Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Voortvlugtige Brit in Suid-Afrika vasgetrek

JOHANNESBURG. – Een van Brittanje se mees gesoekte misdadigers, die gevonniste bedrieër en dwelmhandelaar Martin Evans (52), is die naweek ná knap speurwerk deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Interpol in Midrand, Johannesburg, vasgetrek.

Evans, wat sedert Augustus 2011 voortvlugtig was, gaan na verwagting vandag in die streekhof in Pretoria verskyn vir ’n uitleweringsverhoor.

Evans, wat besig was om 21 jaar tronkstraf vir die handel in kokaien en bedrog uit te dien, het op die vlug geslaan toe hy tydens ’n spesiale vergunning vir ’n paar dae tydelik na Swansea in Wallis kon terugkeer.

Lt.genl. Solomon Makgale, polisiewoordvoerder, het gister aan Die Burger gesê knap speurwerk het tot Evans se inhegtenisneming Saterdagaand in ’n woonkompleks gelei.

Ondersoekers van die Britse nasionale misdaadagentskap het Interpol in kennis gestel dat Evans in Suid-Afrika wegkruip. Hy is van daar dopgehou en Saterdagaand met die hulp van die SAPD aangekeer.

Evans, van Pontarddulais, Swansea, is al bekroon as die sakeman van die jaar in Wallis. Ná sy glasuurmaatskappy bankrot gespeel het, het hy hom egter tot bedrog gewend en beleggers uit miljoene ponde met sy sogenaamde nuwe volstruisplaas-onderneming geswendel.

Die geld is in buitelandse rekenings in onder meer Jersey en die Bahamas weggesteek.

Hy het glo ook verskeie luukse eiendomme gehad, waaronder ’n villa naby Marbella in Spanje ter waarde van R26 miljoen.

Kort voor sy bedrogverhoor het hy na Spanje en daarna ook na Nederland gevlug.

Evans het glo in die tydperk van 1999 tot 2001 met groot hoeveelhede ecstacy en kokaïen handel gedryf voordat hy in Amerika aangekeer is met ’n vals paspoort in sy besit. Hy is toe ook na Brittanje uitgelewer en tot 21 jaar tronkstraf gevonnis voordat hy in Augustus 2011 tydelik vrygelaat is. – Saamgestel deur Jana van der Merwe. Bronne: Sapa en Sky News

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.