Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Germanwings: Vlieënier het vliegtuig glo doelbewus laat val
Reddingswerkers op die toneel waar die vliegtuig neergestort het. Foto: Reuters

Die neerstort van die Germanwings-vliegtuig van Lufthansa is heel moontlik doelbewus deur een van die vlieëniers beplan.

Dit is die vermoede van Franse lugvaartkenners wat die Airbus A320-vlugramp ondersoek. Hulle vermoed dat die vlieënier in beheer van die kontroles besluit het om die vliegtuig afwaarts te laat daal totdat dit 11 minute later teen die Franse Alpe vasgevlieg het.

- Lees ook: Vliegongeluk-kenner: 2 bemanningslede moet altyd in kajuit wees

Dié skoknuus volg op inligting dat een van die twee vlieëniers uit die vliegkajuit gesluit was. Volgens kenners kan dit net daarop dui dat die vlieënier in die stuurkajuit siek geword het, of besluit het om sy eie lewe te neem.

Siekte is egter heel moontlik nie die oorsaak nie omdat die vliegtuig doelbewus na ’n afwaartse vlugplan oorgeskakel is. Dit kan net deur ’n vlieënier gedoen word.

Een van die kenners het gesê dat dit glad nie sou sin maak om reguit teen die berge vas te vlieg nie. Dit kan net gebeur as jy presies weet wat jy besig is om te doen of as jy nie in staat is om die situasie te beredder nie.

Nog iets wat die selfdoodteorie bevestig, is dat ’n mens op die vlugopnemer kan hoor hoe die een vlieënier die kajuit verlaat en die deur toemaak. Die vlieënier sou egter ’n kode gehad het om weer die kajuitdeur te kon oopmaak. Die enigste persoon wat die kode sou kon deaktiveer, was die vlieënier wat aan die stuur van die kontroles was.

Volgens ’n ervare Franse vlieënier, Nicolas Redier, het die vlieënier 30 sekondes om die kode te blokkeer wanneer dit ingetik word. As die vlieënier siek was, sou hy dit nie kon doen nie en die deur sou outomaties geopen het.

’n Ander vlieënier het egter aan Le Figaro gesê die kaptein het moontlik die stuurkajuit verlaat om badkamer toe te gaan. Die vliegtuig kon in daardie stadium ’n skielike verlies in kajuitdruk ervaar het wat die vlieënier aan die stuur sy bewussyn laat verloor het. Dit kon die kajuitdeur beskadig het sodat dit nie kon oopmaak nie.

Dit verduidelik egter nie wie die vliegtuig in ’n beheerde dalingspatroon geplaas het nie.

- Bronne: AFP, The Independent, Le Figaro.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.