Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
470 walvisse nou al gestrand
’n Bykomende 200 loodswalvisse is Woensdagoggend op die Australiese eiland Tasmanië gestrand gevind. Foto: AP

Nog 200 loodswalvisse is gestrand in Tasmanië gevind nadat 270 walvisse Maandag ontdek is.

Die bykomende walvisse is Woensdagoggend verder suid van Macquarie Harbour opgespoor.

Wetenskaplikes sê 380 is tot dusver dood.

Drie afsonderlike skole walvisse wat honderde meter uitmekaar was, is Maandag op ’n sandbank in die see by Macquarie Harbour ontdek. Hiervan het 90 gevrek.

Die tweede groep het meestal op strande uitgespoel.

Die walvisstranding, ongeveer 200 km noordwes van die hoofstad, Hobart, is nou die meeste wat nog in Australië aangeteken is en een van die grootstes ter wêreld.

Reddingspogings is sedert Maandag aan die gang om soveel moontlik van die walvisse te red.

Minstens 65 natuurbewaarders, vissermanne en vrywilligers is by die reddingspoging betrokke.

Sowat 50 walvisse is sedert Dinsdag gered, maar amptenare sê van hulle is weer deur die gety teruggebring.

“Ons is baie teleurgesteld dat die getal gestyg het en daar is ook ’n toename in die aantal walvisse wat dood is,” sê Nic Deka, ’n streekbestuurder van Tasmanië se wild- en parkeraad.

Gestrande walvisse kan op die strand by Macquarie Harbour gesien word. Foto: AP

Kris Carlyon, ’n natuurbioloog van die regering se bewaringsagentskap, sê dat hulle nog nie op die punt is waar hulle genadedood vir van die diere oorweeg nie.

“Dit is altyd iets wat ons in ons agterkop hou. Ons is nog steeds baie hoopvol,” sê Carlyon.

Dit bly ’n raaisel wat die walvisse na die vlak water gelok het, maar volgens wetenskaplikes het veral loodswalvisse sterk sosiale bande.

“Dit is beslis ’n belangrike gebeurtenis en baie kommerwekkend as ons soveel walvisse verloor weens strandings,” sê prof. Peter Harrison van die South Cross Universiteit se walvisnavorsingsgroep.

“Daar moet definitief meer belê word in navorsing om hierdie walvisse in Australiese waters te verstaan.”

Tasmanië se vorige grootste strandings was in 1935 toe 294 walvisse hulself gestrand het. Die laaste massa-stranding op die eiland was in 2009 waarby sowat 200 walvisse betrokke was.

Meer as 80% van Australiese walvisstrandings vind in Tasmanië plaas.

In 1996 het 320 loodswalvisse aan die kus van Wes-Australië uitgespoel, in wat destyds die grootste massa-stranding in die land se geskiedenis was.

Ongeveer 600 loodswalvisse het in 2017 ook in Nieu-Seeland gestrand. – Reuters, BBC, ABC News en The Guardian



Meer oor:  Walvisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.