Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrou bieg oor aborsie-hel
Foto: www.embell.co.uk

SY was 25 jaar oud en nege weke swanger toe sy haar tweeling laat aborteer het.

Vandag, byna 10 jaar later, het sy besluit om haar verhaal te vertel na aanleiding van ’n onlangse aborsie-video wat op Volksblad se webwerf verskyn het.

Die 35-jarige vrou van Johannesburg sê lesers se kommentaar op die video het haar laat besef mense oordeel baie vinnig en het nie ’n idee van die omstandighede voor, gedurende en ná ’n aborsie nie.

“Dit was die moeilikste en ingrypendste besluit wat ek tot nog toe moes neem,” het die vrou, wat anoniem wil bly, gesê.

“As ek nie daardeur was nie, sou ek ook dalk so gedink het.

“Die pa, ’n Portugese man met wie ek in daardie stadium in ’n verhouding was, het soveel verhoudings met ander vroue op een slag gehad. Toe ek hom vertel dat ek swanger is met ’n tweeling, het hy na hulle as ‘little bastards’ verwys.”

Die vrou is intussen getroud en het nou ’n tweeling.

“Ek dink nog baie daaraan. Die aborsie. Ek dink hoe hulle sou gelyk het, watter geslag hulle sou wees, en dies meer.

“Toe my tweeling gebore is, het ek aanvanklik gesukkel om hulle te geniet.”

Sy hoop haar storie sal mense beter insig gee, nie net in aborsie nie, maar ook in ander groot “foute” wat mense maak.

Die vrou het jare lank aan depressie gely en het berusting in drank, sigarette en pille probeer kry.

Sy het verskeie kere ook “alles reg gekry” om selfmoord te pleeg, maar dit nooit gedoen nie.

“Ek het ontsaglik maer geword en my suster het onraad vermoed. Sy het in my handsak gekrap en tjek-teenblaadjies gekry wat ek aan die hospitaal waar die aborsie gedoen is, uitgemaak het.

“Sy het afleidings gemaak en in ’n e-pos aan my gesê sy wil my nooit weer sien nie, ek mag nie naby haar kinders kom nie en dat ek net so ‘common’ is soos die res van Johannesburg.”

Vir haar ouers het sy tot vandag nog nie vertel nie.

“Hulle is baie eng Afrikaans en Calvinisties. Ek kan dit nie aan hulle doen nie.”

Haar verhouding met haar suster het effens herstel, al is hulle nie “beste vriende” nie.

Sy vertel van ’n boek, My Babe, deur Sanet Groenewald, waarin vroue wat aborsies ondergaan het, van hul trauma vertel.

“Die trauma en depressie is iets wat ’n mens nie in woorde kan omskryf nie. Een van die vroue skryf in die boek hoe sy ná haar aborsie elke dag ’n bladsy uit die Bybel geskeur en dit as toiletpapier gebruik het.”

Verskeie beraders en predikante kon haar nie help nie en het haar selfs weggewys. Totdat sy by ’n afgetrede dominee gekom het.

“Dis die eerste keer wat ek Jesus se liefde in ’n predikant se oë gesien het. Hy het vir my gesê die Here vergewe, al maak jy dié grootste fout denkbaar.”

Ná die aborsie was sy weer in ’n aftakelende verhouding – iets, sê sy, wat baie algemeen is.

“Jy vertel jouself jy verdien dit omdat jy die fout gemaak het. Jy straf jouself. Mense moet weet, almal maak foute.

“Gróót foute, maar geen fout is te groot nie. En net die Here kan jou help om jouself en ander te vergewe. En om aan te gaan, te léwe.”

• Lees die vrou se volledige brief onder die onderstaande kassie. Dit mag sensitiewe lesers ontstel.

• Lees die vorige berig [met video] wat na dié berig  gelei het ​hier.

In haar eie woorde

• ​Ek het ’n tweeling geaborteer. Ja, hang my aan ’n kruis en slaan elke dag ’n spyker in my ... kruisig my oor en oor.

​• 

Die ding gebeur nie met ons nie. Ons is te ordentlik. NG kerk, ordentlik.

​• 

R1 200 sonder narkose, R1 600 met narkose ...

​• 

Nog nooit in my lewe het ek so mooi gevoel soos ek daardie dag gevoel het nie. Ek het spesiaal gevoel. Uitverkore. ’n Tweeling. ’n Tweeling binne my.

​• 

Ek is ontslaan met ’n pakkie voorbehoedmiddels. Hoe ironies.

