak word vir onafhanklike kandidate op munisipale vlak.

“Ons stel die regulasies op, wetgewing volg en dan pas ons net die stelsel aan. Ek is persoonlik taamlik opgewonde hieroor,” het die bron gesê.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, meen ook die Van Zyl Slabbert-voorstelle moet bekyk word. Venter sê die deelname van onafhanklikes gaan die verkiesingsproses meer gekompliseerd maak.

“Mense het voorheen gekla daar is te veel partye. Met die name van individue gaan die stembrief nog langer raak.”

Adv. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid, sê die neiging tans in Suid-Afrika is om vir ’n party eerder as die individu te stem.

“Maar ons het nou die stadium bereik waar meer mense nié stem nie as wat wel stem. Die getal kiesers wat in 2019 vir die ANC gestem het, was minder as dié wat nie gestem het nie.

“Dié wat dus nie stem nie, kan wel bereid wees om individue te steun.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, sê ’n nuwe kiesstelsel kan aanleiding gee tot meer direkte geografiese verteenwoordiging.

Meer oor:  Dirk Kotzé  |  Dakota Legoete  |  Verkiesingsdatum  |  Anc  |  Verkiesings  |  Eff  |  Grondwet  |  Kiesstelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.