Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
35 dood in stormloop by Soleimani se begrafnis

Minstens 35 mense is Dinsdag in Iran dood en 48 beseer in ’n stormloop by genl.maj. Kassem Soleimani se begrafnisstoet.

Soleimani en nog sewe mense is Vrydag dood nadat pres. Donald Trump van Amerika toestemming vir ’n lugaanval in Bagdad in Irak gegee het.

Volgens die Iranse media is etlike mense wat Soleimani se begrafnis in sy tuisstad Kerman bygewoon het, in die stormloop dood, berig Sky News.

Iran het ná die aanval wraak op Amerika gesweer.

’n Senior amptenaar in Teheran het Dinsdag gesê Iran oorweeg 13 opsies om Soleimani se dood te wreek.

Die media in Iran berig minstens 35 mense is by die begrafnis dood, terwyl 48 mense beseer is. Foto: Reuters

Genl. Hossein Salami, hoof van Iran se Revolusionêre Wag, het Dinsdag aan begrafnisgangers belowe Iran sal hard terugslaan.

“Ons sal ons wraak neem. Harde en definitiewe wraak,” het Salami gesê, terwyl talle begrafnisgangers die Iranse vlag geswaai en “Amerika moet sterf” geskree het.

Ali Sjamkhani, voorsitter van Iran se veiligheidsraad, sê daar is 13 wraakscenario’s en selfs die swakste opsie sal ’n geskiedkundige nagmerrie vir Amerika inhou.

Soleimani se lyk is sedert Vrydag se lugaanval deur stede in Irak en Iran geneem.

Talle begrafnisgangers het “Amerika moet sterf” by genl.maj. Kassem Soleimani se begrafnis geskree.Foto: Reuters

Die Irakse parlement het Amerika Maandag aangesê om sy troepe uit Irak te verwyder. Trump weier egter.

“Ons het ’n buitengewoon duur lugmagbasis daar. Dit het ons miljarde dollars gekos om dit te bou. Ons sal nie padgee voordat hulle ons daarvoor terugbetaal nie,” het Trump gesê.

Daar was egter Maandag verwarring oor of Amerika uit Irak gaan padgee nadat ’n brief wat oënskynlik van die Amerikaanse weermag kom, aan Irak gestuur is om te bevestig dat Amerika uit Irak sal padgee.

Genl.maj. Kassem Soleimani se lyk is sedert Vrydag deur stede in Iran en Irak geneem. Foto: Reuters

Mark Esper, Amerika se minister van verdediging, het egter omstreeks ’n uur nadat die brief gestuur is, gesê Amerika sal nie uit Irak padgee nie en dat hulle die brief ondersoek.

“Ek weet nie wat die brief is nie. Ons probeer uitpluis waar dit vandaan kom en wat dit behels, maar daar is nie ’n besluit geneem om uit Irak pad te gee nie,” het Esper aan joernaliste gesê. – Reuters


Meer oor:  Kassem Soleimani  |  Amerika  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.