Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
JOU BELASTINGGELD
Vlugvoos vliegtuie nie geskik vir BBP’s
’n Leser het gister dié foto van adj.pres. Kgalema Motlanthe se huurvliegtuig op die Gatwick-lughawe buite Londen ingestuur.

Ernstige gebreke in die lugmag se BBP-vliegtuigvloot het vandeesweek vir die soveelste keer daartoe gelei dat adj.pres. Kgalema Motlanthe met ’n huurvlug Brittanje toe moes vlieg.

As die lugmag se plan om die vloot te vernuwe, deurgevoer word, kan dit tot R14 miljard kos. Dié vernuwingsplan sal ingevolge die verdedigingsoorsig oor die volgende sowat 15 jaar ingefaseer word. Van die aanskaffings moet reeds teen 2018 afgehandel wees.

Daar word beplan om drie transkontinentale stralers aan te skaf soortgelyk aan Inkwazi , die Boeing-sakestraler waarmee pres. Jacob Zuma tans vlieg.

Daar is ’n verdere behoefte aan vier wyeromp- kontinentale stralers soortgelyk aan die ­Falcon 900 waarmee Motlanthe gewoonlik vlieg.

Dié Falcon is tans ondiensbaar omdat dit midde-in ’n vernuwingsprogram is en daar op onderdele gewag word. Die vliegtuig is reeds 22 jaar oud en in ’n redelike goeie toestand.

Meer as R10 miljoen word egter tans daaraan bestee om dit ten volle vliegvaardig te kry.

Die enigste ander twee vliegtuie in die huidige vloot – twee Falcon 50’s – kan slegs vir kort afstande gebruik word, want dit is reeds meer as 30 jaar oud en volgens ingeligtes “opgebruik”.

Die lugmag het vir die vorige boekjaar R260 miljoen begroot vir die bedryf van die BBP-vliegtuie. Die uiteindelike bedryfskoste was egter R400 miljoen en die lugmag moes die geld elders in sy begroting gaan vind om die land se hooggeplaastes te vervoer.

Inkwazi moet boonop later vanjaar vir ’n groot versiening buiteland toe gaan. Die lugmag sal dan noodgedwonge ’n straler teen reusebedrae moet huur om Zuma rond te vlieg.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het gister aan Beeld gesê 21 Eskader, wat die BBP-vloot bedryf, het een betroubare vliegtuig terwyl die ander in ’n twyfelagtige toestand is. Sy weet van mense wat weier om in die Falcon 50’s te vlieg.

“Ons kan nie langer die kwessie van nuwe stralers vermy nie.

“Die geld wat die lugmag aan gehuurde lugvervoer bestee, is enorm en ons kan dit eenvoudig nie meer bekostig nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.