Dit was die eerste keer dat Egipte lugaanvalle teen dié groep in
Libië bevestig het en dui daarop dat pres. Abdel Fattah al-Sisi gereed is om die
stryd teen Islamitiese militante buite die grense van Egipte voort te sit.
Egipte het gesê die aanvalle teen ligdag, waaraan die Libiese
lugmag ook deelgeneem het, het IS-kampe, opleidingsterreine en wapenopslagplekke
in Libië getref.
’n Libiese lugmagbevelvoerder, Saqer al-Joroushi, het gesê tussen
40 en 50 militante is in die aanval dood. Hy het gesê verdere aanvalle sou
gister en vandag saam met Egipte uitgevoer word.
Die 21 Egiptiese Koptiese Christene, wat in Libië was op soek na
werk, is na ’n strand gemarsjeer, gedwing om te kniel en toe onthoof.
Die video-opname van die daad is uitgesaai op ’n webwerf wat die IS
ondersteun.
Voor die moorde uitgevoer is, het een van die militante met ’n mes
in sy hand gesê: “Veiligheid vir jul kruisvaarders is iets waarop julle net kan
hoop.”
Pous Tawadros ll, leier van Egipte se Koptiese Christene, was een
van die openbare figure wat pres. Sisi ondersteun het toe hy as hoof van die
weermag die Islamitiese pres. Mohammed Moersi in 2013 ná protesoptogte uit die
kussings gelig het.
Die onthoofdings kan druk op Sisi plaas om te wys dat hy in beheer
van Egipte se veiligheidsituasie is, selfs al het hy reeds vordering gemaak teen
Islamitiese militante in die Sinai.
Sisi, wat ’n beroep gedoen het op ’n wêreldwye poging om militante
te elimineer, beskou militante groepe in Libië as ’n reuse-bedreiging vir Egipte
se veiligheid.
Kommer dat die krisis in Libië oor grense heen kan spoel, het
Egipte genoodsaak om sy militêre gereedheid op te skerp.
Frankryk het aangekondig dat Egipte 24 Rafale-vegvliegtuie, ’n
fregat en ander toerusting sal aankoop ingevolge ’n ooreenkoms wat gister in
Kaïro onderteken sou word.
Pres. François Hollande van Frankryk het gister gesê hy en Sisi wil
hê dat die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies Libië moet bespreek en nuwe
maatreëls teen die IS instel.
Egipte, die Arabiese wêreld se digsbevolkte nasie, het nog nie
regstreeks deelgeneem aan aanvalle teen IS-vestings in Irak en Sirië onder
leiding van die VSA nie.
Volgens sekerheidsamptenare het militante in Libië kontak gemaak
met ’n groep in Egipte se Sinaï-streek wat trou aan die IS gesweer het.
– Reuters
■ Biskop Antonius Markos van die St. Mark Kopties-Ortodokse-katedraal
en -sentrum in Johannesburg het aan Alet
Janse van Rensburg gesê vir Koptiese Christene reg oor die wêreld is dié
soort vervolging niks vreemds nie.
“Sedert die ontstaan van die Koptiese Kerk
2 000 jaar gelede word ons deur terroriste geteiken,” het hy gesê.
“Ons bly
egter getrou en die 21 mans wat die naweek moes sterf, het die hemel as
martelaars ingegaan. Op daardie aaklige video kan jy sien hoe hulle tot aan die
einde geprewel het, ‘My Here, Jesus’. Dit is ’n getuienis van hul liefde en
toewyding aan God.”
Daar is sowat 800 Koptiese Christene in
Suid-Afrika. Met hul Vastyd wat gister begin het, sal hulle die volgende 40 dae
in die besonder vir die afgestorwe mans en vervolgde Christene bid en vas, het
Markos gesê.