​• 

Ek het al die spieëls in my huis afgehaal, want ek kon nie vir myself kyk nie, ek het die oë van ’n moordenaar gesien.

​• 

Ek was bang vir die donker.

​• 

Ek het 24 kg verloor.

​• 

My hare het begin uitval.

​• 

Ek het hulle begrawe. Ek het twee kinders aan die dood afgestaan.

​• 

Ek sal aborsie vir niemand aanraai nie. Ek was gebroke hoe meer ek uitgevind het.

​• 

Die dokter wat dit uitgevoer het, het vir my gesê daar is nog nie regtig babas nie. Net selle ... As ek daai tyd geweet het daar klop ’n hart, het ek dit nooit gedoen het.

​• 

God maak heel en Hy maak nuut.

Die vrou wat haar tweeling laat aborteer het, het dié brief geskryf: 

(DIT IS GRAFIES EN MAG SENSITIEWE LESERS ONTSTEL.)

Ek skryf hierdie brief na aanleiding van Volksblad se artikel op Facebook en die aborsie-video.

Ek het daarna gekyk en gehoop ek kon dieselfde sien wat my oorgekom het. Gehoop dat dit genesing sou bring vir my. Ek het ook die comments gelees van al die mense. Ek kan amper sê 90% van die mense is lyk of hulle vlekkelose lewens lei – witter as sneeu. Die vrou is uitgekryt as goddeloos, ongevoelig en ’n moordenaar. Persoonlik dink ek sy moes ’n opvolg video gemaak het drie of vier maande daarna . . .

Ongelukkig is die aborsie wat sy gehad het so maklik. Ek is 35, en op 25 het ek ’n aborsie gehad. Ek het ’n tweeling geaborteer. Ja, hang my aan ’n kruis en slaan elke dag ’n spyker in my . . . kruisig my oor en oor.

Ek het onder meer die aborsie gehad oor die man my nie liefgehad het nie. Dink vyf ander verhoudings wat hy ter selfdertyd gehad het is ’n eye opener. Van hulle het ingesluit ’n getroude vrou. Die dag waarop hy my gelos het, het ek uitgevind ek is swanger en met ’n reguit sedige gesig koffie gaan drink saam met my ma. Ek het buite God se wil geleef en ek het dinge gedoen het wat buite Sy wil was, soos om seks te hê voor die huwelik. Ek het die aborsie gehad om my ouers die vernedering te spaar.

Nee, dame wat nou die artikel lees – moenie kommentaar lewer en sê dit sou nie ’n vernedering vir hulle gewees het nie, jy weet niks, jy’t nie in my huis grootgeword nie. Die dinge gebeur nie met ons nie. Ons is te ordentlik. NG kerk-ordentlik. En ek het myself alweer heel laaste gestel, soos altyd. Nie gedink aan wat ék graag wou hê nie.

Ek het na die kliniek gegaan want ek het nie baie geld gehad nie. Ek het twee maande terug net ’n nuwe werk begin na baie maande sonder werk en studieskuld wat klaar afbetaal was. Ek wou net gaan vir ’n skandering (hulle was die goedkoopste) want die swangerskaptoets (ek het seker ses gedoen) se tweede strepie was baie, baie dof. In die kliniek se wagkamer het ek baie meisies gesien. Party se skoonma’s het hulle gebring. Party se kêrels, skelm. Enigeiets om die probleem op te los. Party ma’s het daar gesit om hulle vierde kind te aborteer. Hulle kon net nie met soveel cope nie. Dan vra ek hulle: “As jy nou na jou eerste kind kyk, sal jy haar doodmaak?” “Nee, nooit. Maar dié is anders.” Ek het nooit geweet wat die anders was nie.

Ek wens mense kan een ding in hulle koppe kry: Om die “maklike” uitweg te vat is nie altyd die maklikste besluit nie.

Terwyl ek gewag het vir my scan het ek die meisies op rye sien ingaan en uitkom. Amper so vinnig soos in die fliek. Ek onthou die brosjure: R1200 sonder narkose, R1600 met narkose. Hulle beskryf ook dat hulle nie 100% kan waarborg dat die hele swangerskap beëindig kan word nie. Hulle beskryf dat hulle die suigapperaat in die baarmoeder indruk en net suig. Vandaar al die pyn.

Op pad na my scan het ek verby ’n kamer geloop. Daar het tien meisies op Lazy Boys gelê in ’n tipiese hospitaaljurk en kaalvoet. Sommige het kouse aangehad. Verpleegsters het hulle ongeduldig liggies teen die wange geklap om by te kom. Die stoel moes oop. Die volgende pasiënt moes in.

