Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
6 van 8 lyke op Witeiland gevind

’n Span van die Nieu-Seelandse weermag het Vrydag ses van die vermiste agt mense se lyke op Witeiland, waar ’n vulkaan Maandag uitgebars het, gevind in ’n vier uur lange operasie.

Die span van die bomopruimingseenheid is per helikopter na die eiland, waarna hulle vier uur lank na die lyke gesoek het, terwyl die slagoffers se naasbestaandes op die vasteland gewag het.

Die span is na die eiland te midde van die voordurende gevaar en waarskuwings deur kenners dat daar ’n 50%- tot 60%-kans is dat die vulkaan weer enige tyd kan uitbars.

Die Nieu-Seelandse polisie het bevestig dat ses van die agt vermiste mense se lyke gevind is. Die lyke is op ’n vlootpatrollieboot gesit en na die vasteland geneem waar hulle uitgeken gaan word.

Die span kon nie die ander twee lyke opspoor nie omdat hul swaar beskermingsdrag- en toerusting hulle stadiger laat werk.

Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se premier, het egter beklemtoon al die lyke sal gehaal word.

“Dit was ’n verskriklike moeilike operasie, maar dit is ’n prioriteit. Ons wil net die geliefdes terugbring huis toe,” het Ardern Vrydag gesê.

Mike Bush, polisiewoordvoerder, sê duikspanne soek ook in die see om die eiland, terwyl hulle later Vrydag weer beeldmateriaal van die eiland uit die lug sal neem.

“Dit is nog lank nie verby nie,” het Bush aan verslaggewers gesê, terwyl minstens 100 familielede en gemeenskapslede saam gebid en gesing het, en toegekyk hoe helikopters na en van die eiland vlieg.

Daar was talle toergroepe op die eiland tydens Maandag se uitbarsting. Daar was altesaam 47 mense uit lande soos Australië, Amerika, Duitsland, China, Brittanje en Maleisië.

Die amptelike dodetal staan tans op agt omdat die lyke van die mense wat op die eiland was, nog nie bygetel word nie.

Dié lyke sal eers by die dodetal gevoeg word wanneer almal amptelik geïdentifiseer kan word.

Talle mense is beseer, van wie die meeste nog in ’n ernstige toestand verkeer. – Reuters

Die span van agt kon net ses van die agt lyke opspoor. Hulle was vir vier uur op die eiland. Foto: Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.