Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
11 al vas ná leerkrag onthoof is

’n Elfde persoon is Sondag in hegtenis geneem terwyl owerhede die moord ondersoek op Samuel Paty, ’n geskiedenisonderwyser wat deur ’n vermeende Islamiet onthoof is in ’n aanval wat Frankryk geskok het.

Die satiriese tydskrif Charlie Hebdo, waarvan die kantoor vyf jaar gelede in ’n massamoord aangeval is, was onder die groepe wat ’n eerbetoon gistermiddag in Parys gereël het.

Die 47-jarige onderwyser is Vrydag deur ’n 18-jarige aanvaller buite sy skool in ’n woonbuurt in Parys vermoor. Die aanvaller, wat in Rusland gebore en van Tsjetsjiese afkoms is, is ná die aanval deur die polisie doodgeskiet.

Talle blomme is voor die Bois d'Aulne-kollege in die woonbuurt Conflans St. Honorine in Parys, Frankryk, neergelê ná die moord op ’n onderwyser hier. Foto’s: Reuters

Die onderwyser het vroeër vandeesmaand spotprente van die profeet Mohammed in ’n les oor vryheid van uitdrukking gewys, wat ’n aantal Moslem-ouers ontstel het. Moslems glo enige uitbeelding van die profeet is godslasterlik.

Die regering het die moord beskryf as ’n aanval op die hart van Franse waardes.

Die minister van onderwys, Jean-Michel Blanquer, en politici van oor die spektrum heen het gister ’n eerbetoning in Sentraal-Parys bygewoon. ’n Nasionale eerbetoon sal vir Woensdag gereël word, het pres. Emmanuel Macron se kantoor gesê.

Die premier, Jean Castex, het gesê die regering werk aan ’n beter strategie om onderwysers teen dié bedreigings te beskerm. Paty was voor die aanval die teiken van ’n woede-veldtog op sosiale media.

Mense vergader voor die Bois d’Aulne-kollege ná die aanval op ’n onderwyser in die woonbuurt Conflans St. Honorine in Parys, Frankryk.

“Ek wil hê onderwysers moet weet die land staan ná dié onedel daad agter hulle,” het Castex in ’n onderhoud aan die Journal du Dimance gesê.

“Dié treurspel het ’n uitwerking op een en elkeen van ons, want deur dié onderwyser is die republiek aangeval,” het hy bygevoeg.

Geen besonderhede is bekend oor die elfde persoon wat in verband met die moord in hegtenis geneem is nie.

Vier nabye familielede van die aanvaller is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Nog vyf is later in hegtenis geneem, insluitend ’n leerling se pa, wat bekend is in intelligensiedienste, het Jean-Francois Ricard, teenterrorisme-vervolger, Saterdag gesê.

’n Tiende persoon is Saterdag laat onder toesig geplaas.

Macron het Sondag laat ’n veiligheidsvergadering met sleutelministers gehou, het sy kantoor gesê.

Honderde mense, insluitend leerlinge en hul ouers, onderwysers en plaaslike inwoners het Saterdag hul hartseer en solidariteit betoon voor die skool waar Paty gewerk het, die College du Bois d’Aulnein in die voorstad Conflans-Sainte-Honorine. – Reuters

Meer oor:  Samuel Paty  |  Frankryk  |  Onthofing  |  Onderwyser  |  Leerkrag Onthoof  |  Man Onthoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.