Die kamer waarin ek gelê het, het asblikke vol bloedbevlekte tissues en pype waarin stukke bloed vasgesit het gehad. Ek het gedink hoeveel kinders is deur hierdie pype.

Die kliniek kon niks in my baarmoeder optel nie. Ek moes twee liter water drink en 30 minute wag. My blaas wou bars. Hulle kon weer niks op die sonar sien nie. Die dokter daar, ek hoop hy was ’n dokter, het my aangeraai om na ’n ordentlike ginekoloog te gaan.

Ek het ’n ginekoloog gekry wat aborsies doen en ek het ’n afspraak gemaak. Hulle het my intussen gestuur vir bloedtoetse. Ek het begin bid. Eerste keer in miskien jare? Ek het gebid dat dit ’n buisswangerskap moes wees. Ek het gebid soos Jesus in Getsemane, dat die lydensbeker by my sal verby gaan, dat God my sou spaar om te kies. Maar dat Hý vir my sou kies. Dat dit ’n buisswangerskap sou wees en dit noodgedwonge moes verwyder word.

Die dag by die ginekoloog het ek die eerste keer kennis gemaak met ’n interne ondersoek. En daar sien ek dit ... die sakkies. Ja, sakkies.

’n Tweeling. Dadelik was ek lief vir hulle en het uitgeroep: “I am keeping them!”. Die dokter het aan my alles verduidelik. Dit was ’n Donderdag. Nog nooit in my lewe het ek so mooi gevoel soos ek daardie dag gevoel het nie. Ek het spesiaal gevoel. Uitverkore. ’n Tweeling. ’n Tweeling binne my.

Ek het my beste vriendin gebel. Ons was albei oorstelp van vreugde, vir ’n oomblik vergete die groot besluit en die komplikasies as die man (pa) sou uitvind. Die dokter het aan my gesê dat ek agt weke swanger was. Hy doen aborsies op Maandae. As dinge nie uitwerk die naweek met die pa nie, en ek stap Maandag daar in, sal hy weet wat om te doen.

Ek het die pa gaan sê die Donderdagaand. Groot meneer wat nie sy tools in sy broek kan hou het ’n breakdown gekry. Wou homself skiet. Wat van sy pa? Wat van sy familie? Die groot erfporsie wat hy sou kry, eendag? Dat hy ’n Portugees is en ek Afrikaans. Nou is dit “bastards”, die tweeling, wat ek dra.

Hy sou die Maandag-oggend saam kom hospitaal toe, maar het nooit gekom nie. Net R5000 in my rekening inbetaal.

Ek het gesê ek gaan nie by die kliniek lê nie, ek gaan na ’n ordentlike dokter toe. Toe die dokter my sien het hy sy hand op my skouer gesit en gesê: “I have seen many of these men. You carry your cross. They are all bastards!”

Hy het ses pille in my opgedruk. Ek het ’n hospitaalbed gekry. Dit was 11:00. Meneer Tools het my mal gebel om seker te maak ek is by die hospitaal. Ek het daar gelê en hom begin haat. Gewens ek het my foon by die kar se venster uitgegooi die oggend en net aanhou ry. Weg van hom en die druk.

Teen 15:00 het ek baie pyn gehad. Hulle het my kom spuit vir pyn en gese ek sal 15:30 teater toe gaan. Hulle het my onderklere uitgetrek. Gesê ek moet solank so lê, teater is nou-nou. Ek het myself aan die slaap gehuil. Ek het ’n visioen gesien van twee uitgegroeide jong mans. Sterk mans. Olimpiese swemmers. Albei forse donkerkoppe en hulle dra my op hulle skouers en ek is hulle ma, ten aanskoue van ’n hele olimpiese stadion.

Om 17:30 het ek wakker geskrik en iets warms gevoel tussen my bene. Ek het besef ek was nog nie teater toe nie. Ek het uit die bed gespring en gehoor hoe iets val op die vloer met ’n plonsgeluid. Ek het afgekyk op die vloer, stukke bloed wat lyk soos lewer het op die grond gedrup. Stukke ligte pienk weefsel het uit my lyf letterlik geval vloer toe. Dit het gelyk soos stukke spons. Ek het besef wat aangaan.

