Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
3 wen Nobelprys vir ontdekking oor swartgate
Vanjaar se Nobelpryswenners vir Fisika: Roger Penrose, Andrea Ghez en Reinhard Genzel. Foto: CNN

Roger Penrose van Brittanje, Reinhard Genzel van Duitsland en Andrea Ghez van Amerika het Dinsdag die 2020-Nobelprys vir Fisika gewen vir hul ontdekking van een van die mees eksotiese verskynsels in die heelal – die swartgat.

Penrose, ’n professor aan die Universiteit van Oxford, het die helfte van die prys van 10 miljoen Sweedse krone ($1,1 miljoen) gewen vir sy bydrae met die hulp van wiskunde om te bewys dat swartgate ’n regstreekse gevolg is van Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie.

Genzel, van die Max Planck-instituut en die Universiteit van Kalifornië in Berkeley, en Ghez van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, het die ander helfte gedeel vir hul ontdekking van ’n onsigbare en uiters swaar voorwerp wat sterre se wentelbane in die middel van die sterrestelsel beheer.

Ghez – slegs die vierde vrou wat die Fisika-prys ontvang het ná Marie Curie in 1903, Maria Goeppert-Mayer in 1963 en Donna Strickland in 2018 – het gesê sy hoop dit sal ander inspireer.

Die ontdekking van ’n massiewe, dog onsigbare, voorwerp in die hart van die melkweg, het volgens Ghez gepaardgegaan met ’n goeie dosis twyfel.

“Die eerste ding is twyfel. Jy moet aan jouself bewys dat wat jy regtig sien, is wat jy dink jy sien. Daar is dus ’n mate van twyfel én opgewondenheid,” het die 55-jarige sterrekundige in ’n oproep van die Nobelpryskomitee gesê.

Genzel (68) het erken hy was uit die veld geslaan en het ’n bietjie gehuil nadat hy ’n oproep oor die Nobelprys vanuit Stockholm ontvang het.

Genzel (68) het erken hy was uit die veld geslaan en het ’n bietjie gehuil nadat hy ’n oproep oor die Nobelprys vanuit Stockholm ontvang het.

Wetenskaplikes het sedert die 18de eeu gewonder of daar enige voorwerp in die heelal bestaan wat ’n swaartekrag sou uitoefen dat lig dalk nie sou kon ontsnap nie.

Einstein het in sy algemene relatiwiteitsteorie in 1915 voorspel dat ruimte en tyd deur die swaartekrag toegedraai kon word.

Tog het hy nie eintlik aan swartgate geglo nie en wetenskaplikes het vir nog 50 jaar kopgekrap om ’n bewys te vind wat hul bestaan sou staaf.

“Dit was ’n teorie – daar was niks om swartgate sigbaar te maak nie,” het Genzel gesê.

Terwyl swartgate nou wetenskap is, bly hulle steeds ’n raaisel.

Penrose, nou 89, het in 1965 bewys dat swartgate regtig vorm kan aanneem. Hy het dit in detail beskryf en gesê dat tyd en ruimte in die middel daarvan ophou bestaan.

Ulf Danielsson van die Nobelpryskomitee het ter illustrasie van Penrose se insig op die toekenningsgeleentheid in Stockholm in sy een hand ’n swart bal so groot soos ’n pomelo vasgehou en met die vinger van sy ander hand daarna gewys. Danielsson het verduidelik dat tyd op die rand van die bal stilstaan en soos wat sy vinger daarteen druk, beweeg die punt daarvan die toekoms in.

Dit sou onmoontlik wees om ’n mens se vinger uit te trek sonder om dit uitmekaar te skeur. In plaas daarvan sou dit “tot in die middel van die swartgat gedra word, waar tyd tot ’n einde kom en die bekende wette van fisika nie meer geld nie”.

“Penrose, Genzel en Ghez het aan ons gewys dat swartgate ontsagwekkend en wiskundig subliem is en eintlik bestaan,” het Tom McLeish, ’n professor in natuurfilosofie aan die Britse Universiteit van York, gesê.

Terwyl swart gate nou wetenskap is, bly hulle steeds ’n raaisel.

“Wat is ’n swartgat? Ons weet nie, ons het geen benul wat binne ’n swartgat is nie en dit is wat hierdie dinge sulke eksotiese voorwerpe maak,” het Ghez gesê.

Fisika is die tweede van die jaarlikse oes van Nobelpryse wat toegeken word nadat drie wetenskaplikes die geneeskunde-prys vir hul ontdekking van hepatitis C Maandag gewen het. – Reuters

Reuters

Meer oor:  Wetenskap  |  Nobelprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.