Ten minste twee mense is dood na ’n “ongelooflike harde” ontploffing Woensdag in Madrid, Spanje, se stadskern.
Nooddienste, waaronder die polisie, paramedici en brandweer, is op die toneel.
Die media in Spanje berig die ontploffing het in ’n gebou naby ’n skool en ’n tehuis vir bejaardes plaasgevind.
Jose Luis Martinez-Almeida, Madrid se burgemeester, het die twee sterftes bevestig en gesê vroeë aanduidings is dat die ontploffing deur ’n gaslekkasie veroorsaak is. ’n Brand woed ook in die gebou waar die ontploffing plaasgevind het.
Agt mense is in die voorval beseer.
Die skool was glo leeg omdat klasse weens erge sneeuval nog nie hervat het nie. Die inwoners van die tehuis is ontruim en na veiligheid gebring.
’n Getuie het aan die AP-nuusdiens gesê: “Ons het nie geweet waar die geluid vandaan kom nie. Ons het almal gedink dit was van die skool af.
“Ons het by die trappe van ons gebou opgegaan en ons kon die struktuur van die gebou en baie grys rook sien.”
Beeldmateriaal op Twitter wys hoe die ontploffing ’n aantal voertuie verwoes het en hoe die straat met puin besaai is.
Die plaaslike Telemadrid-nuuskanaal berig dat minstens een mens in die puin vasgekeer is.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê die area word ontruim, maar kon nie die oorsaak van die ontploffing bevestig nie. – Sky news