Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Britse verkiesing: Skokuitslae laat 3 bedank
Premier David Cameron verlaat die Buckingham-paleis nadat koningin Elizabeth II sy tweede termyn as premier bevestig het. Foto: Peter Macdiarmid, Getty
Nigel Farage
Nick Clegg
Ed Miliband
David Cameron

Die Konserwatiewe Party (Tories) het op ’n dag van hoogdrama in Brittanje onverwags ’n algehele meerderheid in die verkiesing behaal, vir die eerste keer sedert 1992.

David Cameron is nou druk besig met voorbereidings om sy eerste regering saam te stel wat uitsluitlik uit Tories bestaan.

Die verrassende uitslag het ook vir die eerste keer in die Britse geskiedenis die koppe van drie opposisieleiers op een dag geëis: dié van Ed Miliband (Arbeidersparty), Nick Clegg (Liberale Demokrate – Lib-Dems) en Nigel Farage (United Kingdom Independence Party – Ukip).

Al drie het Vrydag hul bedanking aangekondig.

Cameron en sy vrou, Samantha, is Vrydagmiddag na die ­Buckingham-paleis op uitnodiging van koningin Elizabeth II.

Dit is die eerste meerderheidsoorwinning wat die Tories behaal sedert John Major se verrassende oorwinning in 1992.

Die Tories het 331 parlementêre setels gewen, vyf meer as die 326 wat vereis word vir ’n algehele meerderheid.

Die Arbeidersparty het met 232 setels slegter gevaar as in 2010.

In die string meningspeilings vooraf was die Tories en Arbeiders kop-aan-kop en was ’n grondwetlike dooie punt amper ’n uitgemaakte saak. (Die Britse owerhede gaan ondersoek hierna doen.)

Cameron se posisie beteken dat hy in groter mate kan staatmaak op sy parlementslede as toe die Konserwatiewes in hy ’n koalisieregering met die Lib-Dems was.

Cameron het Vrydag gesê hy sal na alle dele van die Verenigde Koninkryk uitreik om die land saam te bring, veral in ag genome die Skotse Nasionale Party (SNP) se wegholoorwinning in Skotland.

Dit SNP het 56 van die 59 setels daar verower.

Op lang termyn is dit onseker of Brittanje in die Europese Unie (EU) sal bly, of selfs ’n verenigde land sal bly in die lig daarvan dat die Skotse separatiste skoonskip in Skotland gemaak het en die Cameron se belofte van ’n referendum oor Brittanje se EU-lidmaatskap.

Cameron het toe wel die verkiesingsgolf gery met sy aanspraak dat hy die land van ’n ekonomiese krisis gered het en van hom een van die snels groeiende groot ekonomieë gemaak het.

Roland Henwood, ’n lektor in politieke studie van die Universiteit van Pretoria, het gesê Cameron se oorwinning sal nie die diplomatieke bande tussen Brittanje en Suid-Afrika beïnvloed nie.

Die bande was uit ’n historiese oogpunt nog altyd baie belangrik vir albei, maar Brittanje se belangrikste buitelandse fokus is tans of hy nog deel van die EU moet bly, terwyl Suid-Afrika meer fokus op sy verhoudinge met Afrika en Brics-lande. – Saamgestel uit The Guardian, BBC, Sky News en Reuters

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.