My kinders lê op die vloer! Ek het histeries begin huil en in die gange afgeloop op soek na ’n toilet. Ek het die gange van hierdie private hospitaal besmeer met my dooie kinders se oorblyfsels. Ek het die badkamer histeries bereik met drie verpleegsters op my spoor. Ek het myself probeer was en net meer bloed sien afloop in die drein. Ek was besig om my kinders in die drein af te spoel. Ek sou nooit iets hê om te begrawe nie.

Hoe maak jy ’n graffie waar jy kan gaan blomme neerlê?

Ek is ná ’n kalmeerinspuiting teater toe. ’n Bruin manlike verpleër het my hand gevat en my getroos. Ek sal hom nooit vergeet nie. Ek onthou net ek het verskriklik gehuil.

Om 20:00 het ek wakker geword en is ’n koppie tee aangebied. Ek het so gehuil ek kan net onthou hoe my groot vet trane in die tee gedrup het.

Ek is ontslaan met ’n pakkie voorbehoedmiddels. Hoe ironies.

Ek het 200 km gery na die pa toe. Hy moes gekonfronteer word met dit. Ek het voor middernag opgedaag. Hy was besig om op sy bed kaarte te speel.

Hy het gevra of ek wou bad. Ek het ja gesê. Toe ek uittrek sien hy die plakkers van die hartmonitor nog op my bors. Hy vra my wat dit is. Ek sê ek was teater toe.

Hy sê: “O, ek dog jy drink net ’n pil en na ’n week gaan jy vir ’n skraap. Dis wat ek met my vorige meisie gedoen het.”

Ek het besef hy is die eintlike moordenaar.

Hy’t my vertel van iemand wat ons ken wie se kinders die middag verongeluk het. Hy’t afgesluit met die woorde: “ ’n Ouer moet nooit hulle kinders begrawe nie.”

Ek het hom net aangestaar.

Hy’t nie besef wat het hy gedoen nie. Hy’t self sy kinders doodgemaak, maar hy dink nie daaraan nie.

Na badtyd, terwyl ek aantrek het, hy my gevra: “Ken jy die kaartspel ‘pick up 54’”. Ek het nee gesê. Hy’t die pak kaarte in my gesig gegooi en dit het oor die hele vloer geval. Toe sê hy: “There you go! Pick up 54”.

Ek was dood en leeg.

Ek het daardie nag op sy selfoon gesien dat hy ’n getroude vrou seks belowe op Dinsdae en Donderdae. En dat hy reeds met iemand anders geslaap het.

Ek is weg die volgende oggend.

Die maande hierop was vreeslik

Weet jy wat dit is as God jou aborteer?

Weet jy wat dit is om deur die lewende God verlaat te word?

Ek het twee keer probeer selfmoord pleeg. Of eerder alles reggekry om dit te doen, maar ek het nie. Ek het ’n tuinslang in my kar gelaai een aand na ek uitgevind het ’n ander vrou slaap oor by sy huis, want ek wou my vergas in sy oprit!

Ek het die 200 km afgelê in die nag ... en het 10 km voor sy deur omgedraai.

Ek het al die spieëls in my huis afgehaal, want ek kon nie vir myself kyk nie, ek het die oë van ’n moordenaar gesien.

My beste vriendin het gesê sy sien nie kans om vriende te wees met mense wat sulke goed doen nie.

Ek het in die nag gedroom van babas met af koppe waaruit die bloed hemelhoog spuit. Ek het wakker geskrik en geskree van gedroggies wat op my afstorm in my bed. Altyd twee.

Ek was bang vir die donker. Ek het met die bedlampie aan geslaap.

Ek het 24 kg verloor.

My hare het begin uitval.

Ek het my woonstel nie meer skoongemaak nie, en die stof het so dik gelê op die teëls dat jou voete swart daarvan was.

Die wurms het deur die swartsak gevreet in my kombuis.

Ek moes aanhou werk. Aanhou cope. Ek kon nie vir die wêreld wys nie.

My aande het ek omgekry op my balkon deur pakkies menthol-sigarette te rook met enige vorm van drank. Ek het wraakplanne op hom gemaak! Dan was ek so braaf! Ek kon hom aanvat!

Maar wanneer die son sy kop uitgesteek het, kon ek nie.

Dan was ek weer bang.

Ek kon nie babas sien nie, want dit het vir my gevoel asof hulle “weet” wat ek gedoen het as hulle na my kyk.

As ek my maandstonde gekry het was dit so erg dat ek deur ’n supergrootte tampon bloei in die oggend nog voor ek by die werk kom. Dan moet ek omdraai huistoe want my klere is vol bloed.

