Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek: SA’ners hoop om hotel vandag te ontruim

Die meer as 20 Suid-Afrikaners wat in ’n hotel in Palma in die noorde van Mosambiek vasgekeer is, hoop om vandag met behulp van Suid-Afrikaanse huursoldate die gebou te ontruim.

Só het een van die Suid-Afrikaners wat tans in die dorp is en brandstof vir die huursoldate van Dyck Advisory Group (DAG) se helikopters in die hande probeer kry, Vrydag anoniem aan Netwerk24 gesê.

Gewapende helikopters het Vrydag losgebrand op Islamitiese militante. Die gevegte duur vir ’n tweede dag voort rondom die hawedorp in Cabo Delgado, Mosambiek.

Jasmine Opperman

Hy sê die gevegte het vir vier uur in die nag opgehou maar teen 03:00 weer losgebars.

Jasmine Opperman, ’n direkteur by die Konsortium vir Navorsing en Ontleding van Terreur in Suid-Afrika, sê die situasie lyk nie goed nie, en sy vrees ’n aanval op die Amarula Palma-hotel, waar die Suid-Afrikaners en minstens 150 ander buitelanders vasgekeer is.

“Dit sal ’n eerste vir die rebelle wees en die kwesbaarheid van ’n hotel vir alle terreurgroepe blootlê.”

Die militante, wat bande met Isis het, het sedert Woensdagmiddag op die dorp naby die multimiljardrand-gasprojek van die petroleumreus Total toegesak en baie mense is doodgemaak. Talle is onthoof, volgens Reuters.

“Ek het vanoggend met die bestuurder van die hotel gepraat. Hulle was steeds veilig teen 07:30.”

Daar is glo sprake dat die Mosambiekse weermag vandag die hotel met sy 100 buitelanders, onder wie talle Suid-Afrikaners, gaan ontruim.

Dankie tog vir die Suid-Afrikaanse helikopters onder leiding van die polisie wat talle mense in die dorp gered het, al het hulle min ammunisie gehad.

Volgens die bron is die huursoldate van DAG besig om krygstogte vir hul helikopters voor te berei.

“Dankie tog vir die Suid-Afrikaanse helikopters onder leiding van die polisie wat talle mense in die dorp gered het, al het hulle min ammunisie gehad.”

Hy sê drie van die burgers wat gered is, is werknemers van Standard Bank.

Opperman sê was dit nie vir die DAG-helikopters nie, was die situasie veel erger.

“Gister is die ontruimingsproses gestaak oor die onveiligheid aan die kusfront, wat beteken ons sit steeds met ongeveer 170 mense by die Amarula Palma-hotel. Daardie helikopters is gebruik om die rebellegroepe te stop.”

Die situasie is egter nie onder beheer nie. Sy sê die laaste verslag wat sy ontvang het, is dat die situasie hoogs plofbaar is.

“Rebelle is steeds in die gebied en daar is ’n totale herbesinning oor wat om te doen om veilig te bly.

“Die onvermoë van die (Mosambiekse) veiligheidsmagte op die grond om die mense te beveilig, is duidelik.

“Mense het na nabygeleë woude gevlug.”

Opperman sê daar is inligting dat vyf Suid-Afrikaners vermis word.

Lees ook: Terreur in Mosambiek: Suid-Afrikaner in hotel vasgekeer

“Die Amarula Palma-hotel het ’n veiligheidskamer, maar die probleem is jou oorlewingstyd in so ’n vertrek is beperk.”

US News berig die Mosambiekse regering het aangedui sy veiligheidsmagte is besig om orde te herstel in Palma, nadat die dorp Woensdag in ’n drieledige aanval gesteier het.

Bloomberg berig beleggers in die gasprojek in die omgewing raak ál onrustiger oor die regering se onvermoë om die konflik onder beheer te kry.

Leslie Palti-Guzman, president van die New Yorkse maatskappy Gas Vista LLC, sê die konstruksie van die gasprojek sal weer op dreef moet kom as Mosambiek geldelik wil baat uit van die kontinent se grootste natuurlike gashulpbronne. So nie sal voornemende kopers van Mosambiekse gas na ander opsies begin kyk.

Meer oor:  Mosambiek  |  Terreur  |  Palma  |  Dyck Advisory Group
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.