Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
6 miljoen kyk hoe SA vrou oor Hongkong huil, wie is sy?

’n Video van ’n huilende Suid-Afrikaner in Hongkong is al meer as ses miljoen keer gekyk, maar steeds is sy nog nie geïdentifiseer nie.

Elaine Yu, ’n vryskutjoernalis en korrespondent van die nuusagentskap AFP in Hongkong, het die vrou op 11 Augustus haar mening gevra oor die gewelddadige betogings.

Die vrou het in ’n stadium op haar knieë naby die polisie gaan sit met haar hande in die lug.

Die vrou met haar hande omhoog . Foto: Twitter/ Elaine Yu
Die vrou bid skynbaar met die onluste polisie in die agtergrond. Foto: Twitter/ Elaine Yu

Yu het haar daaroor uitgevra en sy het huilend gesê hoewel sy albei kante se standpunt insien, is dit nie die Hongkong wat sy ken nie, en dat sy Suid-Afrika verlaat het juis om van betogings weg te kom.

“Suid-Afrika het dit (betogings). Ek wil nie dit hê nie. Dit is nie die Hongkong wat ek geleer het om lief te hê nie. Almal in Hongkong is so liefdevol en verwelkomend teenoor buitelanders en om die betogings te beleef, maak my seer.

“Ek verstaan waarom hulle betoog. En ek waardeer waaroor hulle betoog, maar dit is nie hoe ons veronderstel is om te wees nie. Ons is veronderstel om saam te baklei, nie teen mekaar nie. Dit is nie die Hongkong waarin ek wil wees nie.”

Die vrou het daarna gesê sy sal eerder teruggaan na Suid-Afrika, want dit is seker waarmee sy sal moet saamleef die volgende paar dae.

Yu het op Twitter geskryf sy het al met minstens sewe mense onderhoude gevoer wat begin huil het tydens betogings deur te sê hoe lief hulle die plek het en hoekom hulle daarvoor baklei.

“Maar dit is die eerste keer dat ek ’n wit vrou sien huil wat die betogings op straat aanskou,” het Yu op Twitter gesê.

Yu het by navraag aan Netwerk24 gesê sy het geen idee wie die vrou is nie, want sy het onderhoude met verskeie mense gevoer en moes padgee toe die polisie nader kom en hulle verjaag.

Twitter-gebruikers vaar behoorlik uit teenoor haar omdat sy ’n bevoorregte is met geen begrip waaroor die betogings gaan nie.

Ene VelempiniN sê die vrou wil seker die Hongkong-bestuurder sien omdat dit nie die produk is wat sy gekoop het nie.

Nie eers Twitter-gebruikers wat daarop roem dat hulle mense gou kan identifiseer nie kon met die vrou se naam vorendag kom nie.

* Ken jy die huilende Suid-Afrikaner? Kontak Netwerk24 by: nuus@netwerk24.com

Waaroor gaan die betogings?

Die betogings in Hongkong het sowat 10 weke gelede begin, toe meer as ’n miljoen mense teen ’n voorgestelde uitleweringswet begin betoog het. Die wet behels dat misdadigers in Hongkong aan China uitgelewer kan word.

Die wetsontwerp is intussen onttrek, maar die betogings het uitgebrei en daar is nou al eise vir ’n onafhanklike demokrasie in Hongkong en dat Carrie Lam, leier van Hongkong, moet bedank.

Al wat die meeste betogers egter vra, is dat die ooreenkoms van 1997 met Brittanje van “een staat, twee stelsels” nagekom word. Daar word egter reeds gepraat van “een staat en een en ’n halwe stelsel” weens die “stille” oorname van China.

’n Regeringswoordvoerder in China het reeds na die betogings as “terrorisme” verwys.

Alle vlugte was Maandag en Dinsdag opgeskort, maar die lughawe het Woensdag begin om vlugte wat gekanselleer is te herskeduleer, berig Reuters.

Minstens 30 betogers was Woensdagoggend nog by die lughawe. – Reuters

Meer oor:  Betogings  |  Hongkong  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.