Ek het na ’n ruk gaan hulp soek. Pretoria se grootste gemeente. Glo formidabele dominees.

Die een het my so aangekyk na ek my verhaal vertel het, en gesê: “Is jy seker dit is sy kinders gewees?” Ek het opgestaan en vir die eerste keer in my lewe ’n dominee gevloek.

’n Ander dominee het vir my gesê: “Jy is emosioneel onnosel.”

Maatskaplike werkers het hulle oë uitgehuil terwyl ek my storie vertel het, maar my later geïrriteer omdat hulle hierdie tipe berading doen maar net nog nooit ’n kind begrawe het nie.

Ja, dis hoe dit vir my voel.

Ek het hulle begrawe.

Ek het twee kinders aan die dood afgestaan.

Die beraders het boekkennis gehad en wou hê ek moes ’n sirkel voltooi voor ek genees kon word. Hulle kon nooit verstaan dat ek op ’n dag hartseer, verlig, haatdraend, verbitterd, selfmoordneigings ensomeer kon hê nie. Ek was Een emosie gegun per dag, deur hulle.

Ek moes vandag of skuldig voel, of bly voel. Ek het nie die sessies voltooi nie.

Ek het nog ’n kerk probeer. Hulle het my weggewys omdat ek nie ’n lidmaat was nie.

Nog drank, nog sigarette.

Hoe meer gewig ek verloor het, hoe meer aandag het ek getrek.

Ek kon nie eet nie en ek kon nie slaap nie. Dit was die vorm van my depressie.

Later het dit verander na nét eet en nét slaap. Ek het al die gewig en meer opgetel.

Een aand het ek al die pille en drank wat ek in my woonstel bymekaar kon maak voor my neergesit. Ek het besef dat as ek die kombinasie drink sal ek doodgaan. Dit sou beter wees as die stilte en pyn waarin ek gevoel het God het my gedompel het.

Ek het vir die Here gesê, sommer hardop, want teen daardie tyd het ek nie eers meer op my knieë gegaan nie, gesê dat as Hy nie nou met my praat nie, gaan ek myself doodmaak.

Ek het na my tirade teenoor Hom kamer toe gestap en my Bybel oopgemaak by Jesaja 54.

God sê daarin: “Vir ’n kort rukkie het Ek my rug op jou gedraai. Was Ek kwaad vir jou. Maar Ek vat jou terug in My groot liefde”. Verder brei Hy uit oor hoe Hy weer my mure sal oprig. Hoe hy dit sal bou met robyne, saffier en smarag.

Ek het die hoofstuk vir ’n jaar lank elke dag, oggend en aand, gelees. God het my begin genees.

Iemand het twee jaar later vir my robyne, saffier en smarag uit Israel gebring, ek het geweet God onthou my.

Ek is getroud vandag. My man weet.

Ek weet nou nog nie of dit die beste ding was nie, ek weet ook nie of ek dit weer sou doen nie, maar as ek aan die pa dink dan is ek bly dat hy uit my lewe is. Dan weet ek dit was die beste.

Ek sal aborsie vir niemand aanraai.

Ek was gebroke hoe meer ek uitgevind het.

Aborsie verhoog jou kanse om borskanker te kry omdat jy die permanente weefsel van jou bors beïnvloed deur direk die hormone te beinvloed deur die medikasie.

Die dokter wat dit uitgevoer het, het vir my gesê daar is nog nie regtig babas nie.

Net selle.

Hy het vir my gelieg.

Ek het uitgevind die hart het al geklop. Ek was effektief nege weke swanger by terminasie. As ek daai tyd geweet het daar klop ’n hart, het ek dit nooit gedoen nie.

Ek het ’n video gesien op die internet waar hulle kom met die suig-instrument soos by die aborsie-klinieke, waar hulle dit net inforseer in die baarmoeder en hoe die fetus probeer wegkom daarvan. Dis verskriklik!

Daar is niks oor aborsie wat jy my kan vertel nie.

Ek het ure se navorsing en statistieke om te deel.

Die mense wat so kommentaar lewer op die video is verskriklik.

Ek het later ’n afgetrede dominee gekry wat my gehelp het.

My in liefde aanvaar het. Ek het besef dat aborsie ’n offerhande aan Satan is – dis hoe dit werk in die geestelike wereld.

Ek het vandag kinders. ’n Tweeling! Normaal verwek!

God het al my verliese herstel soos Hy gesê het in Sy woord: Hy maak heel en Hy maak nuut. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.