Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
4 lyke op Everest gekry

Vier mense wat Everest probeer klim het, is dood in hul tent by kamp vier, 7 950 m bo seespieël, aangetref, volgens ’n ekspedisieleier.

Dit bring die dodetal van mense wat die wêreld se hoogste piek in die huidige klimseisoen probeer uitklim het op tien te staan.

’n Reddingspan wat die lyk van ’n klimmer van Slowakye wat Sondag op die berg dood is, gaan soek het, het Dinsdag op die ander vier lyke afgekom.

“Ons weet nie wie die klimmers was of hoe hulle dood is nie,” sê Mingma Sherpa, hoof van Seven Summits Trek, ’n agentskap van Katmandoe wat ekspedisies en reddingsoperasies op die berg reël.

Volgens die plaaslike media is dit twee buitelandse klimmers en twee sjerpas (plaaslike gidse). Meer inligting oor wie die mense is, sal mettertyd deur die Nepalese regering bekend gemaak word.

Vier ander mense is die afgelope naweek ook op Everest dood, onder wie Roland Yearwood, ’n Amerikaanse dokter, en Vladimir Strba, ’n Slowaak. Albei is op die 8 848 m-piek dood – ’n gebied wat as die doodsone bekend staan omdat suurstofvlakke daar drasties afneem en die gevaar vir hoogtesiekte aansienlik meer is.

Die lyk van Ravi Kumar (27), ’n Indiese klimmer, is Maandag gekry, twee dae nadat hy die berg uitgeklim het, en niemand weer van hom gehoor het nie.

’n Oostenrykse klimmer is Sondag aan die Tibet-kant van die berg dood.

Die huidige seisoen het ook die lewe van Ueli Steck, legendariese Switserse klimmer, en die 85-jarige Min Bahadur Sherchan, geëis wat dood is toe hy sy titel wou terugkry as die wêreld se oudste persoon wat Everest geklim het.

Meer as 380 klimmers het reeds hierdie seisoen die berg suksesvol van die suidekant geklim en sowat 120 van Tibet se kant af.

In 2016 het 640 mense die berg geklim en vier mense is dood.

Baie, ook twee Suid-Afrikaanse vroue, wag om die laaste deel van die berg te klim voordat die weer vroeg in Junie begin draai en die einde van die kort lenteklimseisoen aandui.

Die Suid-Afrikaners, Wilmien van der Merwe en Saray Khumalo, wat afsonderlik klim, sou die piek na verwagting albei Dinsdag bereik, maar met die gure weer is dit nou onseker presies wanneer hulle van kamp vier sal kan vertrek. – News24

Meer oor:  Nepal  |  4  |  Lyke  |  Gekry  |  Op  |  Everest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.