Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
herrie oor Ashleymadison-webwerf
‘Bely eerder as jy dalk ontrou was’
Terapeute het egter hoop vir paartjies
’n Skermgreep van die gewilde webwerf AshleyMadison.com, wat nou deur kuberkrakers gedreig word.Foto: skermgreep | ashleymadison.com
Janet Winterbourne, ’n Kaapstadse berader.
Dr. Marelize Swart, ’n sielkundige en seksterapeut.

KAAPSTAD. – Ontrouheid in ’n huwelik kan ’n verwoestende impak op ’n gesin hê, maar paartjies kan dit oorkom, het beraders Donderdag gesê te midde van ’n herrie rondom die webwerf AshleyMadison.com.

“Ek glo aan die eerlike benadering en dat iemand dit op die regte wyse aan sy of haar eggenoot moet bekend maak as hy of sy ontrou was,” het Janet Winterbourne, ’n huweliks- en verhoudingsberader van Kaapstad, gesê.

Die impak van ontrouheid in ’n verhouding of huwelik het dié week opnuut onder die vergrootglas gekom nadat kuberkrakers gedreig het om al die inligting van lede van die webwerf AshleyMadison bekend te maak.

Teen druktyd is berig dat die besonderhede, onder meer fantasieë, van ’n inwoner van Massachusetts, bekend gemaak is as ’n voorbeeld van die inligting waartoe die krakers toegang verkry het.

Dié gewilde webwerf is gemik op getroudes op soek na ’n skelmpie en het na bewering nagenoeg 37 miljoen kliënte wêreldwyd.

Die kuberkrakers, wat hulself The Impact Team noem, eis dat die webwerf verwyder moet word.

Volgens Winterbourne is dit beter om die belydenis self aan jou eggenoot te maak, eerder as dat hy of sy dit op ’n ander plek uitvind.

“Jy moet die regte omgewing skep en die gesprek tussen jou en jou maat moet in ’n private plek gevoer word. Jy moet verduidelik dat jy iets belangriks wil bely en dat dit nie iets is waarop jy trots is nie,” het Winterbourne verduidelik.

Dr. Marelize Swart, ’n sielkundige en seksterapeut met kantore in Claremont en Somerset-Wes, glo weer dat mense baie mooi en versigtig daaroor moet nadink as hulle ’n buite-egtelike verhouding wil bely.

“Jy moet jouself afvra wat die rede vir die belydenis is, wat die moontlike gevolge kan wees, en watter ander mense, soos kinders, familie en vriende, daardeur beïnvloed gaan word.”

As die ontrouheid baie lank gelede gebeur het, of as dit ’n sinlose eenmalige geval was, moet die ontroue party mooi nadink of ’n belydenis die verhouding gelukkiger sal maak.

“In so ’n geval is ’n belydenis voor ’n terapeut of priester dalk beter. As dit ’n langtermyn- buite-egtelike verhouding is wat dalk steeds aan die gang is, sal dit die beste vir jou verhouding wees om dit te bely en hulp as ’n paartjie te kry.”

Volgens Winterbourne is ontrouheid in ’n huwelik baie traumaties en kan dit ’n gesin uitmekaar ruk. “Almal reageer anders en herstel op verskillende maniere.”

Daar is egter hoop vir ’n paartjie om aan te beweeg.

“Dit hang alles af van hoe sterk jou verhouding is en of albei wil aanbeweeg,” het Winterbourne gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.