Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrystaat kry weer water van Lesotho
Foto ter illustrasie.

Die nasionale departement van waterwese en sanitasie het goedkeuring verleen vir die vrylating van water vir die Vrystaat uit die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Die water gaan weer by Clarens in die Oos-Vrystaat van die Katsedam af vrygelaat word.

Só sê Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van waterwese en sanitasie.

Hy sê voorts hy glo nie die Mangaung-metro sal nou al van die water kry nie.

“Die water wat nou vrygelaat word, gaan gebruik word om Vrystaatse munisipaliteite (dorpe) met watertekorte by te staan. Presies watter dorpe dit gaan wees, moet nog vasgestel word.

“Ons wil plaasboere solank waarsku dat die watervlakke van die Klein Caledonrivier en Caledonrivier binnekort kan styg soos wat die water vrygelaat word.”

Ratau sê die water wat nou vrygelaat word, gaan hoofsaaklik vir menslike gebruik wees.

Die damvlakke van Vrystaatse damme is baie laag weens abnormaal lae reënvalsyfers. Die damme moet dalk later dringend opgevul word.

Ratau sê waterbeperkings is reeds ingestel om minstens 20%-waterbesparings in die Caledon-Modderrivier-stelsel teweeg te bring.

Munisipaliteite en boere is reeds van die departement se voorneme om water vry te laat, in kennis gestel sodat hulle gereed kan wees vir enige optrede wat nodig mag wees.

Die datum van die watervrystelling sal binnekort bekendgemaak word.

Vir meer inligting bel Ratau by 082-874-2942 of stuur ’n e-pos na rataus@dws.gov.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.