Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vliegongeluk-kenner: 2 bemanningslede moet altyd in kajuit wees

Lugdienste moet in die lig van die jongste bewerings oor dit wat op die rampvlug Dinsdag van Germanwings gebeur het, onverwyld die prosedure implementeer om te alle tye minstens twee bemanningslede in die stuurkajuit te hê.

Een van dié kan ’n lugwaardin wees – solank daar net iemand is wat in ’n noodgeval die deur kan oopmaak, het Rennie van Zyl, een van Suid-Afrika se voorste vliegongelukondersoekers, Donderdag gesê.

■ Rampvlug: 'Een van die vlieëniers uitgesluit'

Van Zyl se reaksie volg ná bewerings dat een van die twee vlieëniers van dié vlug, wat met ’n lewensverlies van 150 in die Alpe neergestort het, nie weer terug in die kajuit kon kom nie omdat die deur gesluit was.

Na berig word, is dit blykbaar hoorbaar op van die vlugopnames hoe iemand kort voor die vliegtuig geval het, eers aan die deur klop en dan probeer om dit oop te dwing.

Kraak in voorruit lei dalk tot lugramp

Op dié manier kan ’n mens sonder enige verdere onkoste met slotte en toegangskodes minstens selfmoordsendings probeer verhoed.
Rennie van Zyl

Dit kan beteken dat een van die vlieëniers soortgelyk aan ’n vlug van die Mosambiekse redery LAM in 2013 besluit het om met passasiers en al in die grond vas te vlieg. Agterna is bevind dat dié vlieënier glo emosionele probleme ondervind het.

Volgens Van Zyl het Ethiopian Airlines in 2014 ná ’n kaping op een van sy vliegtuie summier die reëling ingestel dat daar altyd twee mense in die stuurkajuit moet wees.

“Op dié manier kan ’n mens sonder enige verdere onkoste met slotte en toegangskodes minstens selfmoordsendings probeer verhoed,” het Van Zyl gesê.

Fotogalery: Families is verpletter

Die nadeel van dié maatreël is dat ’n tingerige lugwaardin self óók deur só ’n vlieënier oorweldig kan word.

“Die hele konsep van versterkte kajuitdeure pla my al lank. Volgens my behoort die vermoë om iemand uit ’n kajuit te sluit onmiddellik gedeaktiveer te word.

“Ek glo nie die Internasionale Burgerlugvaartowerheid het in 2001 mooi gedink toe die vereistes vir dié nuwe kajuitdeure opgestel is nie,” sê Van Zyl.

Die maatreëls was die regstreekse gevolg van die 9/11-terreurvoorval toe kapers kommersiële stralers gebruik het om in die World Trade Centre in New York vas te vlieg.

“Die reaksie was geskoei op die veronderstelling dat alle vlieëniers edele motiewe het en nié dat van hulle weens emosionele of ander beweegredes dalk doelbewus met die vliegtuig in die grond kan vasvlieg nie,” meen Van Zyl.

'Als is vergruis ná tuig val

Volgens hom behoort daar ook aandag gegee te word aan beter maatreëls om vlieëniers met selfmoordneigings te identifiseer – selfs al word hulle net tydelik uit die kajuit gehaal as hulle ’n besondere stresvolle tyd beleef.

“Intussen moet daar ’n meer haalbare stelsel ontwikkel word om in ’n noodgeval toegang tot die kajuit te kry as een vlieënier uitgesluit word.”

Verskeie van die lugdienste in Amerika het op hul eie die minimum van twee in die kajuit-stelsel begin gebruik uit vrees vir sulke situasies.

Die rampvliegtuig van Germanwings het Dinsdag binne minute van sy kruisspoedhoogte op 40 000 vt tot op 6 500 voet gedaal sonder dat daar ’n noodroep was. Teen die tyd wat daar wel ’n “mayday”-roep was, was dit sekondes voor die vliegtuig in die Alpe geval het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.