Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
20 lyke: Lesotho wil help met burgers wat onwettig myn

Die regering van Lesotho wil saam met die Noordwes-regering werk met die bekamping van onwettige goudmynbedrywighede wat die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks R14 miljard kos.

Die toneel verlede week waar van die lyke van zama-zamas by Orkney in Noordwes gevind is. Foto: SAPD

Genl. Selimo Thabane, konsul-generaal in Lesotho, het dié belofte Maandag in Klerksdorp gemaak toe hy burgers van Lesotho vergesel het om hul naasbestaandes se lyke in die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp te gaan uitken.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, was ook saam met hulle.

Die meeste van die oorledenes was burgers van Lesotho wat vermoedelik betrokke was by onwettige mynbedrywighede in Orkney. Die sogenaamde zama-zamas is waarskynlik onlangs in ’n ontploffing of brand in ’n ou, ongebruikte mynskag in Orkney dood. Die goudmyn het jare gelede reeds toegemaak.

Die 20 lyke in sakke toegedraai is verlede week in die omgewing van dié skag gevind, onder meer langs ’n openbare pad. Aan van die sakke was daar ’n kaartjie waarop óf die oorledenes se name en kontakbesonderhede, óf hul fisieke adres verskyn het. Tien van die oorledenes is reeds as burgers van Lesotho geïdentifiseer. Al die oorledenes was mans.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê agt van die oorledenes (almal van Lesotho) is Maandag uitgeken. “Geen spesifieke oorsaak van dood kon vasgestel word tydens die lykskouings nie. Die polisieondersoek duur voort.”

Die lyke het brandwonde gehad en was in ’n gevorderde stadium van ontbinding. “Ons wag nog op die uitslae van forensiese toetse,” het Myburgh Dinsdag gesê.

Thabane het luidens ’n mediaverklaring van Noordwes se premierskantoor Maandag in Klerksdorp gesê hy is teleurgesteld oor die voorval. Volgens hom is onwettige mynbedrywighede ’n historiese probleem wat die Lesotho-regering al jare probeer uitroei. Daar is egter talle uitdagings wat dit moeilik maak, maar Thabane het beloof amptenare van Lesotho sal nou met die Suid-Afrikaanse regering beraadslaag om die probleem te pak.

Msayinisi Majola, ’n familielid van een van die oorlede zama-zamas, sê haar neef was nog baie jonk en dit is die eerste keer dat hy onwettig in Suid-Afrika gemyn het.

“Hy het op 8 Mei vanjaar hierheen gekom en die plek nie eens geken nie. Niemand in ons familie het geweet hy is na die myne nie.”

Mokgoro sê dis ’n massiewe taak om onwettige mynbedrywighede te pak en dat dit op verskeie vlakke gedoen moet word. “Ons is ook daartoe verbind om die probleem te probeer oplos. As verantwoordelike leiers moet ons nie vinnig wees om die skuld op ander te pak nie, maar eerder opnuut daarop fokus om die probleem te pak deur dit te verstaan.”

Die Lesotho-regering sal sy oorlede burgers se oorskot na die land terugneem. Geen massabegrafnis word beplan nie. Elke familie sal daarvoor verantwoordelik wees om hul eie naasbestaande ter ruste te lê.

• Enigiemand met meer inligting oor wat moontlik tot die zama-zamas se dood gelei het, kan kol. Matshabe Gaanakgomo by 082 568 5975 bel of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan na die MySAPS-app gestuur word. Inligting sal streng vertroulik hanteer word, sê Myburgh.

Die agt oorledenes wat geïdentifiseer is:

1. Moeletsi Moeletsi (ouderdom onbekend).

2. Thabiso Mmone (30).

3. Thele Sekara (39).

4. Thabo Sekara (30).

5. Selani Mafi (25).

6. Tankiso Sello (ouderdom onbekend).

7. Tshepang Pitso (30).

8. Sempe Molapo (ouderdom onbekend).

Meer oor:  Lesotho  |  Onwettige Mynwerkers  |  Zama-Zamas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.