Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
2 Saoedi-susters kry asiel ná vlugtog op verjaardag

Twee Saoedi-Arabiese susters hoop op ’n “helder, mooi toekoms” nadat hulle asiel in ’n onbekende land toegestaan is.

Hulle vlug van wat hulle beskryf as ’n misbruikende en onderdrukkende samelewing.

Terwyl die susters in September 2018 in Sri Lanka met vakansie was, het hulle gevlug. Hulle is toe in Hongkong gestrand omdat hulle nie asiel in Australië gekry het nie.

Die susters gebruik skuilname, Reem (20) en Rawan (18). Foto: Reuters/Yuyang Wang

Om veiligheidsredes het die vroue, 18 en 20 jaar oud, versoek dat hul name, gesigte en die land waar hulle nou is, nie bekend gemaak word nie.

“Ek was so bly,” het die krulkop, jonger suster onlangs aan Reuters gesê nadat hulle gehoor het hul asiel is goedgekeur.

“Ek het geskree: Dit is werklik, dit gebeur! Dit was net ’n verligting en onvergeetlik.”

Hulle het in ’n Hongkongse hotel met Reuters gepraat kort voordat hulle die stad verlaat het. Michael Vidler, ’n menseregteprokureur wat die twee help, was teenwoordig.

Die susters sê hulle het die afgelope ses maande in vrees gelewe toe hulle tussen 15 plekke van veiligheid rondgeskuif is. Hulle het onder meer by ’n non, gesinne en ’n skuiling vir misbruikte vroue geskuil.

Die grootste vrees was dat Saoediese amptenare of hul familie hulle sou opspoor en dwing om terug te gaan huis toe. Hulle het gevrees dat hulle dan in hul eie land gestraf sou word omdat hulle die Islam-geloof afgesweer het, wat volgens Islamitiese wette met die dood strafbaar is.

Die Saoediese konsulaat in Hongkong het nie geantwoord op versoeke vir kommentaar nie.

Die vroue sê hulle is wreed in hul huis behandel en hul broers en pa het hulle soms geslaan.

“Hulle was soos my tronkbewaarder. Ek was soos ’n gevangene,” het die jonger suster voorheen aan Reuters gesê.

Ek wil gevestig wees en veilig voel en weet ek het regte en dat ek saak maak in die land.

Geen berou

Hulle is ook krities op Saoedi-Arabië se stelsel waarvolgens mans voogde van vroue is en ’n man toestemming moet gee dat ’n vrou mag werk, reis, trou en selfs om mediese behandeling te ondergaan.

“Vroue is soos slawe,” sê die ouer suster.

Haar droom is om ’n skrywer te word.

“Ek wil gevestig wees en veilig voel en weet ek het regte en dat ek saak maak in die land. Net om normaal te lewe en myself te vind, want nou behoort my lewe aan my.”

In Januarie is ’n 18-jarige vrou van Saoedi-Arabië asiel in Kanada toegestaan nadat sy van haar familie gevlug en haarself in ’n hotel in Bangkok toegesluit het in ’n poging om nie teruggestuur te word nie.

Dié saak het internasionaal opslae gemaak en die aandag opnuut op Saoedi-Arabië se streng maatskaplike wetgewing gefokus. Dit is ’n stelsel wat volgens drukgroepe vroue en meisies kan blootstel aan omstandighede waar hulle mishandel en soos gevangenes aangehou kan word.

Saoediese diplomate in Bangkok wou nie kommentaar daarop lewer nie en sê dit is ’n familiekwessie.

Die Saoedi-koninkryk het vroue onlangs meer regte gegee. Vroue mag nou sportstadions besoek, in verkiesings stem en in ’n groter verskeidenheid poste aangestel word. Vroue word van verlede jaar af ook toegelaat om ’n motor te bestuur.

Baie vroue sê egter die grootste probleem is die voogdyskap van mans.

Ek het vir my suster gesê ek is bly ons het weggegaan. Dit is die land wat ons verlaat het.

Vind jou lig

Saoedi-Arabië is onder sy Westerse bondgenote se vergrootglas ná die moord op die joernalis Jamal Khashoggi in die land se konsulaat in Istanboel, Turkye, asook menseregtevergrype in sy oorlog in Jemen.

Die susters het op televisie in Hongkong die nuus oor Khashoggi se moord gevolg.

“Ek het vir my suster gesê ek is bly ons het weggegaan. Dit is die land wat ons verlaat het. Ons het geen berou nie,” het die ouer suster gesê.

George Orwell se boek 1984 is een van haar gunstelinge en beeld volgens haar toestande in haar disfunksionele land uit.

“Dit is ’n wetenskapfiksieboek, maar dit is die werklikheid in Saoedi-Arabië.”

Daar is ’n baie blink, mooi toekoms wat op my wag.

Die twee het hul ontvlugtingsplan oor jare heen in die geheim beplan en het $5 000 gespaar. Hulle het die ontsnapping beplan om saam met die jonger suster se 18de verjaarsdag te val.

Terwyl hulle gewag het om te hoor of hul asielaansoeke geslaag het, het die spertyd vir hulle om in Hongkong te bly, verlede maand verstryk.

Amnestie Internasionaal het die Hongkongse owerhede gevra om nie die susters na Saoedi-Arabië terug te stuur nie.

Die jonger suster, ’n aanhanger van Radiohead en Queen, het gesê sy hoop om jong mense te inspireer om teen maatskaplike ongeregtighede op te staan.

“Moenie net by die muur staan en huil nie. Want as jy huil, sal dit net erger word. Baklei op jou eie manier en jy sal jou eie lig vind.”

In haar rooi T-hemp, denim en tekkies het sy gesê daar is niks waaroor sy spyt is nie.

“Daar is ’n baie blink, mooi toekoms wat op my wag.”

Reuters

Meer oor:  Saoedi-Arabië  |  Asiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.