Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing
Werkloosheid neem skerp toe, sê Msimanga

Die werkloosheidsyfer in Gauteng het die laaste paar jaar onder David Makhura, die huidige ANC-premier, met sowat 600 000 toegeneem tot 2 miljoen, maar onder ’n DA-geleide regering sal werkskepping hier ’n groot fokuspunt wees.

Só het Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng vir die algemene verkiesing op 8 Mei, Saterdag in Atteridgeville, Pretoria, gesê.

Msimanga, wat in ’n plakkershut in dié township in die weste van Pretoria grootgeword het, het die party se verkiesingsmanifes vir Gauteng op dié byeenkoms in die Saulsville-arena bekend gestel.

Die arena was stampvol.

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, praat Saterdag in Atteridgeville, Pretoria, met die bekendstelling van dié party se verkiesingsmanifes vir Gauteng. Foto: Sarel van der Walt

Mmusi Maimane, die DA-leier, het ook die byeenkoms bygewoon.

“Die dae van die ANC-regering in Gauteng is getel. Die ANC praat net, die DA doen,” het Maimane onder groot toejuiging gesê voordat hy Msimanga aan die DA-ondersteuners bekend gestel het.

Msimanga het in sy toespraak gesê indien die DA die verkiesing in dié provinsie wen, sal hy op die ekonomie fokus.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het vandeesweek met die bekendmaking van sy jongste peiling gesê die ANC se steun in Gauteng kan op 8 Mei tot onder 50% val.

Dit laat die deur oop vir moontlike koalisievorming. Die DA kan 32,4% van die stemme op hom verenig en die EFF tot 18,2%.

Msimanga het gesê ’n DA-geleide regering in Gauteng sal op die volgende kwessies fokus:

* Die beëindiging van korrupsie;

* Die skepping van werksgeleenthede;

* Die regruk van die polisiediens;

* Om dwelmmisbruik te takel; en

* Om die lewer van basiese dienste te verbeter.

Msimanga het gesê die DA het sedert hy in 2016 met die plaaslike verkiesing die beheer van Johannesburg en Tshwane oorgeneem en Midvaal behou het, “dosyne verdagte tenders” beëindig, korrupte amptenare aangekla en die grondslag gelê vir goeie en skoon regering.

Onder die ANC-regering in dié provinsie is baie mense die kans ontneem om ’n behoorlike inkomste te verdien.

Toegang tot werksgeleenthede en ondersteuning vir klein besighede was onder die ANC hoofsaaklik beperk tot familielede en vriende van ANC-lede.

Mmusi Maimane, die DA-leier, praat Saterdag in die Saulsville-arena in Atteridgeville, Pretoria, met die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes vir Gauteng. Foto: Sarel van der Walt

Baie werksgeleenthede het ook verlore gegaan weens korrupsie en agentskappe wat net daar was om die belange van die politici te dien en nie dié van die mense nie.

“Vervaardiging is aan die afneem, en toerisme onderontwikkel,” het Msimanga gesê.

Hy het ook ’n boodskap aan Gauteng se boere gehad. Op Afrikaans het hy gesê: “Ons het nie van julle vergeet nie.”

Baie van die werksgeleenthede sal deur die EPWP-werkskeppingsprojek geskep word. In Tshwane is 20 000 werksgeleenthede geskep sedert die DA en sy alliansievennote in 2016 die beheer van dié metro by die ANC oorgeneem het.

Maimane het in sy toespraak gesê dit gaan baie beter met die metro’s van Tshwane en Johannesburg sedert die DA oorgeneem het.

DA sê hy skep werk

Sedert die DA in 2016 met die hulp van sy koalisievennote die beheer van die Johannesburgse metro oorgeneem en die DA se Herman Mashaba burgemeester geword het, is 100 000 nuwe werksgeleenthede geskep.

Só het Mmusi Maimane, die DA-leier, Saterdag in Atteridgeville, Pretoria, gesê met die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes vir Pretoria.

Die verkiesing vind op 8 Mei plaas.

“Ek het ’n droom vir Gauteng en die res van Suid-Afrika en dit is dat ons minstens een werksgeleentheid vir elke huishouding skep.

“Ons sal ook seker maak die mense wat besighede wil begin, die geld sal kry om dit te doen want dit is hulle wat die werksgeleenthede sal skep,” het die DA-leier onder toejuiging gesê.

“Dit het ook tyd geword dat elke huishouding die titelaktes kry vir die huis waarin hulle woon. Elektrisiteit moet ook goedkoper word,” het Maimane gesê.

“Die DA is die enigste party wat Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe kan verenig.”

Maimane en Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, het albei gesê daar moet strenger grensbeheer wees. Mense wat onwettig die land binnekom, moet dadelik gedeporteer word.

Meer oor:  Solly Msimanga  |  Mmusi Mai­Mane  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.